NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Daar is talle verbitterde mense wat reguit beweer dat hulle in geen vorm van liefde glo nie. Hoor wat die Woord oor liefde sê: "Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde." 1 Johannes 4:8

HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (6)

Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd

DIE WÊRELDHOFSAAK IN DEN HAAG

"Lang" David de Villiers

"Die saak voor die Wêreldhof het uiteindelik op Maandag 18 Julie 1966 ten einde geloop met 'n uitspraak wat as 'n groot oorwinning vir Suid-Afrika bestempel kon word...   ... Hierdie woorde was in werklikheid dr. Verwoerd se laaste boodskap. Dit was die laaste openbare uiting van sy gedagtes. Die volgende geleentheid wat hy sou hê om verder oor die gevolge van die Wêreldhofsaak en die ontplooiing van sy beleid te praat, was in die parlement op 6 September, die dag toe Tsafendas hom vermoor het. Die vraag oor wat hy daardie dag wou uiter, hang in die lug."

Adv. D.R de Villiers (191 9-2001) was die leier van die regspan wat Suid-Afrika se verdediging behartig het in die hofsaak wat Ethiopië en Liberië in 1960 by die Wêreldhof in Den Haag aanhangig gemaak het oor die administrasie van die mandaat oor Suidwes-Afrika. Van 1969 tot 1984 was hy Besturende Direkteur van Nasionale Pers Beperk, en daarna lid van die Pers se direksie tot sy uittrede in1987. In die sewentiger- en tagtigerjare het hy 'n leidende rol gespeel in aangeleenthede van die Persunie en dikwels kritiek uitgespreek op regeringsoptrede. Van kindsbeen af was adv. De Villiers 'n ondersteuner van die Nasionale Party maar sy uitkyk op die politiek het nie streng partygebonde gebly nie. Hy het gedeel in die soeke na 'n moreel etiese basis vir 'n beleid van die afsonderlike bestaan van verskillende rassegroepe in Suid-Afrika. Mettertyd het afsonderlike verteenwoordiging van kleurlinge, asook instromingsbeheermaatreëls teenoor swart mense hom begin hinder. Hy was een van die oprigters van die Stedelike Stigting en het hom ook sterk uitgespreek teen die afmetings wat aanhouding sonder verhoor aangeneem het. In die tyd  (1985) toe mnr. PW. Botha sy "Rubicon"-toespraak gehou het, het adv. De Villiers sy steun aan die NP onttrek. Hy het hom aangesluit by ontevrede Afrikaners wat in die 1987-verkiesing onafhanklike kandidate teen die NP gestel en later die Demokratiese Party gestig het. Hy wou hom nie self in die politiek begeef nie. Hy het weer aan die balie as advokaat begin praktiseer, waar hy opgetree het in een saak na die ander namens mense wat nadelig deur die regering se rassebeleid getref is.

DIE EERSTE KEER wat ek in noue aanraking met dr. Verwoerd gekom het, was vroeg in 1961 nadat ek die opdrag aanvaar het om die span advokate te lei in die Wêreldhofsaak oor Suidwes-Afrika. Die opdraggewer aan Suid-Afrikaanse kant, wat breedweg beskou die rol gespeel het van 'n prokureur, was die Departement van Buitelandse Sake onder leiding van minister Eric Louw. Dr. Verwoerd het egter dadelik laat blyk dat hy self baie belangstel in hierdie saak en dat hy deeglik op hoogte gehou wil word. In die loop van die verkeer tussen ons wat oor ses lang jare gestrek het, het ek sekere eienskappe by dr. Verwoerd waargeneem en sekere insidente met hom en mnr. Louw beleef wat in my geheue bly steek het. Vrae wat by my ontstaan het oor dr. Verwoerd se beleid, en staaltjies wat dalk ten koste van mnr. Louw verloop het, moet nie as disrespek vertolk word nie; vir albei politieke leiers het ek die hoogste agting gehad.

