Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde só dat hy ander ook daardeur kan leer. Net 'n dwaas besin nie oor sy woorde aan ander nie – hy maak dus nie die keuse om wyse dinge te sê nie en ploeter net voort.
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (3)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Aan die buitewyke van die dorpie staan ‘n armoedige plank- en sinkplaathuisie. Dis duidelik dat niemand meer daar woon nie en Jan kan maar net raai wat van die mense geword het. Armoede het ‘n manier om mense gou dood te maak. Hy draai sy kop in onwillekeurige simpatie en hartseer. Vanwaar die agterdeur was – hy kan dwarsdeur die klein huisie sien, vanaf die oop, skeefhangende voordeur – sien hy ‘n beweging. Op die ingewing van die oomblik skreeu hy op die touleier, Sie (sy tweelingbroer, Sa, loop by die ander wa) om die span tot stilstand te bring.
“Hôôô daar!”
Jan spring rats af en loop vinnig na die huis toe.
“Iemand tuis?” roep hy, voordat hy binne loop. Ellende is oral te sien. Die meubels bestaan uit ‘n aanmekaargeflansde planktafel, twee kratte wat gedien het as stoele en ‘n deurgetrapte vel van een of ander boksoort, miskien ‘n blesbok as hy mooi kyk, lê op die grondvloer, ‘n paar leë blikke, ‘n ou swart pot en... dit is al. As daar klere of komberse was, het hulle dit saamgeneem, of dit is gesteel en dit is al. Dis asof swaarkry, desperaatheid en honger teen die mure hang. Hoe kan dit wees dat niemand na hulle omgesien het nie? Waar was die Hollandse dominee en sy mense?
Hy skud sy kop in afkeer, maar loop deur die patetiese plekkie en kyk buitentoe, na waar hy die beweging gesien het. Aan ‘n groot klip met ‘n riem vasgemaak, is ‘n baie jong basterhondjie. Die dier het groot flapore, groot pote en ewe groot hartseer oë. Wanneer hy nader kom, is dit asof die brakkie agter die klip wil inkruip van vrees.
Jan haal sy mes uit en sny die riem van die outjie se nekkie af, waar dit reeds in die vel begin inskaaf het. Hy tel hom op en hou die vermaerde lyfie, met hier en daar ‘n stukkende seerplek op, versigtig teen sy lyf. Die hondjie stink van sy eie ontlasting en urine en Jan wonder vir ‘n oomblik of dit nie die beste sal wees om hom eerder te skiet en uit sy lyding verlos nie, maar as hy weer in die groot, hartseer oë kyk, weet hy hy kan nie. Hy dra hom terug na die wa toe, maak ‘n ou baadjie lê tussen sy voete, waar hy op die wakis sit en plaas die dingetjie versigtig daarop neer. Hy vat sy een spaar papbord, maak dit halfvol water en is verras, maar ook weereens hartseer, as die brakkie gulsig die water oplek.
“So, Oubaas, wat het met jou mense gebeur en waarom het hulle jou nie saamgevat nie?” vra hy asof die hond hom gaan terug antwoord.
“Goed, Sie, vat voor!”
Die wa ruk effens as die osse vat en die brakkie struikel effens vanwaar hy half regop gekom het om die water te drink, maar val dan teenaan Jan se stewel, waar hy bly lê. As Jan sy hand uitsteek na hom toe, lek Oubaas daaraan. Jan ervaar ‘n diep gevoel iets tussen jammerte en hartseer. Hy ry ‘n paar minute op die wa, waarna hy uitklim en langs die wa loop. Na ‘n halfuur saal hy vir Goliat, sy groot vosperd, op en ry ‘n paar myl vooruit om seker te maak daar is niks wat gevaar inhou nie, soek na ‘n kampplek en ry terug waens toe.
Namiddag span hulle uit, maak ‘n takkraal sodat die osse nie ver wegloop nie, sny ‘n paar armsvol groen soetgras en wag dat die trekdiere rustig word. Jan maak vir hom en Sie en Sa koffie, gee vir hulle hul dagrantsoen en bietjie pyptwak. Hy tel die hondjie uit en krap hom agter die ore, trek ‘n vetsgesuipte bosluis van sy nek af, wat hy op die grond doodtrap. Jan sny vir hom ‘n paar flentertjies droë biltong, wat die outjie gulsig kou en insluk.
