GENL JBM HERTZOG (1)

P Meiring

Lees reeks by SA Premiers

As derde gekose Premier van Suid-Afrika was Generaal JBM Hertzog die man wat ná Louis Botha as eerste Premier, en ná hom Jan Smuts as tweede Premier, uiteindelik die eerste grondslag gelê het van ons Nasionale bewussyn, die man wat Afrikaans gered en die Afrikaner volkome vry gemaak het. Vir so ’n man moet daar nie net monumente van klip en koper nie, maar monumente van warme, blywende verering in die harte van alle Suid-Afrikaners wees – anders as sy twee voorgangers: ’n Engel uit die hemel was genl. Louis Botha, ons eerste Premier, sekerlik nie, nog minder Smuts. Botha was swak en toegeeflik, nie in die ware sin ’n politieke patriot nie, geneig om te swig voor die vleiery en verafgoding van die Britte - hy wat glad sykouse en ’n sambalbroek aangetrek en ’n veerhoed opgesit het om aan ’n koninklike optog in Londen deel te neem! Omdat daar feitlik geen korrespondensie of ander stukke van genl. Botha hom oorleef het nie, is dit moeilik om te bepaal hoe hy gemeen het om op die politieke terrein die ellende en ekonomiese agterstand van sy mense te help inhaal. Jan Smuts was intellektueel te snobisties en het te afsydig gestaan teenoor die gewone mens en dié se oordeel. Stroef, en verbitter het hy gemeen dat sy eie prestige genoegsaam sou wees vir sy eie ideale. Min het hy geweet dat selfs Jan Smuts in hierdie nuwe wêreld vir die meeste nie aanvaarbaar sou wees nie.

Dit was vir hom ’n slag toe hy, wat die handves van die Verenigde Volke help opstel het, skaars ’n jaar later op die V.V.O. se eerste vergadering gerepudieer is. Hy, die persoon wat deur die ganse buite-wêreld geëer is, is deur ’n groot deel van sy eie mense verwens en verstoot en as volksverraaier verguis. Genl. Smuts was seker die een politieke figuur in ons geskiedenis wat wêreldgestalte had, maar gemeet aan ons maatstawwe was hy geen ware Afrikaner nie!

In die Kaap kon geeneen destyds ongevoelig teenoor Hertzog staan nie. Jy was òf vir hom òf teen hom en dit gewoonlik met intense gevoel. Hier was die man wat hom dit ten doel gestel het om die verskriklike verliese van die Tweede Vryheidsoorlog tydens die vrede terug te wen. En die Tweede Vryheidsoorlog was die een gebeurtenis wat meer as enigiets anders in ons volksgeskiedenis die Afrikaner bewus gemaak het van sy volksverband oor enige afstand van die Kaap tot aan die Limpopo. Die toneel was dus vir Hertzog voorberei.

Dit was nogal by ’n geskiedkundige geleentheid op 13 Desember 1926, die dag toe hy in Kaapstad aan wal gestap het nadat hy op die Rykskonferensie in Londen vir Suid-Afrika konstitusionele onafhanklikheid en volwaardige gelykheid met Groot-Brittanje bewerkstellig het.

Ek was destyds ’n tweedejaarstudent aan die Universiteit van Kaapstad en hoewel dit vakansietyd was, het ’n klompie van ons met adv. Jannie de Waal, voorsitter van die Nasionale Party, wat ’n groot ontvangs vir die Eerste Minister in Kaapstad gereël het, ooreengekom dat ons Ikeys vir hom en sy Minister van Finansies, mnr. Klaas Havenga, in ’n spaaider van die dokke na die stadsaal sou trek. Vir ’n terugkerende held is hierdie eenvoudige huldeblyk seker nie toepaslik nie, maar genl. Hertzog het gemaak asof dit die mooiste gebaar is wat die jongvolk aan hom kon bring seker omdat hy besef het dat dit spontaan en eerlik was. Gelukkig het die publiek saamgespeel en was die optoggie werklik iets moois. Ons beloning was ’n ferme handdruk elk en ’n woordjie van waardering. Hy het die dag 24 jong harte verbly en aan hom verbind.

