NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Satan sê: Tel jouself op en lê die kruis neer.  Jesus sê:  Lê jouself neer en tel die kruis op.   Wie lg doen, is ’n Christen.

HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (8)

Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd

MEESTERBOUER, EERDER AS ARGITEK

Johan Mills

"Terugskouend vind ek dit merkwaardig dat dr. Verwoerd in sy agt jaar as minister en nog agt jaar as Eerste Minister soveel uitgerig het. Hy het 'n morele basis aan die beleid van apartheid wat oor drie eeue in Suid-Afrika ontwikkel het, gegee. Vir die eerste keer het hy ons laat besef dat die swart man dieselfde reg as ons moet hê om binne sy gemeenskap te vorder en om trots op sy afkoms te kan wees, 'teen die hele wêreld vry'."

Mnr. J.H.T. Mills was sedert 1937 verbonde aan die voormalige Departement Naturellesake, later Bantoe-Administrasie en -Ontwikkeling. Hy was grootliks verantwoordelik vir die opstel van die Transkeise grondwet van 1963 en het ná die verlening van selfregering opgetree as hoofminister Kaiser Matanzima se eerste uitvoerende beampte. Van 1970 tot 1979 was hy sekretaris van die Departement Kleurling-, Rehoboth- en Namasake, en van 1979 tot met sy aftrede in 1981 direkteur-generaal van Samewerking en Ontwikkeling. Daarna het hy nog vir 'n hele paar jaar as kommissaris- generaal van die KwaNdebele-volk gedien.

Johan Mills praat oor dr Verwoerd:
MY ASSOSIASIE met dr. Verwoerd gaan terug na ongeveer 1943 toe hy nog hoofredakteur van Die Transvaler was. Vir ons Afrikaners aan die Witwatersrand was dit meer as 'n koerant.

Dit was die stem van Afrikanernasionalisme in Transvaal. Doktor het my later self vertel die Kaapse nasionaliste soos dr. Malan en sen. W.A. Hofmeyr het eintlik gemeen hy moet so 'n bietjie koue water op die republikeinse ideaal kom gooi. Dit was egter alles behalwe sy plan. In Transvaal het hy in mnr. Strijdom, wat die onbetwiste leier was, 'n geesgenoot gevind en die twee was later soos 'n Dawid en Jonathan in die politiek.

As jong man was ek daardie tyd nogal aktief in die Jeugbond van die Nasionale Party en het gevorder tot leier aan die Rand. Dit het my in aanraking gebring met manne soos mnr. Strijdom, dr. Verwoerd, dr. G.E.N. Ross, mnr. B J. Schoeman en mnr. Jan de Klerk wat almal saam op die Randse Beheerraad gedien het. Toe kom die oorlogsverkiesing van 1943. Vir die NP was die uitslag rampspoedig: net 43 setels in die parlement! Ten spyte van die verslaenheid wat geheers het, besluit ons as Jeugbond om 'n lentefees in die stadsaal van Johannesburg te reël. Duisende het opgedaag en dr. Verwoerd skryf toe 'n hoofartikel om die jeug te loof dat hulle nie gaan lê het nie.

My volgende ontmoeting met dr. Verwoerd was kort na sy aanstelling as Minister van Naturellesake in Oktober 1950. Ek was maar 'n senior klerk of so iets in die departement. Hier hou die minister 'n departementele konferensie in Johannesburg om die personeel te ontmoet. Die amptenare was omtrent almal Engelssprekend en Engelsgesind en dr. Verwoerd was baie omstrede, veral omdat hy en sy koerant die koningsbesoek van 1947 geïgnoreer het. Daarby het hulle nie gedink die nuwe regering van dr. Malan sal baie lank hou nie. Miskien het nie een van die senior amptenare kans gesien om die Minister vir sy toespraak te bedank nie. Omdat ek Afrikaanssprekend was (al klink my naam Engels), word die taak toe op my afgeskuif. Hulle het natuurlik nie van my politieke bedrywighede geweet nie en ek kon my woord nogal goed doen. Ek bedank hom toe vurig en verseker hom van ons almal se lojaliteit en hoe ons daarna uitsien om onder sy leiding te werk. Dit was 'n bietjie verder as wat ek veronderstel was om te gaan en ek kon sien dat die hoofde ongemaklik begin rondskuif en my met skerp oë aankyk want ek was toe mos besig om hulle almal te kompromitteer. Gelukkig was daar darem nie 'n nadraai nie.

