BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (13)

Soos meeste mense wat met ‘n skielike krisis gekonfronteer word, weet Jopie Marais nie wat om te doen nie. Wat hy wel van seker is, is dat die polisie nie sal verstaan nie, dat hulle hom summier sal arresteer en dat hy ’n groot deel van sy lewe agter tralies gaan deurbring.

Die man was ongewapen, behalwe vir die mes waarmee hy die skaap keel-af gesny het, so hy kan nie werklik selfverdediging pleit nie. Die feit dat dit al die soveelste skaap is wat hy verloor en in woede opgetree het, sal nie die regter of landdros oortuig dit was in ‘n oomblik van waansin nie. Kyk maar wat het met ou Oscar gebeur.

Ook soos meeste mense, soek hy onmiddellike uitkoms. Nie ver van hom af nie, so dertig meter is ‘n diep skeur in die rotswand. Hy sleep die skraal liggaam daarheen en laat dit daar inval. As hy afkyk en mooi soek, kan hy net-net die lyk sien. Hy gooi groterige klippe en selfs ‘n rots wat hy aanrol, daaroor en na veertig minute se sweet is die liggaam vir alle praktiese doeleindes onsigbaar.

Wat hy nie weet nie is dat Klaas Bokdrol die hele affêre gesit en dophou het langs ‘n boom, nie meer as honderd meter daarvandaan nie. Die ou Nokia het genoeg opvangs dat hy die kaptein by die naaste polisiestasie kan bel.

“Eh…”

“Kaptein, dis Klaas. Ek het nou-net gesien hoe my se witmanbaas my se tjommie, Doppies, skiet. Sommerso, in die pens!”

“Waar is jy, Klaas?” vra die kaptein, nou skielik wakker. Hy vryf die laaste bietjie hoenderkrummels van sy uniformhemp af, sluk nog bietjie Coke uit die twee-liter bottel en staan op.

“Hier by Brakfonteinplaas, het annerkant die Biesiesrivier se drif, langs die kloof op/”

“Gooi my ‘n pin, wêna.”

“’n Pin?”

“Ja, met jouse foun.”

“Haiwa wêna, hierrie se foun is noggie smart nie. Hy kannie daardie dêng gooi nie.”

“Nou beduie my mooi om daar te kom!”

“Vra vir kolonel Mabusa. Hy weet waar hierdie plek is. Hy was al hier.”

“Hoe was hy al daar?” vra die kaptein.

“Ehhh. Mos ons het al bietjie gabraai hierbo.”

Die kaptein kan tussen die lyne lees, maar dis nie nou nodig nie. Dis nie die eerste maal dat Jopie Marais kla oor skaapdiewe nie. En dis ook nie die eerste keer dat die polisie meedoen in die braai van die lammers of ooie nie.

“Bly net daar. Moenie dat die witman jou sien nie!”

Vier minute later ry ‘n konvooi bakkies, een vierwieldryf Land Cruiser, ‘n paar Nissan P300’s ook in 4X4 en ‘n Canter vangva in die rigting van die kloof.

‘n Oryx helikopter styg vanaf die lugmagbasis op. Agter-in is agt van kolonel Mabusa se beste manne. Hy self sit skuins agter die loods, sy R4 styf geklem in sy hande, staaldak (eintlik van Kevlar) en sy lyfpanster vasgegespe om sy skraal lyf.

*

Die Land Cruisers, Hi-Lux’e en Front Runners was net betyds deur die kloof om ‘n half kilometer voor die manne uit te kom. Hulle jaag direk op die voertuie af, terwyl die manne agterop die bakkies reeds van ver af begin skiet. Die Brabus en Mercedes ML maak plek dat die Hummers verby kom.

Die Mil-Spec Hummers is militêre surplus voertuie uit Afganistan en het nog steeds gepantserde ruite en deurkante. Alhoewel die enjinkap-eenheid van veselglas is, is die buffers van getemperde staal. Die aankomende voertuie jaag reg op die Hummers af, amper soos die jongmanne van destyds se “Chicken”-speel.