Dit is nodig om net kortliks die agtergrond te skets van waaroor die hofsaak eintlik gegaan het. Suid-Afrika is sedert die stigting van die Verenigde Nasies (VN) in 1946 voortdurend by die Algemene Vergadering in die beskuldigdebank geplaas omdat hy geweier het om die mandaat wat hy van die ou Volkebond ontvang het om Suidwes-Afrika te bestuur, aan toesig deur die nuwe Trusteeskapraad van die VN te onderwerp. Die Algemene Vergadering beskik egter volgens sy statuut oor geen afdwingbare magte nie. Na die Tweede Konferensie van Onafhanklike Afrika-state in Addis Abeba in Julie 1960 is besluit om geregtelike stappe teen Suid- Afrika te begin in die naam van Ethiopië en Liberië. Hulle doel was baie duidelik. Daar moes 'n einde gebring word aan Suid- Afrika se beheer oor die mandaatgebied. 'n Gunstige uitspraak, soos hulle dit beskou het, sou na die Veiligheidsraad geneem kon word vir doeltreffende optrede teen Suid-Afrika. Die vernaamste klagte was dat Suid-Afrika die bepalings van die mandaat oortree het deur die gebied nie in die beste belang van die inwoners te bestuur nie deur naamlik apartheid daar toe te pas. In die aansoekers se pleitskrifte wat boekdele beslaan het, het hulle 'n valse toneel probeer skilder van apartheid as 'n onderdrukkende stelsel wat die belange van die oorspronklike inheemse bevolking heeltemal ondergeskik stel aan die van die wittes (wat later gekom het) en die owerheid in beheer, en origens die swart inwoners alle seggenskap in die bestuur van die land ontsê. Daar was ook sekere ondergeskikte aanklagte soos verbreking van die mandaat deurdat lede van die inheemse bevolking militêr opgelei is om vir die mandataris se voordeel te gebruik. In soverre hierdie bewerings ook op Suid-Afrika van toepassing gemaak kon word, is al dikwels gesê die hofsaak was "apartheid on trial". Indien die aansoekers in hul doel sou slaag, sou dit ingrypende gevolge vir ons kon hê.

Dr. Verwoerd het niks van die woord "apartheid" gehou nie. Hy wou dit nie aanvaar as 'n beskrywing van sy beleid nie en het baie beslis "afsonderlike ontwikkeling" verkies. Hy het ons span uit die staanspoor laat verstaan dat hy onversetlike weerstand wil hê. Ons moes op elke front veg, en veg asof ons vir Suid-Afrika veg. Ons moes teenstand bied op alle moontlike regsgronde en op feitelike gronde. Ons moes geen steen onaangeroer laat nie.

Reeds by daardie eerste samesprekings met dr. Verwoerd het een van sy vernaamste karaktertrekke my getref. Dit was sy verbasende vlugheid van begrip. 'n Mens was nog besig om vir hom 'n proposisie of 'n voorstel of 'n mening of wat ook al te stel, dan het hy skielik die hele ding begryp. Hy begryp sommer dadelik wat jy bedoel, waarheen jy mik en wat die eindpunt is en dan het hy ook onmiddellik vir jou sy reaksie daarop gegee. As hy met jou saamgestem het, het hy so gesê en as hy nie saamgestem het nie, het hy met vers en kapittel sy redes daarvoor uitgespel. Gepaard daarmee was dit gou vir ons duidelik dat hier iemand was wat oor besondere intellektuele vermoëns beskik. Van al ons politieke leiers was hy waarskynlik die enigste wat op dieselfde intellektuele peil as 'n Jan Smuts of 'n Jannie Hofmeyr was, alhoewel hy 'n baie andersoortige persoonlikheid gehad het. Dr. Malan was ook'n diep denker, maar swaar van styl. Dr. Verwoerd was dit allermins; hy was lig en vinnig op sy voete. Dit het dikwels na vore gekom in ons kontak met hom.

