NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

As gelowige Boerevolk het ons vandag die versekering dat God 'n deel van ons volk nie die knieë voor Baäl laat buig het nie, net soos Hy aan Elia gesê het toe dié gekla het dat die hele volk ten gronde is: dat Hy vir Hom 7 000 man uitgehou het en dat Hy dit in "teenswoordige tyd" weer sal doen – uit suiwer genade, nie uit ons verdienste nie. Daarom mag ons daarop staatmaak!

HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (5)

Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd

BUITELANDSE SAKE EN DR. VERWOERD

Brand Fourie

Dr. B.G. Fourie het sy diplomatieke loopbaan in 1939, kort voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, in Berlyn begin. Hy was betrokke by die stigting van die Verenigde Nasies in 1945. Van 1947 tot 1952 was hy lid van Suid-Afrika se vaste verteenwoordiging in hierdie organisasie. Terwyl hy op hoofkantoor in Pretoria was (1952- 1958), het hy ook feitlik elke jaar die sittings van die Algemene Vergadering bygewoon. Van 1958 tot 1962 was hy Suid-Afrika se ambassadeur by die VN in New York. In 1963 is hy aangestel as Sekretaris van Inligting en in Julie 1966 as Sekretaris van Buitelandse Sake. Na 16 jaar in hierdie pos het hy nog drie jaar gedien as ambassadeur in Washington D.C. In 1985 het hy afgetree na byna 'n halfeeu in diens van Suid-Afrika op die diplomatieke front.

Dr Fourie aan die woord:
SUID-AFRIKA se Eerste Ministers, behalwe mnr. Strijdom, was mos almal soort van superministers van Buitelandse Sake. Dit behoort dus niemand te verbaas nie dat ek, as 'n relatiewe jong ambassadeur by die VN, nie net te doen gehad het met my eie minister, mnr. Eric Louw, nie maar dikwels ook regstreeks met dr. Verwoerd. Ek het geredeliker toegang tot hom gehad as die meeste staatsamptenare in senior posisies. So was ek byvoorbeeld teenwoordig by feitlik al die samesprekings met mnr. Dag Hammarskjöld, sekretaris-generaal van die VN, in 1961.

Daardie interessante stukkie geskiedenis het begin met die Sharpeville-insident op 21 Maart 1960, toe 69 swart mense in 'n botsing met die polisie omgekom het. Dit het groot opskudding by die VN veroorsaak (terwyl geen woord gerep is oor die wrede vermoording van 'n aantal blanke polisiemanne twee maande tevore by Cato Manor nie). Dit het naderhand so ver gegaan dat die Veiligheidsraad byeengeroep is. Ek was vir 'n paar dae tuis, maar moes dadelik terug na New York om Suid-Afrika se saak in die Veiligheidsraad te stel, die eerste Suid-Afrikaner wat in daardie posisie beland het. Oom Eric het gesê ek moes hamer op artikel 2(7) wat inmenging in die huishoudelike sake van 'n lidland verbied. Maar jy kan nie vir 40 minute net daaroor praat nie en ek het toe my rede ook oor die boeg gegooi dat enige regering in die eerste instansie moet toesien dat wet en orde gehandhaaf word.

Suid-Afrika was natuurlik al van die begin af in die spervuur by die VN oor die behandeling van mense van Indiese herkoms, en oor die Suidwes-Afrika-mandaatgeskil. Na die Sharpeville- gebeure was die vet letterlik in die vuur en by die VN het die gevaarligte oral geflikker. Tydens die besprekings in die Veiligheidsraad het sommige lede die onmiddellike instelling van sanksies gepropageer. Van die Westerse lande het dit egter as oorhaastig beskou en uiteindelik is 'n resolusie aanvaar wat onder andere gevra het dat Suid-Afrika sy beleid van apartheid en rassediskriminasie laat vaar en maatreëls tref om rasseharmonie tot stand te bring (wat toe nie gebeur het nadat apartheid afgeskaf is nie). Verder is die sekretaris-generaal versoek om in oorleg met die Suid-Afrikaanse regering voldoende reëlings te tref om die doelstellings en beginsels van die Handves van die Verenigde Nasies te handhaaf.