Daar word dikwels beweer dat die Nasionale Party ná 1948 ook maar "huis skoongemaak" het in die staatsdiens soos wat die ANC- regering vandag doen met sy beleid van regstellende aksie; met ander woorde dat Engelssprekende ondersteuners van die Verenigde Party eenvoudig moes plek maak vir Afrikaner-nasionaliste. Ek weet van net twee of drie gevalle, en wel in die heel hoogste geledere, waaroor daar deur die opposisie groot lawaai opgeskop is: mnr. Marshall Clark, hoofbestuurder van die Spoorweë en genl. W.H. Evered Poole by Verdediging. By Naturellesake was daar die geval van majoor F. Rodseth. Hy en kolonel C.J. Lever was die twee ondersekretarisse toe dr. E.G. Jansen minister geword het; albei was Smuts-aanstellings. Lever was in bevel van die afdeling Ontwikkeling en het hom so goed by die nuwe bedeling aangepas dat hy sy normale dienstyd uitgedien het. Rodseth is gesien as die persoon wat tot Sekretaris van Naturellesake bevorder sou word, maar toe stel dr. Malan vir dr. W.WM. Eiselen van buite af aan. Dit was net mooi 'n jaar voor dr. Verwoerd by dr. Jansen as minister oorgeneem het. Maar die Nasionale Party wou 'n vernuwing, 'n meer konsekwente toepassing van die beleid ten opsigte van die swart bevolking teweegbring. Daarvoor was dr. Eiselen, 'n kenner en 'n diepdenker op die gebied van die Volkekunde, die aangewese persoon. Ek onthou dat daar een keer 'n debat in die Volksraad was waar die leier van die opposisie beswaar aangeteken het teen buite-aanstellings in die staatsdiens bo-oor bekwame amptenare. "Maar," het hy gesê, "as dit mense van die gehalte van dr. Eiselen is, kan daar geen beswaar wees nie."

Dr. Eiselen was ook nie net 'n akademikus nie, hy het tien jaar ondervinding as hoofinspekteur van naturelle-onderwys by die Transvaalse Onderwysdepartement (1936-1947) gehad. In ieder geval, Rodseth is oor die hoof gesien en hy het vroegtydig afgetree.

Wat dr. Verwoerd betref, kan ek met groot sekerheid sê dat hy nooit teen enige van die Engelssprekende amptenare gediskrimineer het nie. Hy het hulle inteendeel almal mettertyd aan sy kant gekry. Daar was Bruce Young, hy kon Afrikaans praat maarsy vrou was Engels, en hy het later dr. Verwoerd se regterhand geword. Dan was daar Cecil Heal, Engelssprekend maar met ’n Afrikaanse vrou. Hy was in beheer van die stadsgebiede-afdeling en een van die drie topamptenare in die departement. Ek noem ook nog Phil Grey daar van Witsieshoek in die Vrystaat (hy het ook 'n hoë pos beklee) en Vic Leibrandt van die Transkei.

Dit herinner my aan 'n grappige insident. Dr. Verwoerd het seker nie as redakteur baie met Engelssprekendes te doen gekry nie en diegene wat hy wel ontmoet het, het hom dikwels net sonde gegee. As minister ontvang hy toe deputasies uit Natal en ander plekke en kom in aanraking met agtermekaar Engelse wat logies kan redeneer en hul saak baie deeglik stel. By een so 'n geleentheid leun hy oor en fluister vir dr. Eiselen: "Die man is seker 'n Nasionalis, nê?"

Ek dink die heel eerste toespraak wat dr. Verwoerd voor swart mense gehou het om te verduidelik wat die beleid van apartheid nou eintlik beteken, was by die openingsitting van die Naturelle-verteenwoordigende Raad op 5 Desember 1950. Soos prof. A.N. Pelzer dit stel in Verwoerd aan die woord, het die toespraak "reeds toe byna al die elemente bevat van die beleid en gesindheid wat die Nasionale Party se naturellebeleid oor die jare daarna gekenmerk het".