'n Ander indruk wat ek van dr. Verwoerd gekry het, wyk nogal af van die geykte opvattinge oor hom. Hy was daarvoor bekend dat in sy politieke hierargie hy nie teenstand geduld het nie. As hy iets gesê het, het hy dit gesê en dan was dit hoe dit moes wees. Dit was veral van toepassing op die mense wat onder hom gestaan het in politieke verband en in die kabinet en in die strukture van die party en so meer. Maar by ons, wat sy professionele regsverteenwoordigers en adviseurs was, was sy benadering anders. Hy het altyd na ons geluister asof ons mense was wat die moeite werd was om na te luister en wat met gesag kon praat. By een geleentheid het min. Eric Louw ietwat skerp gereageer op een van ons opmerkings. Dr. Verwoerd het hom tereggewys deur te sê: "Eric, jy moet onthou ons advokate is baie meer geneë om ook die ander kant van 'n saak te sien as ons politici, sodat hulle voorbereid kan wees om dit te hanteer." Hy het intensief geluister en as gevolg daarvan het hy dikwels 'n mening, 'n eie voorneme of plan wat hy vir ons genoem het, gewysig of aangepas of daarvan afgesien. Verskeie voorbeelde sal verderaan genoem word.

Om terug te keer na die saak voor die Wêreldhof. Die Hof se Handves maak voorsiening daarvoor dat daar heel aan die begin "voorlopige besware" teen jurisdiksie van die Hof kan wees. Ons moes dus eerstens besluit oor indiening van so 'n beswaar van ons kant. Regsvrae oor jurisdiksie in ons geval, in die lig van die ontbinding van die Volkebond het al meermale by die VN ter sprake gekom. Min. Eric Louw sê toe dat ons nie voorlopige besware kan opper nie want dr. Dönges het al in 1950 in die VN erken dat die Hof jurisdiksie het. Die geskiedenis hiervan is dat die SA regering in 1950 vir dr. Dönges na die VN gestuur het om Suid-Afrika te verteenwoordig in 'n debat waarvan vooraf geweet is dat pertinente regskwessies ter sprake sou kom. Mnr. Louw kon blykbaar nooit vergeet dat hyself as Minister van Buitelandse Sake toe moes tuisbly nie. As regspan kon ons maklik vasstel dat mnr. Louw se opmerking 'n vergissing was. Dr. Dönges het in die betrokke debat 'n hipotetiese stelling gemaak ten effekte dat selfs al sou die Hof jurisdiksie hê, daar nog sekere ander gevolge sou wees, maar hy het nooit toegegee dat die Hof jurisdiksie het nie. (Ook in ons geval is in latere verrigtinge nie deur 'n enkele regter te kenne gegee dat so 'n erkenning gemaak is nie.)

Dr. Verwoerd het ons advies aanvaar dat niks ons verhoed het om voorlopige besware in te dien nie, en ons gemagtig om voort te gaan met die voorlopige besware teen die jurisdiksie van die Hof. As ons beredenering geslaag het, sou die hele saak daarmee afgehandel gewees het. Op 21 Desember 1962 het die regters egter in 'n reeks uitsprake van 343 bladsye ons besware van die hand gewys, en wel met die kleinste moontlike meerderheid: agt stemme teen sewe. Ons kom toe terug en ons beraadslaag weer met dr. Verwoerd en min. Eric Louw, en ons sê vir hulle kyk, u staan nou voor 'n keuse. U kan moontlik die standpunt inneem u gaan u nie verder aan hierdie ding steur nie want die Hof self is so verdeeld oor die kwessie of hy jurisdiksie het al dan nie, dat dit nie gewig behoort te dra teen ons indien hy hom jurisdiksie aanmatig en in ons afwesigheid 'n uitspraak gee nie. Maar ons voeg toe by dat dit nie is wat ons aanbeveel nie. Ons dink nie enige uitstappery het enigiemand al goed gedoen nie. Ons sou aanbeveel dat 'n mens nou op elke vlak ten volle op die feite weerstand bied. Min. Eric Louw kom toe weer met dieselfde storie en hy sê dat hulle daardie eerste keuse in elk geval nie het nie want dr. Donges het in 1950 erken dat die Hof jurisdiksie het! In ieder geval, byna vanselfsprekend is toe besluit dat ons moet voortgaan en die saak op elke moontlike punt op meriete beveg.

