Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Martin Luther het by geleentheid gesê dit is die allerbeste teken wanneer as antwoord op ons gebede, skynbaar die teenoorgestelde gebeur. Net soos dit ook geen goeie teken is as in antwoord op ons gebede alles na wense verloop nie. Daarom gaan God teen ons gedagtes in sodat dit lyk of Hy ná ons gebede nog meer toornig op ons is as voor ons gebede. Dit doen Hy alles slegs omdat dit in sy aard is om eers tot niet te maak wat in ons is voordat Hy ons sy gawes skenk.
BROKKIES UIT DIE BOEK KLEINSKEER (20)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, waarsku dat Suid-Afrika dringend ʼn plan nodig het in terme van staatskuld.
Hy het die naweek by die Kgalema Motlanthe-stigting se forum vir inklusiewe groei in die Drakensberg gepraat. Dít dae voor die lewering van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk hierdie week Woensdag.
Die minister sê die probleem is dat die ekonomiese groei nie die vermoë het om die skuld te delg nie.
Hy waarsku dat Suid-Afrika teen Maart volgende jaar sonder geld kan wees as iets nie gedoen word nie.
*
Vyf kilometer verder is die aanwysingsbord vir ‘n vulstasiekompleks en Skeer draai daarin. Rob hou agter hom stil en as Skeer vir hom wys, laat sak hy sy kantruit.
“Rob, het jy ‘n Trackersisteem of so iets aan jou kar?”
“Ek het, hoekom?”
“Dink vir ‘n oomblik daaroor.”
“Jy bedoel…?”
“Ja, die owerhede kan ons net so maklik daarmee opspoor as wat die opsporingsmaatskappy dit kan doen.”
Rob is sigbaar geskok.
“Wat nou?”
“Nou moet ons dit opspoor en as ons nie kan nie, gaan ‘n klomp van ons koud kry agterop die Land-Rover.”
“Nee, dis nie nodig nie.”
Bert loer oor sy pa en onder die dak van die kar uit, om met Skeer te praat.
“Die kameras binne die Touareg was nog aan, toe die manne die ding geïnstalleer het. Dis agter die voorste linker flikkerlig. Ek sal dit gou uithaal.”
Binne ses minute, waarin Bert op die koue plaveisel lê, kom hy met die Tracker tevoorskyn.
“Hoe werk dit? Met ‘n battery, of van die kar s’n af?”
“Ek dink hierdie een het ‘n ingeboude battery en dit hou vir ‘n hele paar maande. Dink jy waaraan ek dink?”
“Dat ‘n triek meer as een maal kan werk?”
Voor die Land-Rover, by die dieselpomp in die ry, staan ‘n nuwe Mahindra dubbelkajuitbakkie. Die agterkant is met ‘n seiltjie toegemaak, en dit neem Rob ‘n paar sekondes om die toestelletjie onder die seil in te druk, terwyl hy kaffee toe loop. Nadat hulle self brandstof aangevul het, hou hulle die bakkie nuuskierig dop, wat in die pad af verdwyn, oppad Noorde toe.
“Ek hoop as hulle voorgekeer word, dat daar nie sommer net op hulle geskiet word nie.” sê Bert bekommerd.
“Hulle sal nie. Onthou, hulle is op soek na ‘n ou Land-Rover en ‘n Volkswagen.”
“As julle iemand moet bel, is dit nou die tyd.”
“Hoe so?”
“’n Aangeskakelde selfoon kan opgespoor word, glo my. En net so akkuraat as ‘n opsoringstoestel. So, asseblief, as julle iemand iets moet laat weet, doen dit nou, want oor ‘n minuut wil ek hê julle moet elke selfoon afskakel, sonder uitsonderling, want dit kan ons lewens kos. Julle moet aanvaar dat ons ten alle koste gestop en stilgemaak moet word.”