Tog moes hy 'n paar maande later in die parlement 'n voorstel indien dat hierdie Raad ontbind word. Die aanloop was nogal interessant, want dit dui daarop dat dit foutief is om dr. Verwoerd of die Nasionale Party vir die stap te blameer. Die Raad is in 1936 in die lewe geroep, bestaande uit vooraanstaande swart mense, met die doel om as spreekbuis te dien oor alle sake soos onderwys, administrasie, wetgewing (insluitende die begroting) wat swart mense raak. Die staatkunde leer dat dit fataal is om 'n liggaam op hoë vlak in te stel met blote adviserende funksies, sonder dat dit enige verantwoordelikhede dra. Toe kom daar 'n botsing oor 'n kleinigheid met min. Jannie Hofmeyr, die mees liberaalgesinde minister van almal. Hy het vergeet om die Raad te ken, soos deur die wet vereis, voor die instelling van 'n hospitaalbelasting vir swart mense van so iets soos 'n halfkroon (2/6) per persoon. Toe die Raad einde ten laaste byeengeroep word, keur hy die maatreël af.

Intussen het die Raad hom ook al hoe meer op die politieke terrein begeef en onmoontlike eise begin stel. Na 'n teregwysing deur die Smuts-regering het die Raad besluit om nie weer byeen te kom nie. Dr. Verwoerd het 'n desperate poging aangewend om die Raad tot ander insigte te beweeg deur hulle na 'n onderbreking van vier jaar weer byeen te roep, maar dit het misluk. Hy moes toe sterk optree. Dr. Eiselen het later vertel dat baie van die swart leiers in private gesprekke ten gunste van die beleid was, maar dit nie wou waag om die regering in die openbaar te steun nie.

My persoonlike gemoeidheid met die toepassing van die nuwe beleid in daardie vroeë jare het soms komieklike situasies opgelewer, ook maar as gevolg van mede-amptenare se gebrekkige begrip. Laat ek vertel van Witsieshoek daar naby Golden Gate aan die voet van die Drakensberge in die Oos-Vrystaat. Witsieshoek was 'n reservaat waar die landboukundiges van die departement, reeds voor 1948, aan die wêreld wou wys wat gedoen kan word wanneer wetenskaplike metodes van grondbewaring en verbetering van die veestapel toegepas word op verwaarloosde, oor- beweide naturellegrond. Dit was veronderstel om 'n modelreservaat te word. Die onverwagte resultaat was 'n uitbarsting van geweld in 1950, die eerste waarmee dr. Verwoerd te doene gekry het. Verskeie blanke polisiemanne is gedood. Opregte bulle is geslag, Arabierperde beseer, drade elke twee meter geknip, geboue geplunder en landerye verwoes. En die vernaamste oorsaak was dat ons daar ingekom en regeer het asof dit ons plaas is. Ons het besluit watter bulle, watter perde, waar mag hulle ploeg, waar mag hulle woon, waarheen moet hulle trek, waar word bome geplant en dies meer, sonder om die inwoners in die eerste plek te ken.

Dr. Eiselen roep my in en sê: "Dis die Minister se wens dat jy na Witsieshoek moet gaan. Jy moet dinge gaan regruk. Onthou, jy kan nie die land ontwikkel as jy nie die mens ontwikkel nie. Gaan doen alles wat ons wil doen, maar doen dit deur die swart mense, nie op jou eie nie. Hulle moet meer seggenskap kry, want dit is ons beleid. Die vorige benadering kom uit die ou koloniale mentaliteit."

Ek gaan toe en kom by die Thlokwa-stam aan en vra hulle hoekom hulle nie grondherwinning wil aanvaar nie. Die hoofman, Wessels Mota, het in 'n sendingskool skoolgegaan en goed Afrikaans gepraat. Op my vraag antwoord hy: "Morena, dit is soos 'n tjek wat ek teken maar ek sit nie geld in die bank nie. Ek kan sê ek aanvaar, maar ander mense is baas hierso."

"Nee," sê ek vir hom, "van nou af werk dit anders. Jy en jou raadsmanne neem die besluite, ek sal net advies gee."