Van 1960 tot 1962 was ons so totaal betrokke by die voorlopige regsargumente dat ons nog nie veel kans gehad het om na die meriete van die saak te kyk nie. Ons praat toe weer met min. Eric Louw en sê vir hom dat dit absoluut noodsaaklik vir ons is om te gaan kyk wat daar in Suidwes-Afrika aangaan, om iemand wat redelik ingelig is oor wat daar gebeur saam met ons te hê om ons die verskillende plekke te gaan wys, dat ons self die mense kan ontmoet, die land sien en die toestande waaronder die mense lewe, sodat ons 'n begrip het van hoe ons die feitebeeld voor die Hof moet plaas. En min. Eric Louw weier. Hy sê hy dink nie dis nodig nie, dis onnodige koste en so aan, ons hoef nie op 'n inspeksie te gaan nie. So 'n paar dae later kry ek 'n oproep van dr. Verwoerd. Hy sê toe vir my min. Eric Louw is nou in die buiteland vir werk van Buitelandse Sake, en hy self neem waar as Minister van Buite- landse Sake en hy het gewonder of daar nie enige probleme aan my kant is wat ek graag met hom sal wil bespreek nie. Ek het toe dadelik vermoed dat hy in die tussentyd gehoor het van die standpunt wat min. Eric Louw ingeneem het. Ek het gretig na hom gegaan en hom die storie vertel. Hy het natuurlik geen probleem hoegenaamd daarmee gehad dat ons op inspeksie moes gaan nie en het dadelik dienooreenkomstig opdragte gegee.

Maar toe sê ek vir hom ek is bietjie bekommerd oor mnr. Louw. Dit lyk vir my waarskynlik dat ons die saak oor die meriete sal verloor, al mag ons in 'n mate steun geniet van sommige van die Westerse state se regters. Dan het ons iemand nodig wat effektief kan optree by die VN wanneer ons met verdere optrede teen Suid- Afrika gekonfronteer word. Ek kry die indruk, sê ek, dat mnr. Louw oud word en dat hy geneig is om nie die kern van 'n probleem raak te sien nie. Hy kry te doen met so 'n debatspunt hier iewers aan die rantjie en dan klou hy daaraan vas, en dan is hy nie eers altyd reg met wat hy daaroor sê nie, en dit is waarby dit bly. Dr. Verwoerd glimlag so, kyk na my en sê: "Jy is heeltemal verkeerd." Ek was natuurlik bietjie uit die veld geslaan. Toe vervolg hy dat dit by hom niks met ouderdom te doen het nie, hy was nog maar altyd so.

Ek vra toe wat gaan nou gebeur. Hy sê: "Man, ek kan nie sommer gesien word om arbitrêre besluite oor die kabinet te neem nie, veral wanneer dit gaan oor 'n leier in 'n ander provinsie, soos wat nou die geval is met Eric Louw. Ons sal nou eers sake kans moet gee om te ontwikkel."

En werklik waar, nadat ons vir byna vier jaar met die meriete van die saak te doen gehad het in Den Haag en dit al naby die eindpunt gekom het, toe bedank min. Eric Louw sonder enige omhaal en word Hilgard Muller aangestel as Minister van Buitelandse Sake.

Die inspeksie het plaasgevind en ons het kom rapporteer. Dr. Verwoerd was besonder geïnteresseerd. Hy het dadelik verskillende dinge laat doen in SWA, op grond van ons aanbevelings (die besonderhede is nie hier van belang nie) en kort daarna die Odendaal-kommissie aangestel om volledig verslag te doen oor die omstandighede in die gebied - weer 'n voorbeeld van bereidwilligheid aan sy kant om ag te slaan op advies van ons kant.

Nou wil ek van 'n insident vertel wat in Pretoria plaasgevind het terwyl ons daar gewerk het aan gedetailleerde skriftelike beantwoording van die applikante se merietesaak, soos vereis deur die reëls van die Hof. Dit was al op die stadium dat ons teenmemorie ingedien was, die teenparty daarop geantwoord het en ons nou ons laaste repliek moes lewer. Toe blyk dit dat daar vroeër 'n fout ingesluip het in die inligting wat vir doeleindes van ons teenmemorie deur die generaals van die Departement Verdediging aan Buitelandse Sake deurgegee is in verband met die klag oor militarisasie. Ons het dit net so gebruik in die teenmemorie en dit was eers by die stadium van die finale repliek dat die foutiewe inligting onder ons aandag gekom het, juis omrede van wat die applikante in antwoord op ons teenmemorie gesê het. Die fout in ons teenmemorie was duidelik.

