HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (14)

Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd

Buite die veiligheidsterrein in die jare sestig

Ná Republiekwording en Suid-Afrika se uittrede uit die Statebond in 1961 het die Nasionale Party fenomenale groei beleef en was daar 'n ongekende versnelling van die proses van samesnoering van Afrikaans- en Engelssprekende mense in Suid-Afrika onder Verwoerd as eerste minister, ondanks die aanslae op veiligheidsgebied.

Op 18 Oktober 1961 het Verwoerd dan ook aangekondig dat twee Engelssprekende lede van die parlement, A.E. Trollip en Frank Waring, in sy kabinet opgeneem word. Dit was die begin van die proses van vereniging van die twee hooftaalgroepe (Afrikaans en Engels) in die land — 'n proses wat met verloop van tyd al hoe vinniger verloop het.

Op 23 Maart 1962 is die massale Oranjerivier-skema, met 'n totale beraamde koste van R450 miljoen (wat toentertyd 'n enorme bedrag verteenwoordig het), wat nuwe lewe en vooruitsigte vir 'n groot deel van die Republiek se hartland sou bring, aangekondig. Hierdie aankondiging, wat ook die verbeelding van mense in die buiteland aangegryp en immigrante na die land laat stroom het, kan beskou word as 'n belangrike keerpunt in die ekonomiese afname wat ná Suid- Afrika se uittrede uit die Statebond ingetree het. In dieselfde jaar (op 23 Januarie 1962) het Verwoerd die dramatiese aan­kondiging gedoen dat die Transkei selfbestuur sou kry — '’n aankondiging wat met akklamasie deur die land se inwoners begroet is aangesien dit gesien is as 'n sleutelskuif in die ontplooiing van die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Hierdie aankondiging is in November 1963 opgevolg deur 'n verkiesing in die Transkei waar die inwoners vir die eerste maal vir lede van hulle eie parlement gestem het. Die ver­kiesing is gewen deur die politieke party van hoofman Kaizer Mantanzima wat die eerste hoofminister van die Transkei geword het.

In 1965 het Suid-Afrika die atoomera betree met die ingebruikneming van die kemreaktor by Pelindaba naby Pretoria. Hierdie stap het daartoe gelei dat Suid-Afrika mettertyd ook die kundigheid ontwikkel het om die gevreesde atoombom te vervaardig en om dit, indien nodig, te gebruik. Hierdie feite is op amptelike vlak streng geheim gehou, dog daar het genoeg daaromtrent uitgelek sodat Suid-Afrika se vyande in die Oosbloklande daarvan kennis geneem het en sekerlik daarmee rekening gehou het met betrekking tot enige planne wat hulle kon gehad het om die land binne te val.

Dat die Nasionale Party se steun van die kant van Engelssprekendes toegeneem het, word gestaaf deur die feit dat hy in die algemene provinsiale en volksraadverkiesings van onderskeidelik 1965 en 1966 vir die eerste keer Pietermaritzburgse en Durbanse setels verower het. In die 1966-verkiesing het die Nasionale Party die steun verkry van 58% van die kieserskorps wat hom 126 uit 'n totaal van 170 setels besorg het. Die Verenigde Party het 37% (met 39 setels), die Progressiewe Party slegs 3,1% (met net een setel — Houghton) en andere 1,9% (met geen setels nie) verower.

Hierdie algemene verkiesing het slegs sowat 'n week ná die Kommunis Bram Fischer se skuldigbevinding en slegs sowat twee jaar ná die skuldigbevindings in die Rivoniasaak plaasgevind, naamlik op 30 Maart 1966. Die uitslag daarvan kan dus beskou word as goedkeuring van die regering se optrede op veiligheidsgebied.