Nou maar goed," antwoord hy, "kom ons probeer."

"Waarmee sal ons begin?"

"Met beeste. Die landbouamptenare wil hê ons moet ons beeste verbeter," sê hy. "Nou kom hulle met die bruin Switser."

"Wat weet jy van die bruin Switser?"

"Dit is 'n swaar bees, hy het sulke blouerige vleis en die kalwers is groot, die koeie vrek as hulle van daardie bulle moet kalf. Miskien werk dit in Switserland, maar nie hier by ons nie."

"Nou watse bees wil julle dan hê?"

"Die Drakensberger. In die ou dae was dit die Usutu-bees. Swart bees, mooi bees, wakker ding."

Goed, ek bel die Drakensberger Telersvereniging. Dit is 'n geregistreerde inheemse ras wat deur die Uyse daar by Memel in die bergwêreld ontwikkel is. Om 'n lang storie kort te maak, ons kry toe so 'n bul by dr. Van der Wath op Ermelo. Die Thlokwa moet onder hulleself kollekteer vir geld, maar daar is darem 'n subsidie. Ek doen aansoek vir 'n subsidie. Toe is dit asof die hemel op ons gaan intuimel. Hoofkantoor wil weet wie het gesê ons kan 'n Drakensberger koop. Ek antwoord niemand het gesê nie, die volk het besluit. Maar jy weet mos ons beleid is die bruin Switser. Brief na brief. Die laaste wat ek hoor is dat ons ontslae moet raak van daardie bul anders gaan die departement alle verdere hulpprogramme staak. In die volgende brief sê ek ek kom Pretoria toe en ek vra 'n onderhoud met dr. Eiselen en dr. Verwoerd om die saak te bespreek. Wat daarna gebeur het, weet ek nie, maar ek kry 'n oproep. Sê ek moet nou nie so aardig wees nie, dis nie die moeite werd om rusie te maak oor 'n bul nie. Hulle sal maar oë toeknyp in hierdie geval. Dr. Verwoerd het later self kom kyk en was baie ingenome met die geslaagde ontwikkeling.

Dit is goed bekend dat dr. Verwoerd nie die Tomlinson-verslag se aanbeveling aanvaar het dat wit kapitaal uit die privaat sektor toegelaat moet word om die Bantoegebiede (soos dit destyds genoem is) ekonomies te ontwikkel nie. Hy word dikwels gekritiseer dat dit kortsigtig was, of dat hy nie werklik die gebiede se vooruitgang wou bevorder nie.

Ek het egter self gehoor hoe hy sy standpunt verduidelik: in Afrika word swart volke vrygemaak maar ekonomies verslaaf. Niemand kan werklik vry wees solank hy ekonomies afhanklik is nie. Ons Afrikaners het ondervinding daarvan. Ekonomiese ontwikkeling (soos landbou-ontwikkeling hierbo) word deur die mens gegenereer. Swart mense moet daarom in staat gestel word, deur onderrig en finansiële hulp van die regering, om self entrepreneurs te word. Vreemde kapitaliste wat daarop uit is om goedkoop arbeid vir hulself winste te verdien, sal nie genoeg tot ontwikkeling bydra nie.

Dr. Verwoerd se premierskap was gekenmerk deur streng en uiters effektiewe finansiële bestuur. Hy het eenkeer vertel hoe belangrik dit is dat 'n Eerste Minister nie moet toelaat dat sy Minister van Finansies oordonder word deur die kabinet nie. Hy het gesê as jy tevrede is met hom moet jy by hom staan en as jy ontevrede is, stel jy 'n ander een aan. In Engeland is daar glo 'n ondergrondse tonnel tussen die Eerste Minister se kantoor en die "Chancellor of the Exchequer" sodat hulle mekaar kan raadpleeg sonder dat iemand dit weet. As sommige van dr. Verwoerd se opvolgers maar die les ter harte geneem het, sou dit beter met Suid- Afrika gegaan het.

In 1951 het ek vir drie maande waargeneem as dr. Verwoerd se privaat sekretaris. Ek was toe saam met hom en dr. Eiselen op verskeie reise na stamgebiede in Noord-Transvaal en Natal. Onder andere onthou ek dat ons daar teen die rant by Turfloop gestaan en kyk het na die voorgestelde terrein vir die Universiteit van die Noorde, waarvoor hy sy goedkeuring moes gee. Op die toere het ek hom werklik van nader leer ken.