Skeer loop terug na die Land-Rover toe, haal sy eie spaar selfoon uit, skakel aan, maak seker dat hy opvangs het en loop dan tot skuins agter ‘n pilaar by die pompe, waar hy seker is nie een van die kameras kan opvang nie en sit dit versigtig langs een van die pompe neer. Nadat hulle vertrek het, gaan minder as ‘n kwartier verby, voordat ‘n taxi naby stilhou. Een van die insittendes loop eers verby die selfoon, draai om, maak seker dat niemand hom sien nie en druk die ding in sy sak.
Die twee voertuie, die Land-Rover en Touareg, is al buite sig as dit gebeur. Op die N1 ry hulle agter ‘n Toyota Quantum, duidelik oorlaai met te veel passasiers en ewe oorlaaide sleepwa. ‘n Soortgelyke taxi kom van voor af en flikker dringend sy hoofligte, as waarskuwing. Skeer, wat reeds op sy pasoppens is, vermoed dis dalk ‘n padblokkade en soek ‘n uitdraaipad. ‘n Ent verder is die aanwyings en afdraai na regs en die berge.
*
“Kan ons asseblief met Wynand du Toit praat? Is hy in?”
“Het julle met hom ‘n afspraak?”
“Nee, dame. Ons het om veiligheidsredes ons selfone afgeskakel.”
“En julle is?”
“Skeermes Hugo, Rob en Bert Smit. Hierdie is ons drie kindertjies.”
“Laat ek hoor of hy beskikbaar is.”
Wynand du Toit is ‘n frisgeboude man in sy vroeë sestigs. Hy verwelkom die drie manne, maar vra of die kinders buite in die ontvangslokaal kan sit. Wat Skeer dadelik opval is die man se selfvertroue, iets wat hy glo nie deur die jare aangekweek is nie, maar ‘n natuurlike kenmerk is.
“Glo my, hulle is veilig daar.”
“Wat kan ek vir julle doen?” Hy praat met ‘n aksent wat effens herinner aan die Swartland.
“Ons het ‘n paar vrae, waarmee ons glo jy kan dalk help.”
“Oor die SBB?”
“Nee, ons weet waaroor dit gaan en glo my, ons is nie net beïndruk daarmee nie, maar ons waardeer die beplanning en moeite wat julle daar insit.”
“Gaan aan?”
“Wynand, ons weet jy is goed ingelig oor die plaaslike en internasionale gebeure. Ons probeer om sin agter dit alles te maak, want glo my, net soos wat jy dit gebruik om mense te kry om onder julle sorg te kom, so het ons ‘n ander werk, en dit is om die los skakels aanmekaar te las en ‘n prentjie daaruit te vorm, wat ons duideliker kan laat sien. Ons het al baie opgelees oor die Illuminati, die Vrymesselaars, die City of London, binne die grense van Londen, die sogenaamde “Three Hundred”, en so aan, of soos jy dikwels sê, ‘wat daarmee saamgaan’.”
“Vertel my eers meer van julleself.”
“Hulle noem my ‘Skeer’, of ‘Skeermes’, maar ek is ‘n brigadier in die SAPD, my naam is Jacobus Hugo. Dis nou indien ek nie intussen alweer afgedank is nie. Rob is ‘n ekonoom en Bert ook. Rob se twee kindertjies was ontvoer, maar ons het hulle intussen teruggekry.”
“En die ander enetjie?”
“Sy naam is Ezra. Sy pa en ma is vermoor in ‘n huisroof en hy is tydelik in my sorg geplaas.”
“Nou vertel my wat julle hier wil hê.”
Vir meer as ‘n uur gee Skeer vir hom die detail van sy ervaringe en onthulling van die onwettige wapentransaksies van beide die SAPD en die SANW, die gebeure rondom sy navorsing aangaande die Smit-moorde van 1977, die ontmoeting wat hulle in Pretoria gehad het met Magnus Delport en sy vriende, die daaropvolgende gevegte en hulle ontsnapping. Skeer sluk as hy praat van Leona se dood.