Die Eerste Minister was op daardie stadium in die Uniegebou waar ons gewerk het. Ek was besig met 'n ander aspek van die saak maar van die ander advokate en agente het met hom hieroor gaan praat in teenwoordigheid van die generaals wat die fout gemaak het en dit nie graag wou erken nie. Dr. Verwoerd stel toe 'n slim antwoord vir ons op. Gerhardt Jooste, die Sekretaris van Buitelandse Sake, kom toe na my en sê dit is wat dr. Verwoerd wil hê ek moet skryf. Ek lees dit deur en sê vir hom ek gaan dit nie doen nie. Dit was vir my duidelik, hoe mooi dit ook al klink, dat die punt ontwyk word. Gerhardt sê toe vir my: "Maar hy is die Eerste Minister! En as die Eerste Minister dit sê dan moet jy dit doen."

Ek antwoord: "Hy is die Eerste Minister en hy kan vir my sê wat sy beleid is en dat ek niks moet sê wat teenstrydig is met sy beleid nie, maar hy kan nie vir my voorsê oor die metodes waarvolgens ek die saak moet voer nie. Want as 'n mens hierdie ding gebruik en jou teenstander is enigsins iets werd, dan gaan hy daarop konsentreer en hy gaan krap en krap en krap aan my daar in die hof, totdat hy op die ou end bewys dat ons probeer het om die punt te vermy en dan het hy 'n geweldige atmosfeer geskep. In elk geval gaan dit oor 'n ondergeskikte ou puntjie. Dit is van geen waarde nie. Hulle saak oor militarisasie is in elk geval hopeloos, hulle sal nooit daarmee slaag nie, dus, die kool is die sous nie werd nie. Ons moet liewer ons fout erken en regstel".

"Nee, sê hy, jy kan dit nie doen nie." Naderhand vra ek hom om asseblief 'n afspraak met dr. Verwoerd vir my te reël om daaroor te praat.

Ek onthou goed dit was 'n Saterdagmôre om twaalfuur daar by Libertas waar ons toe wel ontmoet het. Dr. Verwoerd sê so met 'n glimlag: "Ek hoor jy reken ek wil jou onprofessioneel laat optree."

"Nee," sê ek, "laat my toe om te verduidelik." Ek gee toe dieselfde verduideliking as hierbo, maar ek is nog maar net halfpad, toe snap hy alles. Hy sê, wel, as ek dit so aan hom stel dan begryp hy dit absoluut en ek moet dit doen op die manier wat ek wou deur te erken dat daar 'n fout was en apologie aan te teken en dan te sê wat die werklike posisie is.

Gerhardt Jooste wou nog teenstribbel en sê: "Maar Doktor, moet 'n mens die erkenning maak?"

Dr. Verwoerd kyk so na hom en sê: "Maar man, die man het vir jou verduidelik as hy dit nie doen nie sal hulle hom uit sy hole kom uithaal!" Daardie uitdrukking wat hy gebruik het, was vir my baie treffend. En dit was weer 'n voorbeeld van sy vlugheid van begrip en bereidwilligheid om na advies te luister en voorgenome optrede te verander.

Daar was nog so 'n geval naby die einde van die hofsaak. Ons het in 1964 besluit om 'n aantal deskundiges te roep om mondelinge getuienis in Den Haag te gaan lewer oor verskillende aspekte van die saak, onder andere die ekonomiese, opvoedkundige en politieke aspekte van die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Daar was deskundiges van oorsee en ook bekende Suid-Afrikaners soos dr. WWM. Eiselen, ds. J.S. Gericke, prof. J.E Bruwer en prof. C.H. Rautenbach. Ons span het die naam van mnr. PJ. Cillie, redakteur van Die Burger, voorgelê om die politieke aspek te hanteer. Aanvanklik het dr. Verwoerd nee gesê. Daar was 'n paar jaar tevore, 1960/1961, so 'n ligte kopstampery tussen hulle oor politieke regte vir die kleurlinge. Dr. Verwoerd het iemand anders voorgestel maar ek het toe aan hom verduidelik dat daar probleme in hierdie verband bestaan (wat dit was, kan ek nie meer onthou nie). Hy het geluister en op die ou end gesê, nou maar goed, laat Piet Cillie dan maar gaan.