Ek weet nie of die Generaal my herken het toe ek hom kort daarna in die bos langs Groote Schuur raak loop nie. My maat, Watney Wollheim, wie se pa die opsigter van die Groote Schuur-landgoed was, en ek het die Saterdagoggend, soos gewoonlik, met ons .22 eekhorings gaan skiet (nege pennies vir ’n stert) toe ons die Generaal op een van sy wandelings teenkom. Weer het hy eers dag gesê en ’n paar woordjies met ons gewissel. Hy was ’n groot liefhebber van die jongvolk en het die kinders wat by hulle aan huis gekom het met dieselfde hoflikheid as grootmense behandel.

Ons het destyds al op 'Eastbrooke’, naby Groote Schuur, ingetrek en het soms op Groote Schuur gaan tennis speel, maar sonder dat ons ooit weer die Generaal self gesien het. Nogtans het ons hom in sy afwesigheid aanbid.

Die drie jaar wat ek na universiteit op die redaksie van Die Volksblad gedien het, het ek die geleentheid gekry om genl. Hertzog in sy eie heiligdom te sien optree. Heiligdom, omdat die Vrystaat vir hom heilige grond was en die Vrystaters hom van hul kant as hul profeet beskou het. Saam het ek gepraat van "die Vrystaat is my woning, Hertzog is my koning".

Elke jaar het hy sy groot toespraak op Smithfield in sy kiesafdeling kom hou en dan het oud-Bolanders soos ek geen kans gehad om verslag te doen nie, want die senior mense in die redaksie, ook net rasegte Vrystaters, het die eer vir hulself opgeëis om die onsterflike woorde te gaan afskryf. Die kroon van die grootste Vrystater, president M. T. Steyn, het sekerlik op genl. Hertzog se hoof gedaal. Op sy beurt was dit klaarblyklik sy voorneme dat mnr. Havenga dit van hom moes erf.

Genl. Hertzog se verhouding teenoor mnr. Klaas Havenga was dié van Dawid teenoor Jonathan. Havenga was ’n penkop in die oorlog en het tog groot onderskeiding behaal. Hy is drie keer gewond, die laaste keer baie ernstig en toe hy terugkom van die oorlog het genl. Hertzog £5 uit die geldgordel gehaal wat hy dwarsdeur die oorlog om sy lyf gedra het en die kontant aan sy voormalige oorlogsekretaris gegee om vir hom klere te koop. Mnr. Havenga het gou afgestudeer as prokureur en hom op Fauresmith gaan vestig waar hy ’n groot praktyk opgebou het. Daarna het hy hom op aandrang van sy generaal, in die politiek begeef en in vier verskillende regerings as Minister van Finansies gedien. Op langelaas was hy leier van die Volksraad en onder-premier. Al die jare was hy Hertzog se regterhand, byna sy skaduwee, want Generaal het niemand anders gehad wat hy soveel op persoonlike sowel as politieke gebied vertrou het nie.

Genl. Hertzog was essensieel ’n alleenloper en ’n alleendenker. Hy het knaend en logies op sy doel afgestuur. Hy was ’n fanatikus wat onbelemmerd op sy doelwit kon konsentreer totdat hy dit bereik het. Soms het hy dit egter gouer bereik as wat sy mense of sy teenstanders dit wou erken, en dan het ’n posisie van verwarring en frustrasie malik ingetree soos met samesmelting die geval was.

Genl. Hertzog was by tye werklik eiegeregtig, later selfs outokraties. Hy het hom deur niemand, totaal niemand, laat voorsê of lei nie. Hy was die ideale leier en die onmoontlike volgeling. Besieling het van hom uitgegaan na almal wat op dieselfde golflengte beweeg het, maar as hy te doen gekry het met mense wat van hom verskil het of sy argumente wou weerlê, het hy oombliklik ontstoke geraak.