Alhoewel die Land Cruisers groot en swaar is, het die Hummers gewigsvoordeel teen sowat 3860 kilogram. Die voertuie is ook baie breed – 2,16 meter – en bykans vyf meter lank. Hoe nader die Hummers aan Jusuf se konvooi kom, hoe meer intimiderend lyk hulle en met die 7,62X39 millimeter AK-verwante koeëls wat eenvoudig van die ruite af wegskram en net hier en daar ‘n stukkie uitskiet, maar nie deurgaan nie, is hulle amper onstuitbaar. Met minder as tien meter wat hulle van mekaar skei, is die Cruiserdrywer se senuwees klaar, hy swaai uit en die Hummer tref hom net agter die agterwiel. Die Toyota is reeds besig om na die vérkant oor te hel as die swaar militêre voertuig hom tref. Dit rol om en bo-oor die manne wat agter-op staan en skiet.

Die tweede Hummer en daarna die MAN kom uit die stofwolke te voorskyn en die res van die konvooi swaai om en maak dat hulle wegkom. Veilig binne die skuiling van die klowe skiet die ander op die konvooi, wat nou hopeloos buite bereik van geweervuur is.

Laatmiddag hou die Brabus en die res van die konvooi stil by die Mali-grenspos.

*

Jopie het die flap-flap van die rotors gehoor nog lank voor die Oryx binne sig is. Dit maak ‘n wye draai bokant die berg en die kolonel sien die hardlopende man – klein, weerloos en eensaam ver onder hulle.

Die helfte van die stick spring uit aan die kant vanwaar hy gekom het om sy agterhoede af te sny en die ander bly sit, totdat die vliegtuig ‘n honderd meter voor hom gaan land. Jopie sak op sy knie af, vat korrel op die voorste soldaat – nie die kolonel wat in die Oryx wag nie – en trek die skoot af. Dit tref die soldaat in die middel van sy bobeen en dit vou eenvoudig weg onder hom.

Die ander soldate skiet nou terug en feitlik onmiddellik tref ‘n rondte vir Jopie teen die regter elmboog, wat effektiewelik vergruis word. Sy arm is dadelik lam en hy laat val die .303. Aan sy regtersy is sy ou Taurus .38 Special, wat hy met sy linkerhand probeer uit die skede kry, terwyl die bloed van sy vingers afdrup. Dit val op die grond weens blote onbehendigheid en hy sak op sy knieë neer om dit te probeer in die hande kry.

‘n Geweerkolf tref hom teen die voorkop en hy slaan neer. As hy half katswink opkyk, kyk hy in die lope van ses R4’s vas. Sy hand maak oop om die wapen te los, wat eenkant geskop word.

Sodra die polisievoertuie stampend en bokspringend oor die ongelyke grond aankom, word Jopie sonder seremonie agter in die Canter gegooi, nadat sy hande – versplinterde regter elmboog en sy gille van pyn ten spyt - agter sy rug geboei is. Die lede gooi een van die Canter se spaarwiele los saam met hom agter in die vangwa en hulle draai sonder seremonie of ‘n afname in snelheid om.

Jopie kan uiteraard nie sy hande gebruik om tye keer nie. Hy word agter-in rondgeslinger, regs na links en van voor na agter, met die ewe los spaarwiel wat teen en oor hom slaan. Voordat hulle die pad bereik, is hy reeds bewusteloos.

*

Die rit voel amper soos ‘n anti-klimaks. Die Frontier se wiele suis oor die teerpad. Die seil, al is dit redelik styfgetrek, wapper in die wind en Bella ontspan uiteindelik. Dis nie lank nie of die pynmedikasie laat haar lomerig voel, sy sit haar kop in die hoek waar die sitplek en die kant van die voertuig bymekaar kom en ten spyte van die skommeling en vibrasie van die groot Cooper-bande, raak sy aan die slaap.

Max kyk na die slapende vrou, weerstaan die impuls om een los krul van haar voorkop weg te vryf en konsentreer op die pad. In sy truspieël sien hy die ander voertuie aankom.

