Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
’n Goeie omskrywing van ’n ware vriend – iemand wat in jou nood by jou is terwyl hy eintlik op ’n ander plek moes wees.
BROKKIES UIT DIE BOEK KLEINSKEER (32)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Ek dink julle vriend Arno is in die moeilikheid!”
Skeer en die ander het die afgelope tyd onwillekeurig die leiding oorgedra aan Maya. Sy is immers die beste opgelei in oorlogvoering in die veld, wat natuurlik die berg en bos insluit. Hulle kyk almal na haar vir die regte besluit op hierdie oomblik.
“Kom julle saam?”
Maya beweeg so vinnig as wat veilig moontlik is, teen die skuinste af. Hulle is maklik ‘n paar honderd meter bokant en ver na die ooste vanwaar hulle Arno gelos het.
“Julle weet waarheen om te beweeg?”
Skeer knik met sy kop en spaar sy asem vir die inspannig wat gaan volg. Maya beweeg baie vinniger as wat hulle gedink het moontlik kan wees in hierdie terrein, sonder ooglopende inspanning en met minimum geraas.
Natuurlik het die ander spesmaglede ook gehoor hoe daar geskiet word en hulle loop in daardie rigting. Nie een van hulle is presies seker van waar hulle die vuurgeveg gehoor het nie, maar hulle weet min of meer in watter rigting om te gaan.
*
Majoor Manie Cronje het vir twee jaar saam met Maya Pentz gewerk. Aanvanklik het hy gedink ‘n vrou hoort nie saam met manne nie, behalwe miskien as ‘n klerk of kok. Beslis nie as soldaat nie en natuurlik nog minder as spesmag-lid. Hy het op ‘n stadium selfs probeer om haar uit die groep te werk, maar hoe langer, hoe meer het hy besef dat sy nie net beter is as al die dames wat gepoog het om die keuring te deurloop nie, maar inderdaad in die top tien persent van die hele groep is, manne sowel as vroue.
Mettertyd het hy haar begin toelaat in sy groep, en uiteindelik haar bewonder. Hy het haar mooi gelaatstrekke begin mis as sy nie daar was nie, en het haar sterk kakebeen misgekyk. Een of twee maal het hy haar uitgeneem na ‘n restaurant net buite die Krugerhek in Phalaborwa, maar alhoewel sy goeie geselskap was en haarself baie vroulik gedra het, het hy nie op romantiese vlak nader aan haar kon beweeg nie. Nie net om haarself te beskerm nie, maar ook vir hom, aangesien hy ‘n hoër rang as sy beklee.
Soos die maande verbygegaan het, het hy op haar verlief geraak. Manie self is nie onaantreklik nie, medium hoogte en bou, maar op die een of ander manier het enige romantiese verhoudings by hom verbygegaan. Miskien omdat hy inherent ‘n lae sienig van die skone geslag het.
Manie floreer op uitdagings, fisies en intellektueel en hierdie vrou het hom tot dusver in alles getroef, selfs in ongewapende konfrontasie het sy sy grootste uitdaging geword. En as skut is sy verreweg sy meester. Sy het hom nooit afgejak nie, maar ook nie enige aanleiding gegee nie. Hy het gehoop dat sy geduld en opregtheid haar mettertyd sal oortuig dat hy meer as net ‘n verliefde soldaat is en dat hy eerlik is met sy gevoelens vir haar.
En nou is hy op haar spoor. Hy en nog ‘n kompanie van die land se bes-opgeleide soldate. Die feit dat sy saam met ‘n aantal ander is, beteken vir hom niks. Hulle is ‘n klompie siwwies en burgerlikes en nie soldate nie, so eenvoudig soos dit.
Hy besef hoe gevaarlik Maya is, en die afgelope dae se gebeure is weereens ‘n klinkklare bewys van haar bekwaamhede. Hy gee geen krediet vir die manne by haar nie, inteendeel – hy aanvaar dat hulle meer van ‘n las vir haar is as ‘n voordeel. En een is ‘n vyfjarige seuntjie!
En nou is hy nie net in ‘n konundrum nie, maar in ‘n geweldige tweestryd. Hy besef wat die werklikhede is, naamlik dat Maya nie net gedros het nie, maar dat sy nou beslis ‘n vyandelike is en daarby kan sy natuurlik vir sedisie en hoogverraad aangekla word. Selfs al sou sy hierdie geveg oorleef, wat gaan van haar word? Hy kan haar immers nie hieruit red nie. Daarby is hierdie sy eerste groot operasie en hy is tweede in bevel hiervan. Sy loopbaan as soldaat gaan negetief beïnvloed raak as hulle nie suksesvol is nie en sukses beteken die vyand moet uitgewis word. Immers is daar die nie-amptelike bevel dat geen gevangenes geneem mag word nie, onder geen omstandighede nie en dit sluit vir Maya in.
Verskeie opsies maak hulleself in sy gemoed tuis. Die beste scenario sou wees dat Maya oorgee, maar hy weet sy sal dit nooit doen nie en doen sy dit, sal sy die res van haar lewe in ‘n militêre of siviele tronk sit.
Die tweede een is dat sy ontsnap, maar wat dan? Die owerhede sal nooit rus voordat hulle haar geneutraliseer het nie. Die slegste – en hy wil nie eens daaraan dink nie – is dat sy doodgeskiet word. Daar bly dus net een opsie oor en dit is dat sy ontsnap en hy wat Manie Cronje is, help haar daarmee. Maar hoe? Hy sal die omstandighede maar speel soos dit kom.