Die Suid-Afrikaanse regering wou nie afwyk van sy standpunt dat die VN geen reg tot inmenging het nie. Persoonlik het ek gevoel dat iets gedoen sal moet word om die vyandige gesindheid van die buitewêreld teen Suid-Afrika die hoof te bied. Op versoek van die sekretaris-generaal, mnr. Hammarskjöld, het ek samesprekings met hom begin en hom 'n baie redelike persoon gevind. Hy was ook nie van plan om juis een bepaalde opsie na te streef nie, of om die saak op 'n emosionele manier te benader nie. Ten einde ons ras juridiese standpunt tegemoet te kom, het hy later voorgestel dat ons met hom moes praat op die beginsel dat die sekretaris-generaal slegs op grond van sy gesag ingevolge die Handves optree. Hy het onder andere gesê: "Indien ek die geleentheid kan kry om met jou Eerste Minister te gesels, dan kan ek hom vertel wat die atmosfeer hier is en dan kan ons saam probeer om die situasie te laat afkoel." Toevallig moes minister Eric Louw op daardie stadium die Statebonds-premierskonferensie in Londen bywoon terwyl dr. Verwoerd besig was om aan te sterk na die aanslag op sy lewe deur Pratt. Dit het 'n gulde geleentheid verskaf om die voorgestelde formule met mnr. Louw te bespreek. Hammarskjöld en ek is toe saam oor Londen toe en die voorlopige samesprekings het op die 14 Mei 1960 plaasgevind. Mnr. Louw het ingestem met die formule, dr. Verwoerd is ingelig oor die voor- en nadele van so ’n besoek, en hy het dadelik gesê: "Laat die man kom."

Hammarskjöld se besoek aan Suid-Afrika is vertraag  as gevolg van die chaotiese toestande waarmee die onafhanklikwording van die Kongo gepaard gegaan het en die betrokkenheid van die VN  daarby. Hy het uiteindelik op 6 Januarie 1961 in Suid-Afrika geland. Na een middag se gesprek het hy en dr. Verwoerd mekaar verstaan. Dit beteken nie dat hulle mekaar oortuig het nie. Hammarskjöld was beïndruk deur dr. Verwoerd se intellektuele vermoëns, sy integriteit en die doelgerigtheid waarmee hy 'n oplossing van ons bevolkingsvraagstuk nagestreef het. Soos ek die samesprekings opgesom het, was Hammarskjold nie heeltemal oortuig dat aparte ontwikkeling die oplossing vir ons is nie, maar hy was oortuig van die opregtheid van dr. Verwoerd se siening. Aan die ander kant het dr. Verwoerd gesien Hammarskjold is 'n man van hoë intellek op wie se woord hy kon vertrou.

Dr. Verwoerd was nie 'n man wat onsinnighede geduld het nie. In die paar dae wat Hammarskjold hier was, moes ek hom vergesel op 'n rondreis na die Transkei. Die aand in Umtata word hy onthaal, op regeringskoste natuurlik, met die kommissaris-generaal, oom Hans Abraham, as gasheer. Wat oom Hans besiel het weet ek nie, maar daar begin hy in sy toespraak teen die VN uitvaar. Naderhand sê mnr. Hammarskjold vir my: "How long must I continue to suffer this indignity? I think I'll walk out."

Ek moes vinnig paai om dit te verhoed. "No please, Mr. Hammarskjöld, oom Hans is becoming overenthusiastic, please let it pass. I will do something about it." Dit is al laat, maar dr. Verwoerd het vooraf gesê as enigiets verkeerd loop, moet ek hom dadelik skakel, dag of nag. Ek bel hom toe en dit was nie 'n halfuur daarna nie toe vreet hy oom Hans oor die telefoon uit.

Met ons terugkeer na Pretoria, het dr. Verwoerd en Hammarskjöld weer gesels en in 'n kort verklaring gesê dat die samesprekings "frank, constructive and helpful" was. Van sy kant het Hammarskjöld besluit om in voeling te bly, veral omdat dr. Verwoerd aangedui het dat hy graag met die beraadslagings sou wou voortgaan.

Voor Hammarskjold se vertrek het dr. Verwoerd gesê as dit ooit nodig is om regstreeks met hom in aanraking te kom, moet hy net vir Brand Fourie inroep, dan sal hy dit reël. En dit het toe ook werklik gebeur. 'n Sweedse dame is in Suid-Afrika gearresteer en sou onder die Ontugwet aangekla word. Die sekretaris-generaal roep my toe in. "Sê tog vir die Eerste Minister ek vra niks ampteliks nie, ek probeer nie inmeng met die regsproses nie; maar jy sien self hoe word dit teen my kop gegooi as ek sê ons het in 'n goeie gees gesels, en nou gebeur so iets." Ek het dit persoonlik aan dr. Verwoerd oorgedra en hy het gesê: "Laat dit 'n bietjie by my." Ek het nie weer van hom gehoor nie maar binne 'n week of twee is die vrou so stil-stil gedeporteer.