Hy haal sy riempiesstoel uit, sit vir ‘n paar minute en suig aan sy pyp, loop terug wa toe en haal die kas met die geweer uit. Wanneer hy dit oopknip, sit hy vir ‘n volle minuut daarna en kyk, streel met sy vingers oor die staal en hout en kan nie glo dat hy hierdie geweer besit nie. Dis werklik ‘n kunswerk in ingenieurswese, met die onderdele wat presies gevyl is, sodat elke stukkie sonder enige gaping pas.
Wanneer hy die dele aanmekaar sit, is dit asof dit sonder moeite inmekaar gly. Hy kyk of die aksie en die lope effens beweeg as hy dit kant toe trek, maar daar is geen speling nie. Hy knak die wapen, sit twee van die groot rondtes in die lope en hoor weer die sisgeluid as hulle presies inglip.
Om nie die osse skrik op die lyf te jaag nie, loop hy so twee honderd tree van die kamp af, waar daar ‘n lae koppe staan. Met die groot, swaar geweer styf in sy skouer, trek hy die twee hane oor, vat korrel op ‘n stuk sandsteen, ongeveer helfte so groot soos die wakis, en druk egalig die regter sneller. Die klip verdwyn agter die groot bol swartkruitrook.
“Eina! Magtag, maar die ding skop!”
As die rook weg is, sien hy die meeste van die klip is ook weg. Dis asof dit bloot gedisintegreer het. Van die klipskerwe het oral gevlieg. Hy knak die wapen, nie lus om die tweede skoot ook te vuur nie en as hy afkyk om die dop op te tel, sien hy die hondjie skuins agter sy voet sit. Die outjie moes saamgedraf het, maar Jan sien dat hy nie eintlik geskrik het nie. Hy het nie getjank of weggespring nie, maar net so bly sit.
As hy terugloop kamp toe, draf Oubaas skuins agter sy regterkant.
*
Daar is ‘n verskil tussen alleen wees en eensaamheid. Jan het niemand wat saam met hom die eensame prag van die hoëveld kan deel nie, dis nou buiten die twee spanne osse, sy twee touleiers, Goliat die perd en Oubaas, die jong hondjie, wat nou ‘n onafskeidbare deel van Jan se omgewing is. Nadat Oubaas gebad is (teen skoppende en knorrende protes), ruik hy heelwat beter, hy het goeie ablusiegewoontes, en al is hy oordadig in sy liefdesbewyse teenoor Jan en met ‘n feitlik onversadigbare aptyt, is hy soveel goeie geselskap as wat ‘n brak nou maar kan wees.
Jan is al in sy middel veertigs, het hierdie transportreis al menige maal gedoen tussen die Transvaal en Port Natal en is gewoond aan alleen wees. Tog is daar iets knaend aan sy binneste deesdae en hy het ure lank daaroor getob, tot hy besef het die rede daarvoor is ‘n jong vrou (hopeloos te jonk vir hom) met ‘n lang, blou rok, ‘n dun middeltjie – wat nie noodwendig die resultaat van ‘n baie styfgetrekte korset sou wees nie, daarvoor was haar bewegings te vry – en lang, effense krullerige vosbruin hare. Hy kon nie haar gesig goed sien nie, maar het gemerk sy het ‘n mooi profiel en ‘n reguit neus – nie ‘n fyn enetjie nie, maar reguit en mooi gevorm.
Terwyl hy ry, onthou hy ‘n frase uit ‘n Hollandsvertaalde boek oor die ou filosowe van destydse Griekeland, Plato of Aristotiles, as hy reg onthou.
“Alleen de doden hebben het einde van de oorloch gezien.”
Met ‘n wrang gimlag dink hy daaraan dat die man ook gesê het:
“Liefde is een ernstiche mentale aandoening.”
Hy skud sy kop by die gedagte – wie het iets van liefde gesê?
Tog voel hy eensaam hier laat in die skemer. In ‘n tydsera waar die meeste manne sy ouderdom, reeds aanstap om oupa te word, het hy niks, nie kind, vrou of kraai nie, net twee transportwaens, ‘n hond, ‘n perd en ‘n aantal besonderde wapens. En ja, ‘n bankrekening met ‘n paar honderd pond in.
