Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die filosoof Francis Bacon skryf dat om oud te word aan vier dinge gekenmerk word. Jy het ou hout om te verbrand, ou wyn om te drink, ou vriende om mee te gesels en ou boeke om te lees – nie noodwendig sleg nie...
WARE KWINKSLAE (15)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
J.F. Naude, Vechten en vluchten van Beyers en Kemp;
Teen tienuur die aand het ons afgesaal en ons perde in 'n sirkel gespan ten einde 'n bietjie te kan slaap. Van die kêrels het egter nie hulle perde in die sirkel vasgemaak nie, maar aan hulle voete. So het Joe Andrews dan ook met sy ou perd Boesman gemaak. Boesman het later rustig begin wei, en hy trek natuurlik in die proses die riem styf. Joe wat teen die tyd heerlik gelê en slaap het, skrik so groot dat hy die kombers van hom afgooi. Boesman skrik op sy beurt so groot vir die skielike gevaarte wat deur die lug trek dat hy verskrik aan die hardloop gaan. Daar hang Joe nou in 'n onnatuurlike posisie met sy regtervoet in die lug, waarvoor Boesman natuurlik nog groter skrik.
Terwyl Boesman desperaat probeer wegkom van die gevaarte wat hy saamsleep, spartel Joe om Boesman te stop. Hy gryp desperaat na elke pol gras, letterlik met hand en tand, terwyl hy benoud gil: "Hô! Boesman! Hô! Nou! So, Boesman!"Boesman was egter nie gewoond dat sy baas in dié posisie agter hom aankom nie en verder kom sy stem dan van die grond af; gevolglik steur hy hom nie aan sy baas se desperate krete nie.
Teen dié tyd het die lawaai almal wakker gemaak. Toe Joe angstig begin roep: "Help, kêrels! Help!" storm hulle op hom af. Party praat hom moed in en ander gee raad: "Broer Wolf! Broer Joe, slaan ysterklou in die grond!!"
Een van die manne het intussen vir Boesman in die hande gekry, terwyl 'n ander die arme Joe vasgegryp het, terwyl 'n derde daarin geslaag het om die riem los te sny. Dit was ook inderdaad die laaste keer wat Joe sy perd so vasgemaak het.
H.C. Hopkins, Maar een soos hy, p. 53
Op 'n baie donker aand word die wagte uitgesit en die laer kom tot rus. Meteens kom die alarm — almal moet opstaan en na Harrismith voorttrek. Wat 'n deurmekaar spul gee dit af om elkeen sy eie perd in die hande te kry! 'n Ou vriend van my soek syne wat 'n groot bles het. Hy loop, nog so half deur die slaap, teen 'n man vas en diep onder die indruk dat dit sy perd is, begin hy dan ook met sy "perd" gesels.
"Ek is g'n perd nie!" kom dit met verontwaardiging uit die nagdonkerte, en erg verleë antwoord my ou vriend: "O, jy is nie 'n perd nie?"
J.F. Naude, Vechten en vluchten van Beyers en Kemp:
Veldkomet Van Emmenis stuur sy neef, S. van Emmenis, assistent- veldkornet, 'n man sonder vrees, na Nylstroom om te hendsop, wat hy baie graag doen sodat hy daardeur dalk die kommando's kan bevoordeel. Hy laat sy geweer agter, neem een van die swakste perde en gaan na die vyand toe wat hom in die burgerkamp by Nylstroom plaas.
Die oggend sien hy voor die kampkantoor 'n tommie wat die perd van die dorpskommandant staan en vashou. Die kommandant sit in die kantoor voor die venster. Van Emmenis knoop in sy gebrekkige Engels 'n gesprek met die tommie aan oor die mooi perd. Hy vra die tommie of hy nie dalk die perd so 'n entjie kan ry nie.
"Oh no, you can't," sê die tommie, "this is the commandant's horse."
"Oh, commandant's. He not mind." En met die woorde neem hy die teuels uit die hand van die tommie, gooi dit oor die kop van die perd en spring in die saal.
Hy ry so 'n entjie in die pad af, keer terug en toe hy by die tommie verbykom, roep hy uit: "Good horse! I keep." En met dié woorde lig hy ewe beleefd sy hoed vir die tommie en die kommandant voor die venster, en galop voor die verbaasde Engelse uit die kamp uit terug kommando toe!
