UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (24)

Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog

Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas.

Vindingrykheid in die veld

Mev. C.J. Prinsloo

Mev. Prinsloo se man was in Januarie 1901 krygsgevangene en sy, haar sewe kinders en suster, mej. Kitly Wessels, het op die plaas Morgenzon naby Bultfontein gewoon. Op 'n oggend het 'n Britse kolonne oor die plaas getrek en het vier soldate hulle in kennis gestel dat hulle die volgende dag na die konsentrasiekamp geneem sou word. Hoewel daar Engelse wagte op die plaas was, het hulle 'n plan gemaak om weg te kom.

Laat die middag besluit my suster en ek om na my skoonvader, Michal Prinsloo, vier myl van Morgenzon te gaan. Ons stuur toe die kinders vooruit met die kinderoppasser. Hulle moes maak asof hulle speel en altyd aanloop. My suster en ek sit voor die deur en maak of ons lees en naaldwerk doen. Die Engelse wagte is tussen ons en my skoonvader. Later gaan ons toe loop sommer sonder kappies - dit was toe nog nie die mode om kaalkop te loop nie. Ons plan was om die aand daar te slaap en die anderdagmôre vroeg terug te kom.

Toe ons my skoonvader alles vertel het, besluit hy en my swaer dat ons liewer moet vlug na Vetrivier se kant toe.

Ek was maar te gewillig, want ons vee was op ’n plaas in daardie rigting. Maar ons het niks by ons nie - net die klere wat ons aangehad het. Ek vra hulle toe om te wag, dan gaan ek weer by die wagte verby om klere vir die kinders te gaan haal.

My suster en ek loop die vier myl terug en neem twee swart vroue saam om die goed te dra. Toe ek wou loop, gee ek ’n sakkie met silwergeld wat te swaar was om te dra, aan my dogtertjie en sê sy moet dit oppas. Sy het dit weer aan haar ouma gegee.

Dit het die aand so ’n bietjie gereën en ons loop nie met die pad nie maar so stil moontlik sommer deur die veld. Daar was so’n gedruis en geraas in die kamp naby die dorp - ek dink dit was die rede dat die wagte ons nie gehoor het nie. Toe ons in die huis kom, slaan die huisklok net twaalfuur. Ons moes komberse voor die venster hang en pak toe die goed in wat ons dink baie nodig is. Ek pak ’n groot rottangmandjie en my suster ’n reistas, en ons jaag ook die melkkoeie aan wat ek in die kraal gehad het.

Toe ons omstreeks twee-uur die môre weer by my skoonvader kom, was die wa met die kinders en oumense al weg. Daar het darem ’n kar vir ons gewag. Ons het die wa gou gekry, en het die nag ’n groot draai gery om die Engelse te ontvlug. Ons kom die môre met sonop op ons onderste plaas, Sandheuwel, aan en voel baie gelukkig: ons is by die vee en het die vyand ontvlug.

Die volgende dag kom sê ’n swart man wat ek gestuur het om ons perde te gaan haal dat die Kakies kom. “Die bulte is vol.” Toe span almal in om te vlug en ek het geen perde nie. Almal is baie haastig. Ek was radeloos. Eindelik kry ek van een van die plaaswerkers ’n jong perdjie en ’n merrie om in te span. Ek sal hulle name nooit vergeet nie: Nelson en Nel. Ons span so gou as moontlik in. Ek en my suster en sewe kinders is in die groot kapkar met die ou swak perdjies.

Ons sit al ons goed op die wa. Ek wou my kinders nie op die wa laat ry nie - ek was bang dat die Engelse die wa sou vat, wat ook gebeur het. Dit is baie sanderig en ons kar bly teen ’n bultjie staan. Ek slaan so wat ek kan, maar die perde wou, of liewer, kon nie trek nie. Ek laat almal afklim en dryf hulle daar uit. Toe was dit afdraand en gaan dit weer beter. Ek jaag ook die waens verby.

Die vyand het die waens met al ons goed gekry - ook die klere wat ons die aand gaan haal het en die sakkie geld wat ek aan my dogtertjie gegee het. Ons vee is alles geneem - vier duisend stuks. ’n Troue ou swart werker het een trop skape in ’n baie diep pan gejaag, maar ongelukkig kom hulle op hom af.

Die aand was die kinders baie honger, want ons het van die oggend af nog niks geëet nie. Gelukkig kom ons by die wa van ’n swaer en daar is mielies op die wa. Hulle kook toe vir ons kaboemielies. Ons was aan die eet, toe kom die berig dat die vyand aankom. Ons het die hele nag deur gevlug, net so ’n bietjie uitgespan. Ek het geen kombers gehad nie, net ’n groot badhanddoek wat toevallig in die kar was. Dit was somer, maar tog koud. My jongste seuntjie was net ’n paar dae gespeen.