Die goeie verstandhouding met Hammarskjöld het baie vir my beteken in New York. Ek was ambassadeur van die onpopulêrste land en dit was soms moeilik om deur te dring. Sy deur het ná daardie ontmoeting altyd vir my oopgestaan. Ek kon feitlik enige tyd, op 'n halfuur kennisgewing, 'n onderhoud met Hammarskjöld kry. Hy was bereid om met idees te kom oor hoe om die ergste probleme met die VN te vermy. Dit sou vergesog wees om te beweer hy was 'n vriend van Suid-Afrika, maar die goedgesindheid wat daar was, was gebaseer op sy respek vir dr. Verwoerd. Daar was weer 'n opflikkering van hoop in ons soeke na 'n vergelyk met die VN. En toe sterf Hammarskjöld op 1 September 1961 tragies in 'n vliegtuigongeluk by Ndola in Zambië.

Binnelandse veiligheid was 'n ander saak wat dr. Verwoerd se voortdurende aandag geverg het. Die Departement van Buitelandse Sake was normaalweg nie daarby betrokke nie, maar daar was 'n tyd toe ANC-terroriste, elke keer as die polisie op hul spoor is, net eenvoudig oor die grens geglip het na veiligheid. Daar was dikwels verdagtes wat naarstiglik deur die polisie gesoek is, sonder sukses. In dr. Verwoerd se tyd as Eerste Minister was die opdrag baie duidelik: vang hulle, maar doen niks onwettigs nie. Toe eendag kom rapporteer die polisie aan dr. Verwoerd dat hulle een van die belhamels gevang het, en hulle is so trots dat dit bars. Hy komplimenteer hulle en vra bietjie uit hoe dit gebeur het. Dit blyk toe dat hulle skelm in die nag die grens oorgesteek het om hul man te arresteer. Hy sê: "Het julle daardie mense se toestemming gevra? Het Buitelandse Sake dit vir julle gedoen?"

Die antwoord was nee, Buitelandse Sake het nie eers daarvan geweet nie. Toe sê hy: "Ek gee julle 36 uur dan lewer julle hierdie man af presies waar julle hom gekry het. Dit was 'n onwettige daad, dit is teen die internasionale reg en dit kan die ernstigste reperkussies hê."

Dr. Verwoerd se goed voorbereide optrede by vergaderings was altyd indrukwekkend. Hy was hardwerkend en het baie ministers se portefeuljes skynbaar net so goed geken as hulself. As daar nou een persoon was wat 'n klomp mense om 'n tafel kon uitluister sonder om hulle in die rede te val, dan was dit hy. Hy sou lei en vrae vra, maar na almal luister en aan die einde opsom. Dan sou hy byvoorbeeld sê, dit en dat is gesê, dit is logies en dit is nie logies nie, en die gevolgtrekking is so en so. Daarna moes mense nie nog terugkrabbel nie. Hy het die gawe gehad om 'n hele debat so te analiseer en daarmee die saak te finaliseer. Daar het nie nog los drade in die lug bly hang nie. Ek het hom nooit beskou as iemand wat dogmaties is, wat net een idee in sy kop het nie. Hy het duidelikheid gehad oor die rigting wat ingeslaan moes word maar as daar goeie redes was, kon enige saak heroorweeg word. En hy het nie tyd gemors met beuselagtighede nie. Hy moes hom seker by geleentheid bitter vererg het, maar hy het dit nooit gewys nie. Kyk nou maar byvoorbeeld hoe kalm en beredeneerd hy op daardie toespraak van Macmillan geantwoord het. Ek onthou dat dr. Verwoerd, wat naby hom gesit het, agterna vertel het dat Macmillan so senuweeagtig was dat sy vingers amper nie die bladsye kon omblaai nie.