Hendrik Scholtz, 'n Penkop op kommando, p. 62:
Ná die val van die twee hoofstede was daar van die burgers wat baie moedeloos was maar nie al die burgers het hierdie neerslagtigheid gedeel nie. By die eerste afsaalplek van die kommando van kommandant Tollie de Beer ná die lang tog uit Wes-Transvaal, wat vir baie nou nutteloos gelyk het, het die kommandant by sy saal gesit en ook maar redelik neerslagtig gelyk toe daar skielik 'n ou oom wat bekend was vir sy talle klagtes by hom opdaag.
"More, Kommandant."
"More."
"Kommandant, ek het 'n klagte."
"Wat is dit nou weer?"
"Kommandant, hulle het verlede nag 'n halterriem van my gesteel."
" Aag, man, loop met jou nonsies. Wat is 'n halterriem nou?"
"Ja, Kommandant... maar Kommandant sien, dis nie eintlik die riem waaroor ek kom kla nie. Daar was 'n ou wit muil aan die riem en dié het hulle ook nou saam, en dis eintlik oor die ou wit muil wat ek nou kom kla het!"
Die dagboek van Hugo H. van Niekerk, De Wet-annale 1, p. 65:
Op 'n keer kampeer die Ventersburgers en Winburgers naby mekaar. Daardie nag word daar vals alarm gemaak. Verskrik spring elkeen uit 'n diep slaap en storm om hulle perde te vang. Een Ventersburger, meer deur die slaap as die ander, kom op 'n bruin, bles perd af, wat met sy gesig na hom toe staan.
Nog geheel en al verskrik en bowendien nog half deur die slaap ook vra hy aan die perd: "Aan watter mense behoort jy?"
Geen antwoord.
Hy vra weer 'n keer: "Dooie klip, aan watter mense behoort jy?"
Na die "dooie klip" 'n tweede keer nie antwoord nie, kom hy eers agter dat hy met 'n perd praat wat nie die gawes van Bileam se esel het nie!
J.F. van Wyk, Die Mauser knal, p. 55:
Ek het langs oom Gert Steyn gejaag en na hom geskree om Hendrik te volg. 'n Bom het vlak voor ons perde gebars. Ek was uit my saal. Gelukkig het ek die maanhare in die hande gekry en myself weer daaraan opgetrek. Toe die tweede sarsie bomme bars, was ek veilig by Hendrik.
Oom Gert het ook van sy perd afgeval. Verdwaas het hy stadig aangestap gekom met die hoed in die een hand. Met die ander het hy sy kop vasgehou, terwyl bomme rondom hom bars. Sy perd het sowat veertig tree verder al in die rondte gedraai, want sy het oor die teuels getrap. Ons het gefluit en geskree om sy aandag te trek. Hy het ons naderhand gehoor en vinnig aangestap gekom. Van die val was hy skoon bedwelm. Ons was onder die indruk dat hy gewond is, maar tot ons verbasing het hy geen skrapie opgedoen nie, alhoewel hy rooi van die stof was. Hendrik vra toe vir hom: "Waarom het Oom dan nie die perd gevang en uitgejaag of hierheen gekom nie?"
"Ek het haar nie gesien nie!" het hy geantwoord. Dit was asof die oubaas toe eers besef het dat hy sonder sy perd was.
"Waar is my perd?" Toe hy sy perd tussen die ontploffende bomme sien, het hy huilerig gesê: "My perd! My perd! Gaan haal haar tog, asseblief!"
Ek het hom regtig jammer gekry en wou dit ook doen. Hendrik het my laat verstaan dat elke man vir sy eie perd verantwoordelik was. Oom Gert het geen aanstoot of notisie geneem nie. Hy het Hendrik gesoebat om sy perd te gaan haal en naderhand selfs sy plaas en dogters belowe aan die een wat dit sou waag. Jan Botes het toe daarin geslaag om sy perd in die hande te kry. Op bevel van Hendrik het ons ons perde bestyg. Ons het inderhaas deur die opening gejaag. Die bomme het geknal, maar ons was deur.
Agter die bult het die klomp een na die ander van hulle ontkomings vertel — ook oom Gert se verhaal het almal aangehoor. Die plaery was vir die ou man te veel. Hy het op sy perd geklim en op 'n drafstap in die rigting van die laer gery. Dit was op een na die laaste keer wat die Engelse die eer gehad het om oom Gert onder die bomme te kry.
Vervolg...