Het ons dit nie by Die Burger aan ons bas gevoel nie! Dat Die Burger en Die Volksblad aan dieselfde persgroep behoort het, het geen saak gemaak nie. Dr. A. J. R. van Rhijn, Die Volksblad se hoofredakteur, was ’n Hertzog-vertroueling, dr. A. L. Geyer, hoof- redakteur van Die Burger, was vir hom ’n steen des aanstoots. Die feit dat dr. Geyer ’n Kaaplander en ’n Malan-vertroueling was, het eintlik swaarder teen hom geweeg as die feit dat hy ’n voortreflike vegter vir die Nasionale saak was, so beperk was die Generaal in sy kyk op die sake.

Wat ook tot die verwydering bygedra het, was dat dr. Geyer tydens die Pakt-regering ’n slag vir die Generaal gaan vra het presies hoe hy wil hê dat Die Burger teenoor die Arbeidersparty, sy Pakt-vennote, moes optree. Skynbaar het genl. Hertzog daarin versweë kritiek of verwyt gelees, want hy het hom oombliklik so vererg dat hy op die plek die gesprek sou afgesluit het as Geyer nie verduidelik het dat hy die vraag sonder bybedoelings stel nie. Die Generaal het gesê dat hy sal bedank as die volk hom ook in hierdie saak nie vertrou nie. 'Ek was verslae,’ het dr. Geyer agterna vertel, 'my verduideliking van die doel van die vrae het die Generaal wel tot bedaring gebring, maar ek vrees dat hy daarna nie danig van my gehou het nie.’

Die verhouding tussen die leier en die blad is verder vertroebel toe ons politieke beriggewer, die onvergelyklike E. A. Malga, binne-geheime van die Kabinet ontdek wat hom op die spoor van nuus gebring het wat die Eerste Minister nie gepubliseer wou hê nie. As dit wel gepubliseer sou word, moes dit eerste in sy lyfblad, Die Vaderland, verskyn. Dit het so erg geword dat Hertzog Geyer daarna nie eers met die verbystap in die Parlementêre wandelgang gegroet het nie.

Hierdie vervreemding het daartoe aanleiding gegee dat Geyer nie altyd op hoogte was met wat in die binnekringe gebeur het nie. En eendag skryf hy toe in ’n hoofartikel dat dit darem nou tyd geword het dat ons die goewerneur-generaal uit ons eie geledere aanstel en nie weer een van oorsee af invoer nie. Hierdie keer het die poppe behoorlik gedans, want dit blyk toe dat genl. Hertzog hom die vorige jaar tydens die Rykskonferensie in Londen verbind het om die hertog van Clarendon as goewerneur-generaal te ontvang. Weer het die Eerste Minister dit beskou as ’n moedswillige poging om hom in die verleentheid te bring en, op sy minste, as ’n aanmatigende stelling deur ’n koerant.

Toe daar vier jaar later ’n opvolger vir Clarendon gekies moes word, het genl. Hertzog darem die wenk in gedagte gehou en vir die eerste keer ’n Suid-Afrikaanse burger aangewys. Ongelukkig was dit ’n man uit Smuts se kamp, Patrick Duncan, wat hom later in die oorlogskrisis lelik in die steek gelaat het. Maar hieroor later meer.

Genl. Hertzog het gemeen dat een van die terreine waar sy leiding onder die Bolanders verswak het, hul gebrek aan geesdrif vir die republikeinse strewe was. Dit was nie volkome juis nie, want dr. Malan wat in 1919 saam met hom op die vryheidsafvaardiging na Londen en Parys vertrek het, het ewe sterk oor die uiteindelike bereiking van die ideaal gevoel, mits dit nie te vroeg te sterk gestoot word nie.

Niks wat genl. Hertzog onderneem het, het hy so berekend nagejaag as die Republiek nie. Hy was egter in teenstelling met baie van sy navolgers, slegs bereid om tot ’n sekere punt toe te gee.