Indien daar ontevredenheid was met die weg wat die regering ingeslaan het, sou 'n mens verwag het dat minstens die Progressiewe Party beter vordering sou gemaak het, dog dit het nie gebeur nie. Die party het nooit 'n verkiesingsmanifes gepubliseer nie. Dit was egter bekend dat dit die mees linkse party in die land was en hy het dus die naaste daaraan gekom om die verlening van stemreg aan swart mense in "wit" Suid-Afrika te bepleit. Die feit dat sy opgang so stadig was, kan vertolk word as 'n aanduiding van die kieserskorps se onwilligheid om in die rigting van 'n een-mens-een-stem-stelsel te beweeg. In dié verband is dit insiggewend om daarop te let dat die party vir die eerste maal in 1974 daarin geslaag het om meer as een setel in die parlement te verower. Sy steun het derhalwe van 1961 af, toe hy vir die eerste keer 'n setel gewen het, min of meer staties gebly tot 1974.

Die vyfjarige bestaan van die Republiek is op 31 Mei 1966 landwyd gevier. Ook Engelssprekendes het die vieringe op groot skaal bygewoon en Suid-Afrika was klaarblyklik oppad om 'n land met 'n verenigde nasie te word. Die eendragtigheid wat gevolglik ontstaan het, het baie gehelp om die toenemende buitelandse druk, wat onder andere ontstaan het na die eensydige onafhanklikheidsverklaring deur Rhodesië in November 1965, te weerstaan. Suid-Afrika se oorwinning in die Suidwes-saak in die Wêreldhof in 1966 het ook nuwe stukrag aan die regering verleen, veral in soverre die WO se Veiligheidsraad regtens deur die uitspraak verhinder is om in Suider-Afrika in te gryp.

Die jare sestig en begin sewentig het ook buitengewone ekonomiese groei in die land meegebring, dermate dat die Republiek sy posisie as verreweg die magtigste land in Afrika op die gebied met 'n vinnige pas verstewig het. Onmiddellik na Sharpeville (Maart 1960) was daar 'n verslapping, dog binne 'n jaar het oorsese kapitaal en immigrante die land binnegestroom. Afgesien van toenemende produksie van goud en ander minerale, het daar ook 'n versnelling op nywerheidsgebied voorgekom. Die tempo waarteen ontwikkeling in die algemeen in die land plaasgevind het, was trouens so aansienlik dat daar destyds gepraat is van 'n tweede industriële revolusie. Die bekende nyweraar dr. H.J. van Eck het so ver gegaan om die Republiek se ekonomiese groeitempo tussen 1963 en die einde van 1965 te beskryf as die grootste wat in die modeme tyd aangeteken is. Werkloosheid het feitlik nie voorgekom nie. In der waarheid was Suid-Afrika in die laat jare sestig verreweg die vemaamste nywerheidsland in Afrika; in die Suidelike Halfrond is hy beskou as die tweede belangrikste. Die bruto nasionale produk het gestyg van ongeveer R5 200 miljoen in 1960 tot R12 400 miljoen in 1969 — een van die grootste stygings destyds in die wêreld. Veral indrukwekkend in die vervaardigingsbedryf was die vermeerdering in bruto opbrengs van meer as 70% in elf jaar. In die vroeë jare sestig het invoer met 109% gestyg, terwyl uitvoer (goud uitgesluit) met 135% gestyg het. Buitelandse investering wat in 1963 teen R3 miljard gewaardeer is, het in 1972 gestyg tot R7 miljard — 'n vermeerdering van 133%. 'n Belangrike ontwikkeling in hierdie verband was dat Wes-Duitsland ook in ongeveer 1965 'n groot belegger in Suid- Afrika geword het. Feitlik die helfte van Suid-Afrika se invoer het bestaan uit kapitaalgoedere wat groei in die land tot nuwe hoogtes sou dryf.

