WARE KWINKSLAE (9)

Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902

Samesteller: Elria Wessels

Lees reeks by Ware kwinkslae

Oorlogsondervindinge van Christoffel Cornelius Pienaar A119.1247.17, Renier-versameling:

Hier by Kransfontein aan die Oranjerivier het oom Willie de Swardt amper verdrink. Hy het so baie water ingekry dat toe ons hom teen die Vrystaatse wal met die kop na onder neergesit het, die water sommer ‘n straal by sy mond uitgeloop het. Maar toe hy bygekom het, was die eerste ding wat hy gevra het: "Gee tog bietjie water, asseblief!"

Oorlogsondervinding van C.J.P. Schoeman:

Hennie Kruger en Flip Minnaar het tydens 'n slag tussen Bloem­fontein en Brandfort albei agter een klip gelê. Wanneer die koeël by HennieI verbygevlieg het, het hy aan Flip gestoot en gesê: "Nee, jong, lê soontoe, netnou skiet die Engelse my dood."

Wanneer die koeël weer langs Flip verbygetrek het, het hy op sy beurt weer vir Hennie weggedruk met die woorde: "Maggies, man, lê soontoe, netnou skiet hulle my dood en dan is ek vir ewig vir jou kwaad!"

Oorlogsondervindinge van B.J. van Niekerk soos vertel aan H.N. Conradie, Renier-versameling:

Die perdekommando word beveel om te trek tot by 'n kloof diep in die berge. Daar moet hulle die nag slaap met die teuels in hulle arms. Omtrent twee-uur die oggend spring 'n burger op en skree: "Waar moet ek skiet, waar moet ek skiet?" Hiervoor moet hy drie keer saal dra om die kamp!

Ook hierdie staaltjie uit bogenoemde bron:

Gedurende die slag van Nicholsonsnek verdwaal Bennie. Die Engelse verras hulle die nag en trek amper tussen hulle in. Daar is groot verwarring en Bennie beland tussen die Engelse sonder om eintlik te weet waar hy homself bevind. Hy roep ewe benoud uit: "Julie skiet ons eie mense!"

Wilhelm Mangold, Vir Vaderland, Vryheid en Eer, pp. 107-108:

Die oggend van 10 Februarie 1900 het kommandant Spruyt ons kom inspekteer. Na afloop van die parade was ons besig met die gebruiklike aktiwiteite van kook, vuurmaak en eet. Skielik het iemand uitgeroep: "Kêrels, kom, hulle het ons kommandant buitgemaak!" Nie ver van ons af nie het ons gesien hoe 'n klomp manne met gejuig en lawaai ons kommandant ontvoer. Dit was die veldkornetskap van Org Meyer wat hom na hulle laer weggedra het. Oom Org se adjudant het ons kommandant gevra of hy 'n oomblik na buite sou kom, aangesien hy 'n private aangeleentheid met hom wou bespreek. Toe hy hom ver genoeg weggelei het, het hy hom onverhoeds vasgehou en geskree: "Versterkings!", waarop nog vier man op hom toegesak het en nog 'n verdere honderd nader gestorm het om die "gruweldaad" te pleeg. Laasgenoemdes het ons verhinder om hom te bevry. Terwyl dit alles aan die gang was, het 'n tweede groep Orgiete ook oom Dolf se laer binnegeval met die doel om ook hulle veldkomet te ontvoer. Die heer het egter in sy perdekar weggekruip en kon nie daar uitgehaal word nie. Toe neem hulle hom met rytuig en al! Die Dolfiete (R.C. Spruyt se veldkornetskap) het hard probeer om hulle veldkornet te bevry, maar kon nie daarin slaag nie en so het hy ook "krygsgevangene" geword!

Wilhelm Mangold, Vir Vaderland, Vryheid en Eer, p. 162:

Tot op Smaldeel was die reis ook heel plesierig. Oral waar ons stilgehou het, is groot getalle vrouens en meisies langs die spoor gegroet met die woorde: "Hier waai die wind!" Op een stasie het 'n besonder groot en gesette Boeretannie dan ook kom groet. Een jong Boer kon nie die versoeking weerstaan nie om uit te roep: "Nee, maar dis mos nou 'n orkaan!"

Wilhelm Mangold, Vir Vaderland, Vryheid en Eer, p. 144:

Nadat ons Bainsvlei bereik het, het ons afgesaal vir 'n pouse van een uur. Die plaas was natuurlik verlate — net die hoenders en die eende het daar rondgeloop. Die hoenders is gou gevang, maar met die eende was daar probleme. Hulle het in die middel van die dam bly rondswem. Wie ook al 'n eend wou gaarmaak, moes sy swemvernuf toon. Die eendejagters het baie moeite gedoen en uiteindelik tog twee gevang. Toe hulle reg in die middel van die dam aan die rondplas was, het 'n paar kwajongens uitgeroep: "Opsaal, die Kakies kom!" en die perde opgesaal. Die klomp in die water het nie probeer vasstel of dit waar was nie, maar halsoorkop met modderlywe en al hulle klere aangetrek. Eers nadat hulle self opgesaal het, het hulle besef dat dit 'n gekskeerdery was!