*
Maya is in haar element en as sy haarself oor die bruggie laat loop waar haar eertydse makkers nou haar vyande is en sy die feit daarvan aanvaar, begin die hele situasie opwindend raak. Sy beweeg vinnig, ongesiens en geluidloos, skiet as dit moontlik is, om net so vinnig weer spore te maak. Behalwe natuurlik dat sy nié spore maak nie. Stadig begin sy die agtervolgers uitdun.
Maya het nie die opsie van ‘n knaldemper geneem nie. Ja, dit verminder inderdaad die knal van die geweer, maar ‘n supersoniese koeëlpunt klap steeds as dit deur die klankgrens bars. Die terugstoot van die vuil gasse, wat in die knaldemper maal, maak dat die wapen ook met korter tussenposes skoongemaak moet word.
Alhoewel eertydse skrywers soos Alistair McClean en Desmond Bagley beweer het dat knaldempers ‘n geweer of pistool se loop beskadig is die teenoorgestelde eerder waar. Die meeste snellopende kalibers word vanaf die tromp beskadig. Waar die warm, ontsnappende gasse die loop, net waar dit die groewe verlaat, van binne af wegbrand, gebeur dit nou aan die einde van die knaldemper, wat baie goedkoper en eenvoudiger is om te vervang as die loop self. Menige, veral ‘n .22 geweer se loop is al deur die jare korter gemaak juis hieroor.
‘n Tromprem of blitsbreker is baie effetief, maar dit het twee nadele. Die eerste is dat dit die gasse na alle kante toe voor die loop uitblaas en dus geweldig geraas maak. Dit tweede is dat dit as gevolg daarvan stof opskop. Tog het Maya eerder ‘n tromprem verkies, eerstens omdat dit baie korter is as die knaldemper en daarom die geweer meer beweeglik maak en tweedens dat dit natuurlik die aanvoelbare terugskop verminder.
Sou dit nie sin maak om’n knaldemper saam te dra en net aan te skroef as dit nodig is nie? Die antwoord is dat dit die zero van die wapen beïnvloed. ‘n Geweer skiet eenvoudig nie op dieselfde plek as wat dit sou wees sonder ‘n demper nie. Nie net het dit die neiging om ‘n wapen laer te laat skiet nie, maar ook beïnvloed dit die inherente vibrasie wat eie is aan elke loop.
*
Arno is werklik hartseer oor sy Mauser. Natuurlik kan hy die kolf mettertyd laat vervang, maar hierdie een is gemaak uit swart Turkse okkerneuthout en presies ingebed. Dit skiet baie akkuraat so en hy is bevrees die karakter van die hele geweer gaan verander as hy ‘n ander kolf opsit. Vir nou is dit eenvoudig onbruikbaar. Die koeël het net agter die semi-pistoolgreep deurgegaan en die hout aan die agterkant gebars, splinters uitgeskiet en die res is gekraak.
Met moeite en sy beseerde voet in die lug, hinke-pink hy na waar die manne is wat hy flussies met die pistool geskiet het, gaan hulle sakke deur, haal hulle rugsakke af en neem die wapens. Daarna rol hy die liggame oor die kant van die krans en laat hulle aftuimel.
Die wapens bestaan meesal uit AK-variante en dit is al genoeg bewys dat Skeer se hipotese reg is. Een van die gewere is baie langer as die ander. Dis ‘n Truvelo CMS in .338 Lapua kaliber. Die geweer is lank en swaar, maar as hy reg onthou, skiet dit ‘n 300 grein koeëlpunt teen ongeveer 3000 voet per sekonde. Hy tel die geweer op en ondersoek dit. Ten spyte daarvan dat die geweer geval het toe die vorige eienaar geskiet is, lyk dit op die oog af nie of dit seergekry het nie. Die teleskoop het geen merke op nie en as hy deur die agterste lense kyk, is dit helder en die kruishare nie beskadig nie. Die enigste manier wat hy sal kan weet of die ding nog ingestel is, is om ‘n skoot te skiet, wat hy nie sommer wil doen nie. Hy slaan die tweepoot op en gaan lê agter die geweer. Hy kry nie sy wang lekker teen die kolf waar hy graag wil nie en besef die dooie ou is baie korter as hy. Die kolf is egter verstelbaar en na twee pogings is dit presies reg vir hom.
Arno maak seker daar is ‘n lewendige rondte in die kamer, verstel die fokus by die agterste lens en lê aan. Die duur teleskoop is helder en die kruishare, met die strepies en mildots duidelik. Na ‘n kwartier se lê, wag en kyk, is daar ‘n beweging skuins na sy linkerkant en ver onder hom. Miskien drie honderd en vyftig meter van hom af.
Hy beweeg sy voete verder uitmekaar en voel hoe die pyn deur sy enkel trek. Die beweging onder hom is vinnig, vanaf een skuilplek na ‘n ander en soms verloor hy dit heeltemal as die kamoeflering heeltemal met die agtergrond saamsmelt. Uiteindelik is daar ‘n oop stuk aarde, waaroor die persoon moet beweeg en Arno hou sy teikenprent daarop gerig. Hy beweeg die veiligheidsknip vorentoe, haal diep asem en wag dat hy ‘n oop skoot kry. Hy is al besig om die effense voortrek op die sneller op te neem, as hy Maya se mooi oë sien. Skok spoel deur sy lyf as hy besef hy het haar amper geskiet. As dit nie was vir die puik optiese kwaliteit van die teleskoop nie, sou hy die skoot getrek het.
Hy pluk sy wysvinger weg van die sneller, hou dit langs die kolf vir ‘n oomblik en druk die veiligheidsknip weer op, haal diep asem en ontspan stadig. Sodra hy tot bedaring gekom het, laat sak hy sy kop weer, kyk deur die teleskoop, maar waar Maya was, is daar nou niks.