Wat interessant is, is dat Piet Cillie in sy getuienis 'n skitterende pleidooi gelewer het, en in die loop daarvan 'n stelling gemaak het waarop 'n mens sou dink dat dr. Verwoerd dalk sou wil reageer. Hy het dit egter nooit gedoen nie, nie teenoor my nie en sover ek weet ook nie in die openbaar nie. Dr.Verwoerd se visie vir die toekoms het sterk daarop gesteun dat namate die tuislande en veral die grensgebiede ekonomies ontwikkel, die swart mense uit die stede sal terugtrek na hulle eie gebiede. Piet Cillie het in die Hof gesê dat as daar teen die middel van die sewentigerjare (destyds tien jaar vorentoe) nog nie veel van so 'n terugtrekkery gekom het nie, die beleidmakers weer na hul tekenborde sal moet teruggaan en die beleid hersien.

Slegs een keer het ek dr. Verwoerd 'n stelling hoor maak wat as rassisties beskryf kan word, maar wat verstaanbaar is as 'n oorblyfsel van die ou koloniale stelsel. 'n Sekere hoofman in Suidwes- Afrika wat iets gedoen het waarvan die regering nie gehou het nie, is lewenslank na 'n ander plek verban. Ek het gemeen dit kan teen ons gebruik word in die Wêreldhof en het gevra of die straf nie dalk versag kan word nie. Hy het toe gesê: "In 'n primitiewe samelewing moet jy hard slaan as jy wil slaan, anders verstaan hulle dit nie."

Dr. Verwoerd was bekend vir sy logiese denkwyse soos dit in sy toesprake in die parlement en voor geesdriftige gehore na vore gekom het. Hy het nie veel van retoriek gebruik gemaak nie. Daarom het hy sy teenstanders in 'n debat gewoonlik oorskadu. In my ondervinding as advokaat het ek egter dikwels gevind dat iemand wat logies redeneer by 'n sekere gevolgtrekking uitkom wat jou aanvanklik laat wonder hoe hy dit reggekry het. Volg jy sy argumente stap vir stap terug tot by die wegspringpunt of premis, dan vind jy miskien een enkele kinkel in die kabel wat maak dat hy daardie gevolgtrekking kon bereik.

Die saak voor die Wêreldhof het uiteindelik op Maandag 18 Julie 1966 ten einde geloop met 'n uitspraak wat as 'n groot oorwinning vir Suid-Afrika bestempel kon word. Dit was 'n naelskraapse oorwinning, met die beslissende stem die van die president van die regbank, sir Percy Spender van Australië. Die grondslag van die beslissing was dat Suid-Afrika, wat die mandaatbepalinge ten gunste van die inwoners van Suidwes-Afrika betref, geen regsverpligtinge teenoor die applikantstate of enige ander individuele state het nie.

Dit was dus nie eers vir die Hof nodig om op die meriete van die saak in te gaan nie. Die applikante het egter ook in die loop van die saak in ander opsigte die onderspit gedelf. Na Suid-Afrika se uiteensetting van die ware feite in die pleitstukke voor die Hof, was hulle verplig om alle aantygings van onderdrukking, militarisasie en benadeling te laat vaar. Uiteindelik was die aanklag beperk tot 'n wankele regsbetoog dat daar 'n norm oor die hele wêreld bestaan wat alle vorme van amptelike differensiasie, hoe voordelig ook al, onwettig maak

Adv. G. van R. Muller en ek, as die twee senior advokate, was in Den Haag om die uitspraak aan te hoor en adv. E.M. Grosskopf, die latere appèlregter, was in Kaapstad om dr. Verwoerd in te lig. Dr. Verwoerd het nog dieselfde dag van sy vakansieverblyf op Bettysbaai teruggekeer om sy reaksie op die uitspraak in 'n radioboodskap uit te saai. Die teks is in die SAUK-ateljee in Kaapstad saam met die advokate gefinaliseer. Veral treffend is die versoenende en idealistiese toon van die boodskap, wat so eindig:

Ten slotte wil ek graag sê dat, waar die uitspraak vir ons as 'n nasie klaarblyklike stof tot dankbaarheid bied, en deur baie as 'n antwoord op hul gebede aanvaar sal word, Suid-Afrikaners dit nie sal beskou as 'n aanleiding om oor teenstanders te kraai nie. Eerder wil ons daarin 'n aansporing sien om ons opnuut te wy aan die voogdyskap wat ons aanvaar het teenoor die minder ontwikkelde volkere van Suid- en Suidwes-Afrika.