R.D. McDonald, In die skaduwee van die dood, p. 164:

In Reddersburg het dit nie veel beter gegaan met 'n groepie burgers wat lus was vir vis nie. Hulle het een nag kamp opgeslaan by 'n dam waarin daar net 'n bietjie water was. Die volgende oggend het die burgers ontdek dat daar vis in die dam was, maar aangesien hulle geen vishoeke by hulle gehad het nie, het hulle maar hulle klere uitgetrek en in die water rondgeplas agter die vis aan. Dit was later 'n modderpoel en die visse moes na bo kom vir lug. Terwyl hulle nog besig was met die visvangery en hulle van kop tot tone met modder bedek was, het hulle net die geroep gehoor: "Die Kakies kom! Die Kakies is naby!" So naby was die vyand dat hulle nie 'n minuut kon verloor nie. Aangesien daar geen skoon water was nie en ook geen tyd om te was nie, is die klere net so oor die modderbesmeerde lywe aangetrek. Dit was 'n rare gesig om te aanskou: 'n nat modderlyf en 'n desperate gespartel om betyds voor die Engelse opdaag die wyk te neem.

Wilhelm Mangold, Vir Vaderland, Vryheid en Eer, p. 166:

Vroegoggend het ons 'n trekboer raak geloop en oom Jurie Human het hier kans gesien om vir ons koffie te bekom. Ek het nie veel hoop daarvoor gehad nie, maar hy het gesê dat dit nie die eerste keer is wat hy koffie op dié manier in die hande kry nie. Hy het nader gery en gegroet: "Môre, Oom."

"Môre, neef, en waarheen is die reis?"

Oom Jurie het geantwoord: "Na ons kommando."

Ons het hom die heeltyd as kommandant aangespreek. Hy was verleë, seker omdat sy gewete hom gepla het dat hy nie op kom­mando was nie.

Oom Jurie het so oor sy baard gestreel en gevra: "Hoe lyk dit met koffie? Dis koud hier!"

Die trekboer het verskonend geantwoord dat die koffie op was, maar 'n sesjarige snip het tussenbeide gekom met: "Ag nee, Pa, daar's nog baie!"

"Dan kan ons seker maar koffie maak!"

Die koffie is gemaak en toe dit kom, was die verskoning weer: "Die suiker is op."

Weer het die kleintjie gepraat en gesê: "Maar, Pa, daar's mos vreeslik baie en buitendien, die suiker is al in die koffie!" en sy het ondeund na ons gekyk.

Toe ons vertrek, het ons vir oom Jurie gesê: "So amper het ons met droë kele hier weggery!" maar hy het net gegrynslag en gesê: "As ons nie koffie gekry het nie, het ek aan hom die oorlogswet voorgelees!"

Wilhelm Mangold, Vir Vaderland, Vryheid en Eer, p. 166:

Een nag het ons in 'n grot skuiling gesoek. Die vertrek was in drie verdeel: voor was die kombuis, die tweede die eetsaal, en die derde die slaapsaal.

Opgeruimd en vrolik het ons ná aandete die slaapsaal opgesoek. Die plafon was ietwat laag, dus het sommiges hulle slaapsakke na die eetsaal toe verskuif. Daar, het hulle gesê, is meer lug. Nadat die ligte gedoof is, het dit op 'n manier stil geword, net die snorkers was fluks besig om balke te saag. Hierdie idilliese toestand het nie lank geduur nie, want uit elke hoek het 'n skril gepiep opgeklink. Dit was honderde vlermuise wat in ons hotel rondgevlieg het. Sommige burgers kon dit nie uithou nie en wou liewer in die kombuis gaan slaap, maar het vergeet van die lae plafon en hulle koppe daarteen gestamp. " 'n Mens moet liewer met geboë hoof deur die lewe gaan", het dit honend uit die kombuis gekom. "Dit kom daarvan as mense by allerhande gate inkruip. Hier by ons is nie vlermuise nie, net heerlike vars lug."

Op hande en knieë moes daar na die kombuis toe gekruip word. Aangesien dit alles in die donker moes geskied, het menigeen wat, soos dit 'n ware krygsman betaam, slaggereed met sy ganse wapen-arsenaal nuwe slaapplek gesoek het, in die slapendes vasgeloop, wat op hulle beurt gedink het dat dit 'n vyandelike inval was! Vir 'n uur was daar rus, maar toe het daar weer 'n geweeklag weergalm, dié keer uit die veelgeroemde kombuis. Potte, panne en ketels het teen mekaar gestamp en daar was 'n geplas van water asof 'n waterpyp gebars het. Tussenin het ek gehoor: "Jan, staan op, hier word ons sopnat!" Dit het sterker begin reën en die reënwater het die berg af geloop tot in die kombuis. Daar is toe weer herberg gesoek dieper die grot in. Met die deurgang deur die eetkamer was daar natuurlik weer botsings met die slapers wat met dieselfde onvermydelike opmerkings begroet is!

Vervolg...