In dié tyd het ek ook 'n paar indrukke gekry van sy werkwyse op kantoor. Selde het ek iemand teengekom wat 'n dokument of 'n lêer so vinnig en deeglik kon deurgaan. 'n Lywige verslag het mos gewoonlik voorop 'n opsomming wat sê waaroor dit gaan. Jy lees die opsomming en dan teken jy of keur dit goed. Dr. Verwoerd was baie nuuskieriger: hy lees dit deur, en dan vang hy soms die skrywer uit met 'n opmerking soos jy het dan voorheen so of so gesê, en nou sê jy weer so. Daar het op 'n dag 'n dik lêer deurgekom van die Naturellesakekommissie, waarvan oom Daan de Wet Nel voorsitter was. Voorop het oom Daan geskryf hy wonder of hulle dit en dat in ag geneem het. Waaroor hy daar gewonder het, was inderdaad op 'n sekere bladsy behandel, hy het dit natuurlik nie raakgesien nie. Terwyl dr. Verwoerd sy vinger langs die reëls laat gly en lees kom hy by die onderwerp van oom Daan se opmerking. Hy snork en sê: "Sê vir ou Daan ek het hom nie aangestel om vir my strikvrae te vra nie."

Ek vat toe die lêer terug maar ek kan mos darem nie vir 'n Volksraadslid so iets sê nie. Toe sê ek maar: "Mnr. Nel, die Minister wil hê dat u 'n vaste aanbeveling maak." Dit wou oom Daan liewer vermy, want hy het geweet hoe skerp krities dr. Verwoerd oor so 'n aanbeveling kon wees.

Terloops, die Naturellesakekommissie is reeds in 1920 gestig as 'n onafhanklike liggaam van deskundiges wat die Minister moes adviseer. In dr. Verwoerd se tyd het die kommissie hom hoofsaaklik besig gehou met ondersoeke ter plaatse en aanbevelings oor grondaankope ingevolge die Naturellegrondwet No. 27 van 1913 oor konsolidasie van die tuislande en so meer. Daar is van die begin af gedebatteer oor die vraag of swartes nie self ook op die kommissie moet dien nie. Of dit nou die ideale toestand was of nie, ek dink tog opeenvolgende regerings het daarin geslaag om mense daarop aan te stel wat sterk standpunt ingeneem het ten behoewe van die swart mense en wat politieke toutrekkery kon vermy.

Dr. Verwoerd en dr. Eiselen het 'n baie hegte verhouding gehad. Hulle het mekaar geken toe hulle jong dosente op Stellenbosch was. In die laat twintigerjare het albei opdrag gehad om nuwe departemente aan die universiteit te begin; dr. Verwoerd in Sosiologie en dr. Eiselen in Afrikanistiek. Met hierdie kombinasie was hulle uitstekend toegerus om die apartheidsbeleid van die Nasionale Party te omskep in suksesvolle afsonderlike ontwikkeling. Ek het altyd geglo dat dr. Eiselen die beleid uitgedink en dr. Verwoerd dit stap vir stap in die praktyk toegepas het. Dit wil nie sê dat dr. Verwoerd nie self die grootste aandeel in die formulering daarvan gehad het nie. Hy het. Maar hy het baie geleer by dr. Eiselen.

Op 'n dag, omstreeks 1960 of 1961, roep die sekretaris, mnr. Young, my in en sê hy het nou net 'n onderhoud met dr. Verwoerd gehad. Dr. Verwoerd sê daar moet nou dringend aandag gegee word aan die staatkundige ontwikkeling van die swart mense. Ons is heeldag besig met die fisiese ontwikkeling. Ons praat vaagweg oor politieke regte maar ons doen niks konkreets nie. Ek was toe op die inspektoraat, nie juis 'n senior posisie nie, maar daar word 'n breë komitee saamgestel van al die departementshoofde en kommissarisse-generaal en hulle maak my die sekretaris. Maar ag, dit wil nie vlot nie. Soveel hoofde, soveel sinne. Uiteindelik was dit dr. Eiselen wat toe al afgetree het en sedert Junie 1960 kommissaris-generaal vir die Noord-Sotho was, wat saam met Chris Prinsloo, een van ons mees begaafde amptenare, begin rigting gee het, met my as sekretaris vir die tweemanskap.