Die ding wat ons by die VN die meeste hoofbrekens besorg het, was die kwessie van die toekoms van Suidwes-Afrika, wat 43 jaar lank voortgesleep het. In dr. Verwoerd se tyd is ons onder andere beskuldig dat ons in dié gebied geheime militêre basisse ingerig het - iets wat van alle waarheid ontbloot was. Dr. Verwoerd, sowel as minister Eric Louw het volgehou dat Suid-Afrika niks het om weg te steek nie en het goedgekeur dat 'n afvaardiging van die Algemene Vergadering se Suidweskomitee toegelaat word om self te kom kyk, ten spyte van ons standpunt dat die VN geen toesighoudende funksie oor die mandaatgebied het nie. Die voorsitter was sir Charles Arden-Clarke van Brittanje. Hy was 'n vorige goewerneur van Nigerië en was ook as jong man betrokke by die protektorate, dus was Afrika nie vir hom vreemd nie. Ek het hom en sy geselskap op 'n toer deur Suidwes-Afrika vergesel, en was ook by die samesprekings met dr. Verwoerd. Dit was in 1958. Sir Charles was baie beïndruk met alles wat in Suidwes bereik is. Hulle rapporteer toe dat geen tekens gevind is van die ernstigste beskuldigings teen Suid- Afrika nie. Die Vierde Komitee van die Algemene Vergadering was so kwaad dat die Arden-Clarke-komitee sonder meer ontbind is en sy bevindings eenvoudig doodgeswyg is.

Die volgende wat gebeur het, was dat Ethiopië en Liberië in 1960 'n saak teen Suid-Afrika by die Wêreldhof in Den Haag aanhangig gemaak het oor Suidwes-Afrika. Die sogenaamde Suidwes- saak het eers in 1966 ten einde geloop met 'n uitspraak wat vir dr. Verwoerd, kort voor sy dood, 'n riem onder die hart was en die VN se kaarte ten minste tydelik omgekrap het. Op daardie stadium was ek Sekretaris van Buitelandse Sake en ek onthou nog goed hoe ons advokate my in die nag uit Den Haag gebel het om te sê die uitslag kom binne 'n paar uur en dit lyk gunstig. Ek het dr. Verwoerd vroeg die volgende oggend geskakel om die nuus oor te dra.

In die ses en 'n half jaar tussenin het ons vyande by die VN egter nie stilgesit nie. In Desember 1961 het die Algemene Vergadering 'n nuwe spesiale komitee vir Suidwes-Afrika gestig met die opdrag om die gebied voor 1 Mei 1962 te besoek. As voorsitter is mnr. Victorio Carpio van die Filippyne gekies en as ondervoorsitter dr. Salvador Martinez de Alva van Mexiko. Die gesprekke daarna het in 'n baie goeie gees plaasgevind en dit het begin lyk of 'n beter begrip vir die werklike situasie in Suidwes-Afrika dalk bereik kon word, en wel as gevolg van die buigsaamheid van die Suid-Afrikaanse regering. Met die goedkeuring van dr. Verwoerd is 'n uitgebreide program en besoek aan Suidwes-Afrika gereël wat van 7 tot 26 Mei 1962 sou duur. Dr. Verwoerd het persoonlik die besprekings gelei. Hy het 'n duidelike uiteensetting gegee van Suid- Afrika se beleid en strewe om die posisie van die mense in Suidwes- Afrika te verbeter en het klaarblyklik 'n diep indruk op Carpio gemaak. Dr. Verwoerd het die besoekers verseker dat hulle kon sien net wat hulle wou en praat met wie hulle wil. So gesê, so gedaan; maar waar het dinge dan verkeerd geloop?