“Waarheen?” dink hy amper hardop. “Waarheen?”

*

Natuurlik het die hele Soweto nie eensklaps in opstand gekom nie. Daar was nie ‘n eenmalige, totale beweging onder die mense nie, maar dis ‘n geleidelike gewaarwording dat iets nie reg is nie.

Hulle is natuurlik daaraan gewoond dat hulle beurtkrag vryspring, maar as die elektriese toestelle afgeskakel is; die ligte, yskaste, stowe, verwarmers, is die eerste reaksie om die verdelingsbord na te gaan (dié natuurlik wat wettig-gekoppelde krag het) om seker te maak al die sekerings, veral die hoofskakelaar, is aan. Daarna volg ‘n kursoriese inspeksie van die buitenste skakelaar (van hulle wat ‘n wettige meter het) en word opgevolg met ‘n gesprek met die bure, wat ook buitekant kom kyk het. Die munisipaliteit word gebel, maar daar is geen reaksie aan die ander kant nie. ‘n Klompie gaan kyk of die transformator nog heel is en as dit wel die geval is, die substasie. Op die oog af is daar niks fout nie.

Boodskappe kom deur dat die hele omgewing in donker gedompel is. Vriende of familie word gebel in omliggende streke, maar die hele Johannesburg en omgewing blyk dieselfde probleem te hê. Die oproepe gaan verder: na bekendes in die provinsie of enige ander plek in Suid-Afrika. Nêrens is daar Eskom-krag nie. Die selfoontorings se batterye – dié wat nog nie gesteel is nie – word pap.

Siende dat dit alles teen laataand gebeur, wanneer elke verwarmer aangeskakel is, fase 6 beurtkrag al die hele week duur, en gewaarsku is oor fase 7 of 8, neem elkeen aan dat dit bloot tydelik is en dat niemand in die nag iets daaraan kan doen nie.

Al die beskikbare komberse word oorgegooi en beddens word gedeel vir liggaamshitte. In die plakkershutte is dit ondraaglik koud en waar moontlik, word hout of steenkoolvure binnekant gemaak, primusstofies gepomp en aangesteek. Hier en daar val iets om en die hut word binne minute verswelg in vlamme. Die hitte is erg en die plakkershuisies langsaan gaan ook in vlamme op.

Die vuur is letterlik ‘n veldbrand wat deur die stukke township loop. Indien enige brandweervoertuie sou opdaag, wat natuurlik nie gaan gebeur nie, sou hulle die paadjies tussen die hutte te smal vind om deur te beweeg, en sou hulle bloot die vuur probeer beperk. Nou is daar geen beheer nie en dit loop van een gebied na ‘n ander. Sommige mense ontsnap met net die klere aan hulle lyf en ‘n baba onder die arm; ander is nie so gelukkig nie.

Soweto brand. Eers weens die omgevalle kerse, stofies of vure, maar later weens ongelukkige inwoners wat die strate binnevaar en niksvermoedende amptenare se wonings en karre met brandbottels bestook.

Konkas word brandgemaak en honderde duisende mense probeer op straathoeke langsaan warm word. Dit veroorsaak ‘n onnatuurlike, byna spookagtige beeld waar net mense se gesigte deur die konkavuur verlig word, teen ‘n pikdonker agtergrond, behalwe waar die plakkershutvlamme ver teen die horison beweeg.

Mettertyd word dit lig en die krag gaan steeds nie aan nie. Geen munisipale voertuie daag op nie. Nêrens is die geloei van brandweerwaens of polisiesirenes nie. Mense begin hulleself bewapen, sommige met wettige vuurwapens, of swartmarkpistole, gewere, haelgewere, semi- en vol-outomatiese wapens, wat uit die dieptes van die grond langsaan die huise en hutte se fondasies, uit stoofpype, onder beddens en tapyte opgediep word. Ook stokke, tuinvurke, harke, grawe, kieries, pangas, messe; enigiets wat ‘n wond of knop kan toedien.