Op dié manier raak ek toe al hoe meer betrokke by die onafhanklikwording van die Transkei. Die eerste grondwet vir die verlening van selfbestuur (Wet 48 van 1963) moet opgetrek word. Ek is nie eintlik 'n wetsopsteller nie, maar ek het darem LL.B. en het staatsreg bestudeer. Ek is nou die hoofonderhandelaar tussen die Eerste Minister en die tradisionele leiers van Transkei. Dit is heen en weer tussen Kaapstad en Umtata. Dr. Verwoerd was vasberade oor sekere dinge. Hy wou 'n onderskeid maak tussen Suid-Afrikaanse en Transkeise burgerskap. As die mense van Transkei hulself wil regeer, moet hulle nie meer Suid-Afrikaanse burgers wees nie. Ek sit nou daaarmee vas, nêrens in die literatuur vind ek 'n voorbeeld om na te volg nie. Ek klop aan by prof. F.E.J. Heine en prof. Ver Loren van Themaat. Hulle sê hulle steun my standpunt dat burgerskap verdeelbaar is; 'n mens is byvoorbeeld 'n burger van Pretoria, 'n burger van Transvaal en ook 'n burger van Suid-Afrika. Maar wat sê die internasionale reg? Daar ontstaan toe 'n hele geskil. Binnelands kan jy onderskei, en solank daar ook oorkoepelende staatsburgerskap is, ontburger jy niemand nie. Die konsep word uiteindelik aanvaar, maar die hoofregsadviseur weier om te teken. Ek sê toe vir hom: "Oom Natie, dan moet dit maar kabinet toe gaan, dat die kabinet kan opdrag gee of jy moet teken of nie." Gelukkig het dr. Dönges, wat self 'n regsman is, toe verder as pleitbesorger opgetree en die wet het so deurgegaan.

Oor 'n ander aspek van dieselfde wet was daar nog meer drama, naamlik die taalklousule. Ons het Xhosa tot 'n derde amptelike taal in die Transkei verhef. Ek kom die dag by die kantoor van die sekretaris van die Volksraad, mnr. McFarlane. Môre begin ons groot debat. Hy sê: "Toemaar, jy hoef nie so benoud te wees nie, die debat gaan nie plaasvind nie, die wet word uitgegooi."

Ek sê: "Wat?"

Hy sê: "Ja, die Speaker het klaar besluit. Miles-Cadman het hom oortuig die taalklousule is teen die Suid-Afrika-wet."

Ek sê: "Maar ons probeer nie die Suid-Afrika-wet verander nie, ons weet dit vereis 'n tweederde-meerderheid."

Hy sê: "Die argument is as jy 'n derde taal dieselfde status gee, dan tas jy die status van die twee amptelike tale aan."

Ek gaan bel oom Daan de Wet Nel, die minister, en oom Daan sê, bel dadelik vir dr. Verwoerd.

Ek sê: "Nee wag oom Daan, dis darem 'n bietjie vergesog van my kant, wil u nie asseblief bel nie?"

Hy sê: "Nee, bel hom sommer nou."

Ek bel toe maar na Groote Schuur en vra om dringend met die Eerste Minister te praat. Hulle sê hy is besig om met burggraaf Montgomery in die tuine te wandel. Ek moet presies agtuur weer bel, dan sal hy geleentheid gee. Presies agtuur bel ek.

Hy sê: "Het jy goed gehoor?"

Ek sê ja, ek dink ek het goed gehoor. "Nou maar kom sien julle my môre nege-uur op kantoor."

Die sitting begin om twee-uur die middag. Die volgende oggend vroeg vertel ek die hele storie aan my hoof, Tommie Coertze. Ek sê hy moet saamkom na McFarlane dat ons kan seker maak. Agtuur is ons daar. As ek darem nou vir die Eerste Minister gelieg het, is ek in 'n vreeslike ding. Maar nee, hy bevestig, dis alles presies soos hy vir my gesê het.