Ons gaan voort met die taak om hulle te lei tot selfverwesenliking, op 'n wyse wat vreedsame en vriendskaplike naasbestaan vir al die volkere van Suider-Afrika moontlik maak. En ons hou die deur van vriendskap oop vir alle ander Afrikastate in die hoop dat meer en meer van hulle mettertyd daarvan gebruik sal maak. Dit is hulle wat veel meer die voordeel hieruit sal pluk as die republiek self.

Ook wil ons die hoop uitspreek dat alle state hieruit sal leer dat inmenging in mekaar se sake niemand tot voordeel strek nie, en dat die wêreldvrede en die daaglikse belange van elke gewone mens die beste gedien sal word indien elke regering al sy kragte wy aan eie landsontwikkeling, met hulp aan mekaar as die grondslag van internasionale politiek in plaas van kritiek, na-ywer, inmenging en botsing. Daar is geen grootser diens aan die mensheid te lewer nie as die bewerkstelliging van vreedsame naasbestaan van nasies waarin elkeen sy eie kans tot ontplooiing op sy eie manier gegun word.

Hierdie woorde was in werklikheid dr. Verwoerd se laaste boodskap. Dit was die laaste openbare uiting van sy gedagtes. Die volgende geleentheid wat hy sou hê om verder oor die gevolge van die Wêreldhofsaak en die ontplooiing van sy beleid te praat, was in die parlement op 6 September, die dag toe Tsafendas hom vermoor het. Die vraag oor wat hy daardie dag wou uiter, hang in die lug. Dit kan wees dat hy op daardie stadium nog nie veel wou sê nie, hangende die houding in die Algemene Vergadering van die VN. Dit kan ook wees dat hy verdere planne wou aankondig vir die opheffing en selfbeskikking van die swart mense.

Vir myself het die hofsaak 'n nasleep gehad. Dr. Hilgard Muller, Minister van Buitelandse Sake, is afgevaardig om die volgende sitting van die Algemene Vergadering by te woon en aangesien algemeen verwag is dat die Wêreldhofsaak ter sprake sou kom, is dit goed gedink dat adv. Muller en ek hom vergesel. By die eerste twee geleenthede het ek self die VN toegespreek. Terwyl ek opgeloop het na die verhoog, het die verteenwoordigers van die Afro- Asiatiese state en sommige van hulle aanhangers uitgestap. Net 'n handjievol mense van die Westerse lande en ander wat hulle nie laat beïnvloed het nie, het in die saal agtergebly. Maar in die aande, wanneer die transkripsies en vertalings beskikbaar raak, staan hulle in lang toue om dit te koop. Hulle wou weet wat ek gesê het. Wat hulle eie toesprake betref, kon daar netsowel geen uitspraak gewees het nie. Hulle het geen notisie daarvan geneem nie. 'n Mens kon hulle woede en frustrasie verstaan. Oor jare wou hulle hê die Veiligheidsraad moet toestem tot sanksies of ander drastiese optrede. Dan het die Westerse nasies gesê kyk, die saak is voor die Hof, laat daar eers 'n hofbeslissing kom, dan het ons 'n basis om op te tree. Toe kom die uitspraak. Uit hulle oogpunt was dit 'n "damp squib", en 'n verskriklike teleurstelling. Die emosies het dus hoog geloop.