Oor Carpio se kaperjolle is al genoeg geskryf. Vir die Suid- Afrikaanse pers en publiek het dit 'n paar weke lank ligte vermaak verskaf maar ongelukkig het dit al die goeie bedoelings van die besoek en die belowende tekens na die aanvang van die samesprekings getorpedeer. Boonop kon dit op 'n heel tragiese noot geëindig het toe dr. Martinez de Alva so byna-byna in die Zambesirivier verdrink het. Ek was self in die water, maar kon gelukkig swem; De Alva nie. Dit was Carpio wat daarop aangedring het om na Katima Mulilo te gaan, waar daar veronderstel was om groot Weermagsametrekkings te wees en die reisplan is toe op sy versoek aangepas. Maar die vlugte met die Dakota in die hitte van Suidwes- Afrika het hom taamlik groen om die kiewe gelaat en die KWV-brandewyn, waarvoor Carpio so lief was, het sake vererger. Die vorige aand het ons by die Tsumkwe-Boesmans gekuier en dié het hom blykbaar skrikgemaak. Hy sê toe hy het genoeg gehad, hy bly agter. Martinez de Alva moes maar oorneem. Katima Mulilo is 'n stil plekkie en daardie namiddag het die Bantoe-kommissaris vir Oos-Caprivi, mnr. Boshoff, drie van ons op 'n motorbootrit op die rivier geneem. Dit is toe dat die boot begin lek het, 'n deel van die bodem naderhand meegegee het dat ons almal in die sterk-vloeiende rivier beland het. Dit was amper 'n wonderwerk dat ons betyds met 'n ander boot opgepik kon word. Terug in Pretoria moes die verantwoordelike amptenare aan dr. Verwoerd verslag doen oor die hele ekspedisie. Hy het hulle behoorlik die kop gewas oor die boot-insident wat hy as hoogs onverantwoordelik beskou het. Vir die VN was die hele debakel 'n groot verleentheid en vir omtrent 'n jaar daarna is ons redelik met rus gelaat.

Daar is iets in verband met die Suidwes-saak wat ek weggelaat het in my boekie Brandpunte omdat dit destyds nog so sensitief was, en ek nie 'n verkeerde konnotasie aan dr. Verwoerd se woorde wou heg nie. Dr. Verwoerd was ten volle op hoogte van die dokumente wat deur ons regspan aan die Hof voorgelê is. Die beginselbesluite is deur hom geneem. Op een stadium het die regspan gevoel hulle het 'n sterk saak wat die swart mense van Suidwes betref, en dit vind selfs aanklank by die Hof dat ons die Ovambo's, Herero's en ander wil help op hul pad na onafhanklikheid. Op ons vraag: "Maar wat van die kleurlingmense; hulle praat ons taal en deel ons kultuur, watter logiese redes kan ons aanvoer vir ons beleid teenoor hulle?" het dr. Verwoerd geantwoord dat daar geen logiese redes is nie. Ons vra toe of daar dan nooit vir hulle 'n oplossing sal wees nie. Hy het 'n oomblik nagedink en toe geantwoord: "Eventueel sal die kleurling sy politieke toekoms saam met die blanke moet vind. Maar die tyd is nog nie reg nie."

Dit was vir my so 'n nuwe stelling dat ek dit nie sommer so op my eie in my boekie wou publiseer nie. Ek het toe wyle hoofregter Pierre Rabie se opinie gevra want hy was by toe dr. Verwoerd dit gesê het. Hy sê toe dit is heeltemal korrek maar ons moes onthou dat dit betrekking gehad het op Suidwes, nie Suid-Afrika nie. Mense mag verkeerde afleidings maak. Daarom het ek dit weggelaat. Soos ek dr. Verwoerd geken het, twyfel ek egter of hy een visie vir Suidwes se kleurlinge en 'n ander vir die republiek se mense sou gehad het. Hy was te konsekwent daarvoor.

'n Ander aangeleentheid waarin ek dikwels regstreeks aan dr. Verwoerd moes rapporteer was die hantering van Rhodesië se eensydige onafhanklikheidsverklaring op 11 November 1965 deur die destydse premier, mnr. Ian Smith. Ons was tussen twee vure: Rhodesië wou baie graag hê dat ons hul onafhanklikheid erken, die Britte wou hê ons moes alle betrekkinge verbreek. Dr. Verwoerd het sy standpunt duidelik gestel: Suid-Afrika volg sy eie beleid. Ons sal ons nie Brittanje se gramskap op die hals haal deur die onafhanklikheid te erken nie, maar ons is goeie bure en alle ooreenkomste wat met Rhodesië as Britse kolonie en later as selfregerende lid van die gemenebes aangegaan is, sal onveranderd bly. Om dit in die praktyk uit te voer, skep hy toe 'n Rhodesiese komitee onder die voorsitterskap van die Sekretaris van Buitelandse Sake. Die sekretarisse van Finansies, Handel en Nywerheid was van die ander lede. Alle versoeke van Rhodesië of die privaat sektor en probleme wat vir enige departement in verband met Rhodesië opgeduik het, moes na ons komitee verwys word en onverwyld oorweeg word. Elke lid van die komitee moes die aanbevelings aan sy minister voorlê en ek as voorsitter moes dit gelyktydig aan dr. Verwoerd voorlê. Ministers is gevra om spoedig te reageer. Om tyd te bespaar, het ek sommer die stukke per hand na dr. Verwoerd se kantoor geneem. Normaalweg het hy binne 'n dag of twee reageer - gewoonlik met kantlynaantekeninge in sy fyn, duidelike handskrif. Die komitee het goed gewerk, maar een of twee van daardie ministers het partykeer eers drie, vier weke later hul kommentaar gelewer - dus mosterd na die maal. Op dié manier het dr. Verwoerd verseker dat die departemente gekoördineerd optree en dat sy besluite uitgevoer word. Daar was geen verskoning vir een amptenaar wat sê hy het nie geweet wat 'n ander een gedoen het nie.