Dis nege-uur, en ek herhaal alles wat ek gehoor het vir dr. Verwoerd. Hy het mos so 'n manier gehad, ek sweer ek kon sien as hy kwaad word. Dit was vir my of hy so 'n vaal kleur kry. Hy staan op en vra om verskoon te word. Hy het so 'n vinnige stap gehad. Sy kantoor was in die nuwe Verwoerdgebou. Hy is af ondertoe, na die Volksraad.

Oom Daan Nel kyk op en sê: "Snaaks, ek is nou bly ek is nie die Speaker nie." Oom Henning Klopper was toe die Speaker.

Dr. Verwoerd kom terug, en nou moet ons vinnig spring. Die Ordepapier is klaar gedruk en word versprei en moet 'n sekere tyd op elke Volksraadslid se bank wees. Toe moet alles verander word want die debat word uitgestel. Die hele ding val plat. Die opposisie het sy slagordes opgestel en almal verwag 'n debat van formaat. Ons word gevra wat gaan aan, en ons sê wat daarvan? Ons kom later by die wet. Dr. Verwoerd het toe besluit om liewer 'n gesamentlike sitting van die Volksraad en die Senaat te belê en die Suid-Afrika-wet met 'n tweederde-meerderheid te wysig. Daar was seker ander maniere om dit deur te kry, maar, het hy gesê, dan gaan ons elke keer dieselfde gefoeter hê as ons 'n grondwet vir 'n selfregerende tuisland wil deurvoer.

Debatte in die Volksraad lewer soms nogal spitsvondighede op. Ek onthou een van dr. Verwoerd wat almal laat skaterlag het. Hy praat mos in sulke taamlike lang, ingewikkelde sinne en toe gebeur dit dat sir De Villiers Graaff hom in die rede val met: "Kan ek iets vra?"

Hy antwoord dat hy net sy argument klaarmaak. Toe hy klaar is, bly hy stil en sê vir sir Div: "Ja?"

Sir Div sê: "Nee, gaan maar aan."

Toe lyk dit of dr. Verwoerd ontplof: "Wil u vir my sê dat u my gestop het net om te sê ek kan maar aangaan? Dit doen ek sonder u toestemming, hoor." Die vraag wat hy wou vra is natuurlik intussen beantwoord.

Dr. Verwoerd het dit behoorlik geniet om te debatteer en gewoonlik kon hy die leier van die opposisie ore aansit. Iemand vir wie hy respek gehad het, was mev. Helen Suzman. Hy het meermale gesê sy is 'n uitstekende parlementariër met weldeurdagte argumente. Hy het natuurlik op beginselgronde diametries van haar verskil. Maar hy het gesê sy het 'n standpunt wat sy verdedig en sy verteenwoordig 'n groep mense met besliste menings, anders as die amptelike opposisieparty wat op twee stoele probeer sit.

Dit is jammer dat die beeldryke toesprake wat dr. Verwoerd voor swart mense op die platteland gelewer het nie opgeneem of êrens opgeteken is nie. Al was hy 'n intellektuele mens kon hy lekker gemaklik met hulle praat. Die vakkundiges van die departement het vir hom idiome van die verskillende volke versamel. As hulle vir hom 'n konseptoespraak opgestel het, het hy dit gewoonlik gelees maar dan uit die vuis gepraat en dit op 'n heel ander manier gebruik. Dr. Verwoerd het mos die land deurkruis; hy het nie soos sy voorgangers op kantoor gesit en wag dat die wêreld na hom toe kom nie. Een van die gelykenisse wat ek op Witsieshoek aangehoor het, was die een van die pad vol dorings. Hy het gesê die mense moet kies; wil hulle die wit pad loop of die doringpad waar 'n mens se bloed bly lê? Die wit pad was die pad van samewerking, die pad vol dorings was die pad van konfrontasie. Vir die verteenwoordigers van die Transkei wat kom praat het oor die grondwet het hy gesê 'n volk groei uit sy wortels. Die swart man het sy wortels al gehad eeue voor die wit man hom leer ken het. As hy wil opgang maak, moet hy by daardie wortels begin. 'n Groot boom se wortels gaan diep in die grond in, die wind sal hom nie sommer omwaai nie. Wat my persoonlik by hierdie samesprekings getref het, was die geduld wat hy aan die dag gelê het en die tyd wat hy bereid was om af te staan.