Met die opkoms van die son sal sommige terugkeer huis toe en gaan kos soek. ‘n Groot getal mense het nie meer as een maaltyd oor in die woning nie en loop tussen die ongelukkige skares deur om iets te gaan koop, eers by die lokale spaza of kuka-shop, daarna by die groter winkels, die kettingwinkels daarna en waar die deure gesluit is en die traliehekke gegrendel, word eers die een en daarna die ander oopgebreek.

Binne ‘n halfuur is dit leeg gestroop en gefrustreerde agterosse steek die plek uit woede aan die brand. Honger ken nie rede nie.

Soweto begin uit sy grense stroom na Johannesburg en die ou Wes-Rand. Dis ‘n stadige, maar meedoënlose golf menselywe wat beweeg, stoot, stroom en geraas maak.

Hier en daar begin mense saamkoek in groter eenhede. Jare en jare se opgeboude frustrasie begin oorneem in geweld en die ekstase wat daarmee saamgaan. Die feit dat hulle nie gekeer word deur die polisie of weermag nie, gooi letterlik petrol op die vuur.

Aanranding en soms met die doel om ernstig te beseer, vind plaas. Hier en daar veg iemand oor ‘n handvol pap of ‘n stukkie brood. Verlede week se weggegooide KFC-bokse word uit asblikke gehaal en kaalgesuigde hoenderbeentjies word gekou en verorber. Gisteraand se laaste ete is nou net ‘n herinnering en kossoek vind nou voorkeur.

Winkels op die kante van voorheen-blanke gebiede word gestroop, terwyl die golf menselywe al dieper die woonbuurtes instroom. Hier en daar begin skote klap waar huisbewoners hulle wonings teen brandbomme en verwoesting begin beskerm. Die brander word vir ‘n oomblik gestuit, maar vloei dan verder voort soos dit van agter af gestoot word. Oorwinningskrete jil uit bokant die jammerlike skote en pyngille van diegene wat hulle verset.

Polisievoertuie kom aangejaag, maar draai verskrik om as die golf sommige Njalas en bakkies omkeer en aan die brand steek.

Die Dier het opgestaan in Soweto en hy is honger, verwilderd en kwaad. Dit kring uit na die ander tradisioneel-swartgebiede.

*

Boodskappe word onder die meer passiewe deel van die bevolking – veral die blankes – rondgestuur en diegene wat nie onkant betrap word nie, gooi hulle grypsakke in bakkies, sportnutse en sedanvoertuie, met sleepwaens wat klaar gepak en gehaak is en jaag beangs uit hulle erwe of veiligheidskomplekse, net om vasgevang te word in verkeersknope.

Sommiges sit in hulle voertuie en kyk benoud in die truspieëltjies of niemand aankom nie. Toeters blaas woede, frustrasie en angstigheid in ‘n aanhoudende geskreeu uit. Hier en daar sal ‘n vierwieltrek voertuig uit die ry beweeg en op die kant of middelmannetjie voortjaag, totdat dit deur ‘n oorbrug of sloot gekeer word. Niemand laat hom weer terug in die ry nie en woede neem totaal oor. Skote klap en daar word oor en weer geskiet. Pa’s en ma’s druk kinders se ogies toe. Diegene wat bewapen is, sit met oorgehaalde pistole en rewolwers in bewende hande.

Sommiges kry koers weg van die hoofweë af en probeer van die groter en kleiner dorpe soos Randburg, Randfontein, Germiston, Alberton, Benoni en Kemptonpark binnegaan, maar word gekeer deur mense wat ook daar van die swart woongebiede probeer wegkom in dubbelrye. Ligte flits, toeters blaas opnuut, botsings vind plaas, stoom trek uit verstikkende enjinverkoelers, vuiste klap.

Voertuie kom tot stilstand en die insittendes gryp wat hulle kan, hardloop tussen die ander karre deur en op die randoppervlaktes verby, op soek na veiligheid. Na ‘n ruk besef hulle dat die hoeveelheid bagasie te swaar word en reistasse, sakke, asbliksakke vol klere en beddegoed lê verstrooid langs die pad.