“Maar dit was al ‘n tyd gelede?”
“Dit was. Maar nou is ons op die spoor van iets anders. Miskien omdat ons so naby die gebeure is, is dit moeiliker om sin daaruit te maak. Dis waarom ons nou hier is.”
“Gaan aan?” Wynand vou sy hande voor hom, soos dit sy gewoonte is as hy aandagtig na iemand luister.
Skeer vertel van sy en Ezra se reis, die stilhou by die Wallmansthal-afrit, die brand en die doppie wat Ezra opgetel het. Voordat hy aangaan, val Wynand hom in die rede.
“Het jy die doppie hier?”
Skeer haal die doppie uit sy baadjiesak, nog binne die plastieksakkie en oorhandig dit aan Wynand, wat dit aandagtig bestudeer, eers binne die sakkie, maar dan maak hy die plastiek oop en met ‘n potlood, wat hy voor in die doppie indruk, kyk hy dit van naderby.
“Okay. Dis ‘n doppie van ‘n semi-outomatiese geweer. Jy kan sien hoe die uitwerper hom hier gesleep het. Sewe komma ses twee, by vier en vyftig Rim. As ek sou raai, en ek glo ek is reg, sou ek sê Dragunov SVD. Ons het met hierdie goed kennis gemaak op die Grens en in Angola. Hoe ver sou julle sê was die skoot?”
“Meer as vier honderd meter. Twee skote, volgens die media, albei in die kop en dit deur die windskerm van ‘n kar wat ten minste tagtig kilometer per uur gery het.”
“En julle het een doppie daar gekry.”
“Dit is so.”
“Ouboet, ek raai dat hierdie doppie daar geplant is. Ek het baie respek vir die Dragunov, maar dis nie so uiters akkuraat nie. Die teleskoop word hoog gemonteer en dis ‘n baie overrated geweer. Onthou, daardie rondte was dieselfde as die Mosin-Nagant gewere van die Tweede Wêreldoorlog en ‘n doppie met ‘n rim, net soos die ou drie-nul-dries, wat nie op die nek spasieer nie, maar op die rim, is eenvoudig nie so akkuraat as ‘n rimlose rondte soos ‘n sewe millimeter Mauser of sewe-ses-twee by een en vyftig nie, om maar ‘n paar te noem. En as jou hipotese reg is, sal dié wat dit gebruik, nie so dom wees om ‘n Russiese geweer se doppie daar te los nie.”
“So, dis geplant om ons van die spoor af te gooi?”
“Nie noodwendig vir julle nie, maar ook die SAPD of die Valke of wie ookal maak asof hulle speurwerk doen.”
“’Maak of hulle dit doen’? So, jy dink nie hulle is ernstig nie?”
“Nee, ek dink nie so nie, en jy ook nie. Waarom sou jy anders op hulle spoor loop?”
“Kom ons gestel jy is reg. Ons het daarvandaan na Simonstad gery…”
Skeer vertel wat daar gebeur het, ook die aanslae op hulle op pad daarheen.
“Skeer, jy weet die man waarmee julle gepraat het, Kommandeur Willingsworth, is dood?”
“Nee, hoe?”
“Die owerhede is stil daaroor, maar glo my, hy is vermoor. Ek het genoeg mense wat vir my inligting gee”
Daar is ‘n hele ruk stilte, terwyl Skeer en die ander twee die inligting verwerk. Dan sê Wynand sag, maar dringend:
“Jy besef wie ookal daardie skut is wat Frans Mathipa geskiet het, nog nie aangekeer is nie en dat hy heel moontlik teen hierdie tyd weet wie julle is?”
“Ek weet. En jy is die tweede man wat my daaraan herinner die afgelope tyd.”
“En jy besef dat, indien jy reg is, gaan jy met ‘n hele klomp opgeleide soldate op jou hakke sit?”