Dr. Verwoerd was lief vir die buitelewe, vir visvang, vir die Kruger-wildtuin en sy plaas. Hy het hom nie eenkant gehou of gehuiwer om self in te spring as dit nodig was nie. Die keer toe hy die dam by Pilanesberg moes gaan open (waar Sun City nou is), het dit vreeslik gereën. Die karre sit vas in die modder. Hy is ook uit, sy skoene uitgetrek, broek opgerol en hy help stoot.

In 1963 word ek toe gesekondeer na die Transkei om die nuwe grondwet in werking te stel. Eers het dr. Verwoerd my ingeroep en breedvoerig verduidelik wat hy van my verlang. Daar moet streng dissipline wees. Hy het my gewaarsku om nie agter die skerms te probeer regeer en net te maak of Kaiser Matanzima en sy kabinet die volle seggenskap het nie. Dit moet ware selfregering wees. Dit is ook presies hoe ons in daardie jare opgetree het. Ek is nog altyd spyt dat dr. Verwoerd nie kans gehad het om hierdie proses te voltooi of inhoud te gee aan die idee van 'n Suid-Afrikaanse "gemenebes van nasies" wat hy in breë trekke verkondig het nie. Dan sou ons en ons swart vennote kon saamstaan by die VN en teen die rewolusionêre magte, in plaas van die konfrontasie tussen swart en wit waarin dit later ontwikkel het.

Teen die einde van 1972 het minister M.C. Botha my teruggeroep na Pretoria met die opdrag om verslag te doen oor elke faset wat die verskillende staatsdepartemente raak wanneer 'n tuisland uiteindelik onafhanklik word; die logiese uiteinde van ons beleid. In die verslag het ek 'n assosiasie van state bepleit, wat nog minder verbonde is as 'n konfederasie. Ongelukkig was daar, toe die krisis kom, nie 'n geskikte leier om die gedagte verder te voer nie.

Terugskouend vind ek dit merkwaardig dat dr. Verwoerd in sy agt jaar as minister en nog agt jaar as Eerste Minister soveel uitgerig het. Hy het 'n morele basis aan die beleid van apartheid wat oor drie eeue in Suid-Afrika ontwikkel het, gegee. Vir die eerste keer het hy ons laat besef dat die swart man dieselfde reg as ons moet hê om binne sy gemeenskap te vorder en om trots op sy afkoms te kan wees, "teen die hele wêreld vry". Dan was daar nog sy ander prestasies: die vervulling van die republikeinse ideaal, die Oranjerivierskema, die begin van die oliesoektog, die ekonomiese welvaart. Hy was inderdaad 'n groot boumeester.

Opsoek na inligting?

  • BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

     

    _____________________

     

     Laserskywe in stelle van 10 te koop

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

     

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

 

GRATIS E-BOEKE EN VERSBUNDELS OM AF TE LAAI:

 

As God volke aan hul eie lot oorlaat

Die waarheid oor ons volk en die Nuwe SA

Volksverraad geskryf deur adv. P.J. Pretorius

'n Oorblyfsel... deur genade alleen

Christen-Teokratiese Separatisme

Verse van Verset

Vreedsame Naasbestaan = Afsonderlike Ontwikkeling

No Ships in the Harbour

Ons heilsverhaal in die Ou Testament

Daniel

Evolusie - kan ek dit glo?

Petrus, die rots

Romeo en Juliet

Ester

Apokriewe - By modderpoele of suiwer fonteine?

Midsomernagdroom - Shakespeare in Afrikaans

Die Openbaring van Henog

Die Derde Tempel

Macbeth - Shakespeare in Afrikaans

Met ryperd en mauser

Goue strate het nie stof nie

Derdepoort

Die Laaste Pous

Josef

Rut

Drie Eeue van Onreg

Ons Geskiedenis

Engelse skandvlekke

Voortrekker-Pioniers in Oos-Transvaal

_______________

 

 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________                                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1310 gaste aanlyn