Die anderdagmôre kom ons op die plaas Hartenbosch by die familie van Rensburg. Hulle was tog so vriendelik. Hulle het dadelik vir ons ’n skaap geslag en ’n emmer melk gebring. Toe kon ons braai en lekker eet. Potte het ons nie gehad nie, ook geen koppie, mes of vurk nie.

Dit was die begin van die vlugtery, wat baie lank aangehou het, want ek het buite gebly tot die bitter einde toe.

Nadat ons goed afgeneem is, het die moeilikheid met die klere begin. Daar was gelukkig nog mense wat nie alles verloor het nie. Een vriendin het my ’n dubbelbedlaken gegee. Daarvan het ek vir my twee klein dogtertjies rokkies gemaak en dit gekleur met doringboombas; sodat dit soos kasjmier gelyk het. Seunsklere was nog skaarser. Ek het vir een seuntjie ’n pragtige pakkie klere gemaak van ’n voering van ’n ou jas, vir ’n ander een weer ’n pakkie van ’n bruin kombersie.

Daar was ’n vriend wat uitgejaag het - ek bedoel gevlug het met ’n klompie seuns van vriende van hom. Hy het dit baie moeilik gehad om hulle geklee te hou. Hy het ’n seiltjie gehad wat hy graag wou laat verwerk vir klere vir die seuns. Ek het aangebied om dit te maak. Ons het ses pakke seilklere met ons hande gemaak. Ek het so suinig moontlik gesny sodat ek vir my een seun ook ’n pakkie gemaak het. Ek het dit toe uitgekook en was ek tog nie trots op die pak klere nie! Maar hy moes met sy arms ver van sy lyf stap, want seil is mos styf en hard.

Gare het ons nie gehad nie. Ons moes met seildrade werk. Die mense wat ’n stukkie seil gehad het, is as “heeltemal welaf” beskou. Seep was ook ’n baie skaars artikel; vet was volop, maar daar was geen loog of seepsoda nie. Ons het toe ’n sekere bossie gebrand. Ons trek dit bedags uit en brand dit saans, maak die as bymekaar en kook loog vir seep. As dit nie genoeg is nie, brand ons maar weer, tot die seep goed is. Na verloop van veertien dae was my seep klaar en pragtig mooi. Sout was ook soms skaars.

Ons was die meeste van die tyd aan die Vetrivier. Wanneer dit gereën het, was die water baie troebel. Ons moes dit dan eers laat afsak voordat ons kon was. Skottels en baddens was baie skaars. Op ’n dag gaan ons weer was. My dogtertjie staan bo-op die wal en stamp die skotteltjie wasgoed per ongeluk die wal af ... en daar gaan al ons klere! Sy hardloop met ’n stok en na veel gesukkel kry ons dit weer uit.. Toe was alles geweek in die vuil modderwater.

Die aand voor Kersfees kom ons op Hoopstad aan en span daar uit. Daar was geen mens nie net ’n klomp hongerige honde wat aanhou met blaf. Die kinders loop die hele dorp deur en vertel van alles wat hulle gesien het. Een klein seuntjie stap reguit kerk toe. Ek was bang ek sou die kinders verloor, en so ’n verlate dorp is nog baie eensamer as die veld.

Ek het maar weer ingespan en ons het deur die rivier gery en daar geslaap. Naby die dorp was waens uitgespan waar ons vuur gekry het. Op Kersfeesmôre 1901 om tienuur kom ons by my suster aan. Ons het toe darem ’n lekker maaltyd berei, onder meer ’n kalkoen.

Ons het drie maande by Gruisdrif gestaan, waar ons dit vir ons ’n bietjie gerieflik gemaak het. Onder ’n kar met ’n seil oor was ons “spaarkamer”. In die winter was dit bitter koud vir die kinders sonder skoene en kouse. Ons het bokwol en skaapwol gespin met ’n baie eenvoudige apparaat wat ons self gemaak het, van gladde draad breinaalde gemaak en kouse gebrei. Ek het ook so tussenin velle gelooi en self skoene gemaak met ’n tafelmes. Ek het altyd gesê die eerste ding wat ek koop as dit vrede is, is ’n knipmes.

Vleis was hier gelukkig volop, ook mielies en sorghum, wat ons met ’n koffiemeul gemaal het vir pap. Melk het ons ook altyd gehad. Ons was ongetwyfeld beter daaraan toe as die mense in die kampe.

Die Huisgenoot, 25 Februarie 1938.