Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is niks fout daarmee om oud te word nie, solank jy net aanhou om dit te doen. Dit is wanneer jy ophou om dit te doen dat die probleme kom...
BROKKIES UIT DIE BOEK “DIE VERONTREGTES” (21)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“This is the lesson: never give in, never give in, never, never, never, never—in nothing, great or small, large or petty — never give in except to convictions of honour and good sense. Never yield to force; never yield to the apparently overwhelming might of the enemy.”
–Winston Churchill
*
Die ANC is nie meer in beheer nie. Selfs al wen hulle die verkiesing, of sluit ‘n meerderheidskoalisie met ander (linkse) partye, is hulle nie in beheer nie. Die situasie het buite hulle beheer geraak.
*
Eutopia is a realistic concept of a good place or something that is attainable. The word utopia, on the other hand, is a place that does not exist. The idea is that in a so-called perfect world, people must put aside their personal interests for the good of the larger group.
*
Beyers Conradie het besluit om terug te gaan plaas toe. Net hy alleen, net vinnig om te gaan kyk of die huis nog staan, of daar nie diere is wat verhonger en die weiding nie afgebrand is nie. Hy sou ook graag sy ou boerboelteef, Meisie, in die hande wou kry. Sy was nie naby die plaas toe hulle vertrek het nie en kon nie langer vir haar wag nie. En al is sy oud en gedaan, hou hy aan om aan haar te dink, met selfverwyt en diepe spyt dat hulle nie maar nog ‘n wyle langer langer gewag het nie.
Hy is vroegoggend weg, sonder Sonja of een van die ander en sonder om te vertel waarheen hy gaan. Wanneer hy mense gewaar in die pad of teen die skuinstes, ry hy deur die veld of op verbyroetes. Twee maal moes hy uit die bakkie klim en ‘n paar vinnige skote in die rigting van ‘n groep skiet. Hy weet nie of hulle hom kwaad wil aandoen, kos bedel of sommer net nuuskierig is nie. Dit maak nie vir hom saak nie. Hy weet ook nie of hy iemand getref het nie. Dit maak òòk nie vir hom saak nie. Dis vreemd hoe vinnig ‘n mens ‘n eelt oor jou sensitiwiteit kweek.
Hy hou die naaldjie van die brandstofmeter noukeurig dop. Dis nie baie ver plaas toe nie en hy wil gou daar kom en weer teruggaan Vuilbaardsvlei toe, voordat Sonja te bekommerd raak. Hy het haar juis nie gesê hy ry nie, want dan sou sy met alle wil wou saamkom.
Wanneer hy naby die plaas kom, ervaar hy ‘n narigheid wat in hom opstoot. Die plaashek staan nie net oop nie, maar skeef en stukkend, soos ‘n Polisie-Nyala dit voos gery het. Hy is nog ver van die opstal af, maar kan hiervandaan sien dat dit ‘n ruïne is, met die dakplate wat verwyder is, die mure swart verbrand bokant die gapende vensters, waar die vlamme die witgeverfde mure met roet geverf het.
Beyers hou ‘n hele ent van die huis af stil. ‘n Warboel gedagtes gaan deur sy kop en hy wonder skielik of dit so ‘n goeie plan was om te kom. As dit nie was vir sy getroue hond, Meisie, nie, sou hy dalk net hier omdraai en terugry, maar hy moet weet wat van haar geword het.
Hy laat sak die kantvenster en ‘n stink walm kom die bakkie binne. Met sy handwapen gereed, ry hy nader, met elke sintuig tot die uiterste toe ingespan. Hy sien niks wat gevaar kan inhou nie, maar waar sy huis vantevore ‘n tuiste was, is dit nou ‘n makabere, onheilspellende gebou.
Hy ry weereens nader en veertig meter van die huis af, hou hy stil. Dis ver genoeg dat hy genoeg vryheid van beweging buite die bakkie het, indien iets letterlik opduik, maar ook naby genoeg dat hy kan terugkom indien hy self moet vlug.