Soms het hy my verslag aan hom geëndosseer: "Ek stem saam met die aanbeveling maar nie met julle beredenering nie." Dan volg daar so 'n bladsy en 'n half met die hand geskryf om te verduidelik hoekom hy saamstem.

Vir die Britte het hy meer as een maal gesê: "U weet wat my benadering teenoor Rhodesië is en kan nie vir my wys dat ek daarvan afgewyk het nie." Ek het naderhand, om sake te vergemaklik, aan die sekretaris van die Rhodesiese komitee opdrag gegee om 'n boek saam te stel met dr. Verwoerd se beslissings oor al hierdie sake, behoorlik geïndekseer en met kruisverwysings. Na ses maande was ons so gekonfyt dat ek in die meeste gevalle seker was wat die besluit gaan wees. Dr. Verwoerd het nie vandag hierdie en môre daardie besluit geneem nie; dit het een logiese lyn gevolg.

Hierdie eienskap van dr. Verwoerd blyk ook uit die beleidsverandering wat hy gemaak het ten opsigte van die Britse Protektorate of latere Hoë Kommissaris-gebiede, nl. Swaziland, Basoetoland (vandag Lesotho) en Betsjoeanaland (vandag Botswana). Sedert 1910 was die doelwit van opeenvolgende Suid-Afrikaanse regerings om die gebiede uiteindelik by Suid-Afrika in te lyf. By Buitelandse Sake moes ons nooit iets doen of sê wat sou lyk of hul onafhanklikheid in die toekoms erken kon word nie. Dit het eendag toevallig ter sprake gekom in 'n gesprek met dr. Verwoerd oor Suidwes of iets. Hy het gesê: "Maar wat is hier aan die gang? Dit is mos onsinnig. Ons hele strewe is om ons eie swart mense onafhanklik te maak sodat hulle na hulself kan kyk. Nou wil julle nog 'n paar miljoen van buite af inbring, of ons sit met nog meer nasionale state binne ons grense." Ons antwoord was dat ons eenvoudig regeringsbeleid probeer uitvoer. Hierna het hy die nuwe beleid in die openbaar verkondig en moes die amptenare by Buitelandse Sake 'n nuwe benadering volg.

Die laaste ding wat dr. Verwoerd gedoen het voor die noodlottige dag van 6 September 1966, was juis sy samesprekings met hoofminister Leabua Jonathan van Lesotho, wat op 4 Oktober 1966 onafhanklikheid van Brittanje sou verkry. Die versoek om hom te ontmoet het van Britse kant gekom. Suid-Afrikaanse Eerste Ministers het nog nooit tevore met 'n swart regeringshoof op gelyke voet beraadslaag nie. In 'n sekere sin het dr. Verwoerd die weg gebaan vir mnr. John Vorster se latere beleid van detente met Afrika. Vorentoe was daar ander aangeleenthede wat dringende aandag vereis het, veral die noodsaaklikheid om prakties gestalte te gee aan Suid-Afrika se toekomstige verhoudings met sy buurstate wat op die drumpel van onafhanklikheid gestaan het - Lesotho binne enkele weke.

Ek self moes heelwat van die reëlings met Leabua Jonathan se besoek aan Pretoria tref, onder andere 'n ete in die Union Hotel. Daar is 'n storietjie hieraan verbonde. Dr. Verwoerd het gesê ek moet dr. Albert Hertzog bel en hom vra om as gasheer op te tree. Ek het, en daar was so 'n rukkie stilte. "Waar's die ete?" wou hy weet, en toe ek vra wat hy daarmee bedoel, antwoord hy: "Ek bedoel, by my huis of by 'n hotel? Want as dit by my huis is, word geen drank bedien nie."