Die aanslag teen die republiek het natuurlik nie daar geëindig nie. Die Algemene Vergadering het die een besluit na die ander geneem wat buite sy bevoegdheid was. So is daar reeds in 1966 besluit om Suidwes-Afrika onder VN-beheer te plaas en die jaar daarna is 'n mislukte poging aangewend om die administrasie oor te neem. Vervolgens is 4 Oktober 1969 as sperdatum gestel vir Suid- Afrika om sy beheer te beëindig. Twee jaar later het die Wêreldhof in 'n adviserende mening op versoek van die Veiligheidsraad bevind dat Suid-Afrika se voortgesette teenwoordigheid in Suid-wes-Afrika onwettig is.  Al hierdie pogings om druk uit te oefen is deur Suid-Afrika geïgnoreer soos hy geregtig was om te doen. In 1972/73 was daar vrugtelose onderhandelings met die sekretaris-generaal, dr. Kurt Waldheim. Uiteindelik het die VN in 1973 'n besluit geneem waarvolgens SWAPO as enigste wettige verteenwoordiger van die inwoners van SWA erken word, en in 1974 is Suid-Afrika se geloofsbriewe verwerp, wat hom die reg ontneem het om in die Algemene Vergadering te praat. In 1977 is 'n verpligte wapenboikot teen Suid-Afrika afgekondig en ander vorme van sanksies deur individuele lande en organisasies het gevolg. Die militêre betrokkenheid in Angola het sake verder laat versleg totdat Suidwes-Afrika oplaas in 1990 onafhanklikheid verkry het. Die gunstige hofuitspraak van 1966 het dus geen blywende effek gehad nie, behalwe dat dit die aanslag 'n hele paar jaar langer vertraag het.

Om op te som: dr. Verwoerd het 'n kardinale rol gespeel by aanvang van die saak deur duidelike riglyne te stel waarbinne ons moes optree. Wanneer ons in Pretoria was, het ons nou en dan 'n samespreking met hom gehad en as dit nodig was het mnr. Pik Botha (as agent van Buitelandse Sake) met mnr. Eric Louw of die Eerste Minister gekommunikeer, maar dit was nie dikwels nodig nie. Dr. Verwoerd het vertroue in die regspan gehad en het ons toegelaat om die saak te voer soos ons goed dink. Hy het nie ingemeng of enigiets probeer voorskryf nie. Ek dink die sukses wat ons behaal het, kan tot 'n groot mate juis aan hierdie houding van hom toegeskryf word.

Dr. Verwoerd was seersekerlik 'n merkwaardige man. Hy was die toonbeeld van hoflikheid. Hy het nooit sy humeur verloor of rusie gemaak nie. En hy was indrukwekkend. Piet Cillie, ek en 'n paar ander persone het dikwels in Kaapstad middagete geniet saam met buitelandse besoekers, baie van hulle gaste van die Departement van Inligting, nadat hulle die Eerste Minister te spreke gekry het. Hulle het gewoonlik dieselfde indrukke van hom aan ons oorgedra as wat ekself gehad het: sy vermoë om 'n saak feitlik onmiddellik te snap, sy hoë intellek, sy vriendelikheid en die beskaafde manier waarop hy dinge gehanteer het.

Dit was vir my 'n groot voorreg om hom te ken.

Opsoek na inligting?

  • BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

     

    _____________________

     

     Laserskywe in stelle van 10 te koop

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

     

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

 

GRATIS E-BOEKE EN VERSBUNDELS OM AF TE LAAI:

 

As God volke aan hul eie lot oorlaat

Die waarheid oor ons volk en die Nuwe SA

Volksverraad geskryf deur adv. P.J. Pretorius

'n Oorblyfsel... deur genade alleen

Christen-Teokratiese Separatisme

Verse van Verset

Vreedsame Naasbestaan = Afsonderlike Ontwikkeling

No Ships in the Harbour

Ons heilsverhaal in die Ou Testament

Daniel

Evolusie - kan ek dit glo?

Petrus, die rots

Romeo en Juliet

Ester

Apokriewe - By modderpoele of suiwer fonteine?

Midsomernagdroom - Shakespeare in Afrikaans

Die Openbaring van Henog

Die Derde Tempel

Macbeth - Shakespeare in Afrikaans

Met ryperd en mauser

Goue strate het nie stof nie

Derdepoort

Die Laaste Pous

Josef

Rut

Drie Eeue van Onreg

Ons Geskiedenis

Engelse skandvlekke

Voortrekker-Pioniers in Oos-Transvaal

_______________

 

 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________                                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1645 gaste aanlyn