Met geweer oor die skouer en pistool in die hand, loop hy die voorhuis binne. Dit stink! Aan die bloed en velle moet hy aflei dat hulle – wie hulle ookal mag wees – die sitkamer gebruik het vir ‘n slagpale en die meubels vir braaihout. Hy ys om daaraan te dink dat van die meubels antieke stinkhout, geelhout en tambotie was. Die eetkamerstel van ysterhout en rooshout. Die skilderye is van die mure afgepluk en vermorsel, sommer net uit sinnelose vandaligheid.
Vir etlike minute staan hy net stil en neem die verwoesting in. Waaroor soveel haat en barbaarsheid? Asof hy uit ‘n waas ontwaak, loop hy die huis deur, pistool gereed, veiligheidsknip af en met asem wat vinnig en vlak kom, ore wat amper suis soos sy hartklop toeneem.
Sodra hy by die kombuisdeur uitloop, spring ‘n paar verwilderde manne op, waar hulle gesit en... en niks. Net gesit het. Hulle is versadig aan bloedlus, pap en oorgaar, gekookte skaapvleis. Hulle hardloop weg van Beyers af en ‘n skielike, onbeheersde woede oorval hom. Hy skiet die hele magasyn leeg agter hulle aan, maar tref niks nie, nie sover hy kan agterkom nie.
Hy druk die pistool in die holster terug, spring op ‘n 210 liter drom en vandaar bo-op die spens se lae dak, waarvan die sinke hier en daar nog nie verwyder is nie. Hy kniel vir ‘n oomblik, haal die geweer van sy skouer af en vat versigtig korrel op die agterste een van die vlugtendes.
Die .416 Rigby se 410 grein sagteneus, rondepunt koeël wat teen nog feitlik trompsnelheid van 700 meter per sekonde trek, verloor bitter min spoed en energie as dit die man se rugstring tref. Beyers haal die Ruger Safari Magnum oor en die tweede skoot haal die voorste ou, nou meer as twee honderd meter weg, in. Voordat hy die derde skoot kan trek, bedink Beyers homself.
Al die krale is, soos te wagte, leeg, alle implemente is weggedra en Beyers is nie eens meer lus om verder te kyk nie. Hy loop verslae, met geboë skouers terug Cruiser toe en klim in, draai om en ry stadig weg. Hy rem, ry terug, langs die huis verby en tot by die skuur, waarlangs ‘n 10 000 liter dieseltenk op ‘n stellasie staan. Hy klop aan die onderkant van die tenk en is verras as daar, wonder bo wonder, nog diesel in is.
Hy laat die eerste paar liter op die grond uitloop, net om seker te maak dis nie gemeng met water nie en maak dan die Cruiser se tenk vol. In die stoor kry hy nog vier 20 liter plastiekkanne, wat hy ook volmaak en agterop die bakkie sit, met ‘n tou vasgemaak.
By die plantasie is daar beweging en hy gryp na sy pistool, maar dis nie nodig nie. Meisie is verhonger, met ribbes wat amper deur die vel steek, maar sy lewe nog. Sy klim onder die doringdraad deur, maar het nie genoeg krag om agter-op die bakkie te spring, soos in die outyd toe sy altyd saamgery het dorp of koöperasie toe nie. Beyers klim uit, tel haal op en sit haar op die sitplek langs hom neer. Terwyl hy haar sy laaste stukkie brood en kaas gee, wat sy gulsig wegsluk, loop die trane uit sy oë. Meisie lek sy hand floutjies.
*
Dit was toe nie so moeilik om die afdraai na die plaas te kry nie. Die vergeelde bordjie, wat aan ‘n dwarspaal hang, met die linkerkantse ketting afgebreek en die naam van die plaas: “Sandplaas” nog sigbaar en die name van die plaaseienaar en sy vrou, te wete “Bill en Pop Sondrach”, daaronder.