Skielik gaan staan Oubaas en vir die eerste keer vandat hy hom het, merk Jan dat sy nekhare gerys is en sy ore so hoog gelig is as wat die slap goed maar kan. Jan, wat goed weet dat die veld nooit werklik veilig kan wees nie, al is dit net ‘n slang, vermoed genoeg uit Oubaas se houding sodat hy van Goliat afklim, sy roer vat en stadig vorentoe loop, waar Oubaas op die randjie van die lae krans staan, asof gevries. Hy haal sy hoed af en loop tot hy oor die afrond kan kyk. Ver onder, sowat ‘n halfmyl van hom af is ‘n leërskare Zulu’s aan die beweeg. Hulle het elkeen hulle skilde, werpspiese en kort steekassegaaie by hulle. Vir ‘n paar sekondes verwonder hy hom aan die dissipline wat hulle aan die dag lê. Hulle beweeg teen ‘n vinnige draffie, amper geluidloos, in elke geval so stil dat hy op hierdie afstand nie hulle voetvalle kan hoor nie. Hy herken aan hulle skilde dat hulle van Cetshwayo’s se mense is.
“Wat…?”
Skielik besef hy hulle is reg op pad na waar die Britse garnisoen se kamp is by Isandlwana, minder as tien myl hiervandaan. Hy kom skielik tot ‘n besluit, roep vir Oubaas, loop flink na Goliat en na ‘n effense huiwering, tel hy vir Oubaas op, en met een hand en ratse beweging is hy op Goliat se rug, met Oubaas voor hom teen die perd se nek.
Dis minder as ‘n halfmyl terug na die waens toe, wat hy teen ‘n vinnige galop aflê.
“Sie en Sa, gaan terug na daardie klofie waar ons ‘n uur gelede by verbygegaan het. Span die osse uit, maak sterk takkrale en geen vuur nie. Hier onder is ‘n hele klomp Zulu’s verby. As hulle ons kry, maak hulle ons sweerlik dood. Toe! Gaan maak soos ek sê! Hier, vat vir Oubaas en maak hom vas. Ek kan nie waag dat hy agterna kom nie!”
Die twee touleiers, albei bastermense, is asvaal as hulle hoor wat Jan sê. Hulle het immers al gesien en gehoor waartoe die Zulu’s in staat is.
“En die Kleinbaas?”
“Ek gaan die Engelse sê hulle moet regmaak. Hier kom ‘n geveg, as ek reg is!”
Jan hou nie daarvan om Goliat so te jaag nie, veral in die gebroke grond van die berge, maar hy is nou haastig. Hy ken die pad na die Britse kamp baie goed en, al moet hy om die een berg ry, maak hy tyd op met die groot perd.
Naby die lae koppies tussen die berge, spring vier gewapende Zulu’s voor hom op en maak gereed om hom te gooi met hulle werpspiese. Dis ergter duidelik dat hulle amper net so verras is as hy en hy gebruik die huiwering om sy een dubbelloop pistool te trek, die hane oor te haal en af te vuur. Die eerste groot, .577 kaliber se sagte loodkoeël tref die een kryger in die middel van sy bors, dwarsdeur die skild, aof dit van papier gemaak is. Die tweede tref ‘n ander man reg in die middel van sy regter bobeen. Die liggaamsdeel vou onder hom in, asof dit met ‘n byl gekap is. Die ander twee is erg geskok, nie net deur die afmaai van hulle makkers nie, maar ook die luide gebulder van die wapen, die groot bol kruitrook en die wye neusgate, gesper in angs en adrenalien, van die groot hingsperd.
Wanneer Jan ‘n honderd tree verby die twee is, swaai hy vir Goliat om. Hy kan nie waag dat hierdie twee manne by die ander aansluit en vertel hulle is gesien nie. Hy trek die Snider uit die linker saalskede, haal die haan oor en, na ‘n vinnige aanlê, trek hy die sneller. Die resultaat is uiters dodelik. Die laaste man swaai om, gooi sy skild neer en hardloop. Jan se tweede skoot tref hom tussen die blaaie. Hy hoop die klowe en bome demp die knalle van die wapens genoeg dat die hoofleër hom nie hoor nie.