Sy eerste klinkende stap was die vryheidsdeputasie wat hy deur al die struikelblokke heen gelei het tot in Parys by die Vredeskonferensie. Nooit ’n opportunis nie, het genl. Hertzog tog altyd genoegsaam realisme besit om te besef dat aksie by omstandighede aangepas moet wees. Toe die vredemakers hul voornemens uitkryt om aan alle klein volke dieselfde vryhede te gee as wat die grotes het, het Hertzog op ’n plan van aksie besluit waarin hy gesteun is deur dr. Malan en die hele Nasionale Party. Hul mikpunt was ’n onderhoud met die pro-Boer Lloyd George, wat toe Eerste Minister van Engeland in die Liberale-kabinet was. Laasgenoemde het egter as sy mede-afgevaardigdes by die Vredeskonferensie natuurlik genls. Botha en Smuts gehad, en hy was nie bereid om met ’n party te onderhandel oor ’n land se politieke toekoms nie. Toe Hertzog en sy afvaardiging eindelik in Parys aankom, nadat die Union Castle-redery geweier het om hulle te vervoer en hulle oor New York en Engeland na twee maande eindelik in Parys aankom, het Lloyd George hom skaars gehou. Niemand het Hertzog egter van koers gebring as hy eenmaal die snuf in die neus gekry het nie. Hy het ’n maand in Parys rondgestaan en toe ’n ultimatum aan die Brit gestuur wat laasgenoemde gou genoeg beantwoord het. Hy het Hertzog en sy manne een sonnige more in sy hotel te woord gestaan en geduldig geluister onderwyl die Generaal sy saak sterk en onomwonde stel. Later sal hy op die versoek antwoord, het hy beloof. En sy antwoord het dan ook gekom, skriftelik. Nie in sy mees optimistiese oomblikke het Hertzog verwag om so ’n reaksie te kry nie. Natuurlik het dit gelui dat die versoek nie toegestaan kan word aan ’n spesifieke groep nie, maar daar is in die stuk reguit erken dat Suid-Afrika wel baas is oor sy eie lotgevalle.

"I would point to the status which South Africa now occupies in the world", het Lloyd George geskryf. "It is surely no mean one. As one of the Dominions of the British Commonwealth the South African people control their own national destiny in the fullest sense. In regard to the common Imperial concerns, they participate in the deliberations which determine Imperial policy on the basis of complete equality."

Dat die miskende, veragte deputasie met so ’n waardevolle erkenning op amptelike vlak teruggekeer het, het almal verbaas. Smuts het dit natuurlik gerepudieer, maar hy kon nie die vlam blus wat daardeur aangesteek is nie. Nou het die Nasionale Party ’n platorm gehad waarvandaan hy na nuwe hoogtes kon uitstyg. Nou het Hertzog ’n wesenlike mikpunt gehad wanneer hy die leisels van die Sappe sou oorneem.

Die Nasionale Party was nog nie ’n republikeinse party nie, want eers moes op die hoogste vlak deur Brittanje en die Gemenebes-lande besluit word hoe die status van sy lede vasgelê gaan word. Dit het geskied nadat die Nasionale Party aan bewind gekom het tydens die Rykskonferensie van 1926. Toe is dit vasgelê in die Statuut van Westminster, ’n monument aan die Afrikaner wat hom voorgeneem het om die vrede te herstel - en dit binne ’n kwarteeu na Vereeniging bewerkstellig het.

Noudat die verhouding na buite reggestel was, moes die binnelandse verhoudings egter nog aangepas word. Suid-Afrika moes in gees, maar ook in wese, losgemaak word van Engeland en sy eie na­sionale identiteit verkry. Hy moes sy eie vlag, sy eie volkslied, sy eie nywerhede, sy eie handel, sy eie lewensbestaan verkry. Genl. Hertzog sou nie rus totdat dit alles eers reggestel was nie. Stap vir stap is die een ding na die ander, weliswaar soms op ’n kompromis-basis, verkry en verseël. ’n Mens bekeer egter nie ’n hele volk so maklik as wat jy wette vir hom maak nie. Vanuit sy hoë toring het die Eerste Minister met welgevalle om hom gekyk en gesien dat wat hy gedoen het mooi en goed was. Maar hy het miskien te gou geglo dat ook die Engelssprekendes dit so vind, of altans, spoedig so sou vind. Hy het veronderstel dat Suid-Afrika ook in krisisse, soos in ’n oorlog, op eie bene sou kan staan en sy eie keuse sou kan doen oor waar en met wie hy wil saamwerk of selfs veg.

Vervolg...