Op die ou end moes die datum verskuif word en toe was dr. Hertzog nie meer beskikbaar nie.

Soos gewoonlik het dr. Verwoerd duidelike en noukeurige aanwysings gegee in verband met die onthaal. Hy het onder andere gesê dit moet 'n waardige geleentheid wees, ons gas mag nie in verleentheid geplaas word deur oorywerigheid of opdringerigheid van persmanne nie; en die indruk mag nie ontstaan dat ons die besoek vir demonstrasie uitbuit nie.

Die samesprekings het hoofsaaklik daaroor gegaan dat Lesotho en Suid-Afrika voortaan direk met mekaar sou kommunikeer op 'n basis van gelykheid, sonder tussenkoms van die Britte. Die gees waarin die samesprekings plaasgevind het, word weerspieël in die volgende paragrawe van die gesamentlike communique wat deur die twee Eerste Ministers uitgereik is:

... It has been agreed that the Republic of South Africa will do its best to aid Lesotho's independence celebrations by assisting visitors and guests in transit in whatever way possible, and by providing transport facilities for Basuto workers in the Republic within the limits set by practical considerations, provided they give early indication of their intentions to proceed to Lesotho for the celebrations. Employers in South Africa are encouraged to give the necessary leave.

We trust that the peoples of our and other countries will support us in our endeavours to further that spirit of goodwill approach to our peaceful co-existence and co-operation which should inspire all states, no matter what differences in size, race or national policies there may be.

Die samesprekings was die Vrydag. Met die hervatting van die parlementsitting die daaropvolgende Dinsdag, sou dr. Verwoerd in die bespreking van sy begrotingspos voor die Volksraad daaroor verslag doen en ook 'n wye reeks ander onderwerpe dek: die drie Hoë Kommissaris-gebiede, ander state in Afrika, die verhouding met Rhodesië, Brittanje en die Statebond, Suidwes en die uitspraak van die Wêreldhof, sprake van sanksies by die VN, vliegtuigaankope in die VSA, opgaardery en soekery na olie, watersake, kleurlingverteenwoordiging en laastens, sportbeleid met verwysing na die stuur van spanne na Japan.

In die Volksraad is dit gebruiklik dat die betrokke hoofde van departemente teenwoordig moet wees tydens hulle ministeriële debatte. Daar is vir hulle plek ingerig in 'n bank skuins tussen die Speaker en die Eerste Minister. Aangesien ek al daardie buitelandse sake waaroor dr. Verwoerd wou praat, hanteer het, was ek in die amptenaarsbank. Toe die klokkies om kwart oor twee lui, was ek op my pos, skaars drie tree van die Eerste Minister se bank. Dr. Verwoerd het vooraf 'n papiertjie in my hand gestop met die hoofpunte van sy toespraak in sy handskrif daarop. Dit is afgedruk in Brandpunte. Hy sê toe vir my: "Kyk gou daarna, of ek dalk iets oorgeslaan het."

Toe stap hy terug na sy bank en gaan sit. Ek het nog die papiertjie in my hand gehad toe Tsafendas hom oorval het.

Opsoek na inligting?

  • BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

     

    _____________________

     

     Laserskywe in stelle van 10 te koop

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

     

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

 

GRATIS E-BOEKE EN VERSBUNDELS OM AF TE LAAI:

 

As God volke aan hul eie lot oorlaat

Die waarheid oor ons volk en die Nuwe SA

Volksverraad geskryf deur adv. P.J. Pretorius

'n Oorblyfsel... deur genade alleen

Christen-Teokratiese Separatisme

Verse van Verset

Vreedsame Naasbestaan = Afsonderlike Ontwikkeling

No Ships in the Harbour

Ons heilsverhaal in die Ou Testament

Daniel

Evolusie - kan ek dit glo?

Petrus, die rots

Romeo en Juliet

Ester

Apokriewe - By modderpoele of suiwer fonteine?

Midsomernagdroom - Shakespeare in Afrikaans

Die Openbaring van Henog

Die Derde Tempel

Macbeth - Shakespeare in Afrikaans

Met ryperd en mauser

Goue strate het nie stof nie

Derdepoort

Die Laaste Pous

Josef

Rut

Drie Eeue van Onreg

Ons Geskiedenis

Engelse skandvlekke

Voortrekker-Pioniers in Oos-Transvaal

_______________

 

 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________                                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1343 gaste aanlyn