In teenstelling met byvoorbeeld Nigerië met sy burgeroorloë en Parys met sy studente-onluste was Suid-Afrika in die jare sestig 'n stabiele land. Die "Africa Contemporary Record" vir 1968-69 het onder meer verklaar:

"There was nothing that (die SA regering) could not do that it willed ... at least in material terms. External forces . .. were ineffectual... Afrikanerdom had gained complete polit­ical mastery ... Richly endowed with natural resources, South Africa's economy boomed without let-up ... Materially, it was the envy of even Western Europe and Japan."

Ook aan die intemasionale front het die Republiek goeie opgang gemaak. Hy is in daardie jare trouens beskou as die magtigste, kundigste en rykste staat op sy vasteland.

Op staatkundige gebied is Suid-Afrika in daardie jare ook beskou as 'n ligbaken in 'n andersins onstabiele Afrika.

Die planne wat destyds deur die ANC/SAKP-alliansie gesmee is om die land met geweld oor te neem, was in die lig van die voorafgaande totaal onrealisties — behalwe natuurlik indien die organisasies werklik kon staatmaak op die aktiewe hulp van die Kremlin en sekere state in Afrika.

Die feit dat daardie planne gefnuik is, het dit vir die regering moontlik gemaak om die land verder te ontwikkel.

In die lente van 1966 het die vooruitsigte vir Suid-Afrika, net soos die natuur daarbuite, rooskleurig gelyk. Op veiligheidsgebied was daar relatiewe rustigheid; op ekonomiese gebied was daar vooruitgang; en op staatkundige gebied was daar vertroue dat die regering op pad was om die beleid van afsonderlike ontwikkeling te laat slaag. 'n Groot terugslag het die land egter in die gesig gestaar.

Op 6 September 1966, net na die opening van die parlement om 14:00, sou Verwoerd 'n belangrike toespraak lewer. Hy het onder meer 'n paar dae vantevore samesprekings met eerste minister Leabua Jonathan van Lesotho gevoer en almal het verwag dat Verwoerd 'n opspraakwekkende aankondig­ing rakende die Republiek se buurstate sou doen.

Terwyl Verwoerd in sy bank gesit en wag het om die toe­spraak te lewer, het 'n parlementêre bode hom stadig genader en toe hy by hom kom, het hy 'n dolk onder sy klere uitgepluk en Verwoerd vier steke toegedien. Die aanvaller, Dimitrio Tsafendas, is oorrompel en die bebloede Verwoerd is na 'n hospitaal geneem. Hy is egter op pad daarheen oorlede.

Tsafendas is later in die Kaapse hooggeregshof voor regter- president Beyers van moord aangekla. Verskeie psigiaters het egter getuig dat hy aan skisofrenie ('n gesplete persoonlikheid) ly en dat hy dus nie oor die vermoë beskik het om sy verdediging na behore te voer nie. Hy is gevolglik tot presidentspasient verklaar en in die Sentrale Gevangenis in Pretoria opgeneem waar hy aangehou is totdat hy later na Sterkfontein vir verdere aanhouding verwys is.

'n Kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van regter J.T. van Wyk van die Kaapse hooggeregshof is na die verhoor aangestel om die gebeure rakende die moord te on­dersoek. Daar was sterk gerugte dat Tsafendas ingevolge 'n Kommunistiese sameswering opgetree het, dog geen bevestiging hiervan kon verkry word nie as gevolg van toesmeerdery. Volgens aanduidings was die moord bloot te wyte aan die ongebalanseerde optrede van 'n geestelik versteurde mens — vermoedelik iemand wat as gevolg van al die emosie wat destyds rondom die persoon van Verwoerd gaande gemaak is die kluts kwyt geraak en die onbesonne daad gepleeg het.

Op hierdie tragiese wyse het nog 'n uitstaande tydvak in die geskiedenis van Suid-Afrika tot 'n einde gekom. Verwoerd het weliswaar 'n belangrike stempel op die geskiedenis afgedruk, maar sy taak was nie voltooi nie. lemand anders sou dit moes probeer voortsit.