Die hek staan soos te wagte, oop en hulle ry oor die motorhek se dwarspale, gemaak uit ou koekepanspore, die plaas binne. Aan weerskante is ‘n doringdraad, wat sekerlik iewers in die verlede styf gespan was, maar omdat stukke daarvan gesteel is, het die hele heining slap begin hang.
Nie Dons of Maya sê ‘n woord nie, maar Maya trek haar SIG skerpskuttersgeweer se slot effens oop om seker te maak daar is ‘n rondte in die kamer. Dons voel meer uit gewoonte as iets anders, onder sy linkerarm om seker die maak die groot, swaar Desert Eagle hang nog stewig – asof die blote gewig daarvan hom nie moes gerusstel nie.
Drie honderd meter verder, met die plaashuis nou mooi binne sig, is daar ‘n klapgeluid oor hulle koppe. Dons trap die rem onwillekeurig en die Jeep se voorbande sleep ’n paar meter, voordat hulle tot stilstand kom. ‘n Effense stofwolkie haal hulle van agter af in.
‘n Tweede skoot klap weer oor hulle koppe. Besluiteloos sit die twee en wonder wat om te doen. Na ‘n minuut verskyn twee manne net anderkant die werfhek. Elkeen hou ‘n wapen vas, wat op hierdie afstand nie uitkenbaar is nie.
Maya los haar geweer langs haar sitplek en staan dan op. Een van die manne tel sy geweer op en kyk na haar deur die teleskoop. Dit verg baie dissipline van Maya se kant af om te bly staan.
“Wat soek julle?” kom die woorde afgemete van ver af.
“Ons soek nie moeilikheid nie, dis verseker!”
Die twee staan ‘n paar sekondes met mekaar en praat, dan stoot die langer een van die twee die hek oop. Dons ry stadig vorentoe, versigtig vir die ou wat steeds deur die teleskoop na hulle kyk. Tien meter duskant die hek wys hy vir hulle om stil te hou. Langs die pad is twee struike en agter dit staan ‘n jonger man, miskien ‘n tienderjarige seun, op, met ‘n rewolwer in sy twee hande en aan die ander kant ‘n jong meisie, miskien ‘n jaar of wat jonger as die seun op. Sy het ‘n .22 geweer in haar hande, wat sy openlik in hulle rigting wys. Terwyl Dons kyk, beweeg sy, sonder om die geweer enigsins te laat sak, haar regterhand na die slothandvatsel en haal die wapen oor.
“Ek vra weer, wie is julle en wat soek julle?”
“Ek is Dons Kruger en dis Maya...”
“Pentz. Ek is Maya Pentz.”
“Waarom het jy die vyand se uniform aan?”
“Want ek was deel van hulle, tot onlangs. Nie meer nie.”
“Wat maak julle hier?”
“Ons is deel van ‘n groep, maar die ander voertuie staan daar op die bokant van die bergpas. Die een voertuig se vooras het gebreek en ons het gehoor julle het dalk ‘n ou Land Cruiser, soos die een wat stukkend is.”
“Waar hoor julle dit?”
“By een van die manne daar onder die berg. By die... ek is nie seker of die plek ‘n naam het nie.”
“uMotsha. Beskryf die ou wat julle vertel het.”
“Seker so vyf en vyftig, sestig jaar oud. Hare wat grys word, effense kenbaardjie, ou bruin baadjie, gelapte grys broek.”
“Ja, dis Pokker. Hy het seker twak gevra?”
“Ja. Hy het gevra of ons rookgoed het.”
“En?”
“Nie een van ons rook nie. Ons het vir hulle ‘n boks eetgoed gegee.”
Die man staan ‘n paar sekondes besluiteloos en laat sak die geweer. Die meisie maak dieselfde met die .22. Die seun met die rewolwer hou nog sy wapen op hulle gerig en hy bewe so sigbaar, dat Dons bang is ‘n skoot gaan vanself af.
“Boet, laat sak maar die rollie. Nou goed, Dons en Maya, kom nader.”
Dons ry versigtig na die huis se kant toe, met die plaasmense – so veronderstel hy – wat agterna loop.