Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons vra God in ons gebede soos Hy ons geleer het dat ons vergeef sal word, soos ons diegene vergewe wat teen ons oortree – nie omdat ons in staat is om die skuld van 'n vergryp of belediging te vergewe nie – maar net dat ons toorn, haat en wraaksug vrywilliglik uit ons hart verban kan word.
BROKKIES UIT DIE BOEK RAUTEM (1)
RAUTEM, geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Teen laatmiddag hou drie voertuie voor die hek stil. Twee manne klim uit, loop na die hek toe en lui die klokkie. Nie ‘n lang, aanhoudende lui soos iemand wat op aandag, onmiddelik en duidelik aandring nie, maar soos ‘n gewone besoeker. Skeer staan op, herken die man by die hek en loop om te gaan oopmaak. Arno, Priester en John staan by die vensters, agter die gordyne en teen die muur, met wapens gereed. Hulle sien die hek oopgaan en dan hoe Skeer die man in uniform met die hand groet. Hy en nog ‘n offisier, met ‘n leer aktetas in sy hand, kom nader geloop.
“Julle kan maar uitkom. Die kommissaris wil julle in elk geval ontmoet.”
Nadat die formaliteite agter die rug is, maak die ander reg om te loop.
“Brigadier, ek sal dit waardeer as jou mense kan bly vir die gesprek,” sê hy in baie goeie Afrikaans. Leona kom nou ook in, met ‘n skinkbord koffie en tuisgebakte gemmerkoekies.
“Brigadier Hugo, ek kom agter dat julle baie wonde oopkrap. Ek het verskeie oproepe van mense in hoë poste gekry, wat my gevra het om julle te kom stopsit.”
‘n Gevoel van totale verslaentheid kom oor die groep. As alles hier staak, dan is die dood van Stef en Mac verniet, dan is al die baklei en soek na antwoorde onsinnig.
“Maar nou weet ek ook,” sê die kommissaris. “Ek weet dat as ek julle vandag verbied om aan te gaan, dan gaan jy net jou bedanking indien en dan gaan jy aangaan met dit waarmee jy besig is. is dit reg?”
Skeer knik stadig en instemmend met sy kop.
“Dis ongelukkig so.”
“Jy weet, julle maak vir my groot moeilikheid. Deesdae is ons polisiemanne oral in die moeilikheid. Daar is baie korrupsie onder ons en die probleem is dat met transformasie soveel skelms net toegelaat is vanaf die ou TBVC-state, MK, en selfs hier en daar APLA en FAPLA. Hulle is nie ‘gescreen’ soos ons in die ou dae gemaak het nie. Ek loop heeldag en paai die ministers en die opposisie in die parlement oor die moeilikheid wat hulle maak. En nou julle ook!”
Hy doop ‘n gemmerkoekie in sy koffie en druk die hele een in sy mond. Dan beduie hy vir Skeer en Arno, wat gereed maak om te antwoord, dat hy nog nie klaar is nie. Hy gee nog drie koue aan die koekie en sluk vinnig in. Hy verstik effens, hoes ‘n paar maal en sluk hy die krummels met ‘n bietjie soet koffie af.
“Luister. Ek gaan julle nie nou toemaak nie. En ek wil nie nou ‘n volledige rapport hê nie. Al wat ek wil weet is of julle al vordering maak, waarmee julle ookal besig is om te krap.”
“U bedoel seker ‘waar’ en nie ‘waarmee’ nie? Kommissaris, ons is besig om korrupsie oop te krap en dit grootliks uit die ou regime. Natuurlik is die rolspelers nie beperk tot die NP nie, maar daar is karakters wat uitpeul wat vandag nog in die regering is en hulle wil laat geld. Daar is mense met ‘n verlede wat dwarsdeur die politieke spektrums syfer. Ek is opdrag gegee om korrupsie te ontbloot en dis wat ons doen. En u is reg. As ons nou gefire word, dan sal ons sonder amptelike goedkeuring voortgaan.”
“Daardie lyke wat julle by die eiland gelos het – dit het baie moeite gekos om hulle te begrawe, nie net die liggame nie, maar die hele petalje wat julle veroorsaak het. Ek verstaan dit was noodweer, maar kan julle nie probeer om ‘n bietjie minder te skiet nie? En nou was hier weer ‘n geskietery sommer hier by jou huis!”
Hy gooi sy hande half dramaties in die lug om sy moedeloosheid te wys.
“Waar gaan ek nog lyke soek?”
Skeer maak sy keel skoon, lyk effens verleë en dan antwoord hy.
“Hier bo in die berg is nog een.”
“Wie?”
“Dis iemand wat eerste op ons geskiet het. Daar is geen identifikasie nie – nie ID, bestuurderslisensie, krediet of debietkaarte nie, etikette aan sy klere, nommerplate nie, niks. En hy het op ons geskiet. Leona se pa…”
“Leona se pa?”
“Ja. Die man wat saam met my uit die Swartberg gekom het.”
Die kommissaris staan op.
“Okay, Skeermes. Ek gee julle een kalendermaand om hierdie spul af te handel. Dan is dit amper tyd vir die parlementsitting, waar ek baie vrae gevra gaan word. Ek wil nie weer lieg om iemand se bas te beskerm nie.”
“En as van die gebeendere in die hangkaste van die heersende party is? As dit sou uitkom dat hulle deel van hierdie outydse korrupsie is?”
“Laat hy val waar hy wil. Kolonel Mbule, gee vir die brigadier wat jy het. En nou groet ek.”
Die vet kolonel gee die aktetas net so aan Skeer. Hy haal nie iets uit nie, maar oorhandig die hele ding net so.
Die manne en vrou kan skaars wag dat die twee by die hek uit is en die voertuie op pad, voordat hulle die inhoud van die aktetas uithaal.
Arno vat een van die lêers, waarop in vet letters skuins-oor die omslag in rooi geskryf is: “UITERS GEHEIM”. Na vyf minute se lees fluit hy.
“Onthou julle ‘n man met die naam: ‘Gerhard Ludi’?”
“Jy bedoel seer ‘Gerhardt’, die vlootoffisier en sy vrou wat spioene was vir die Soviet Unie?”
“Nee, Gerhard Ludi, die ou wat die Soviet Unie as Suid-Afrikaanse spioen geïnfiltreer het.”
Q018, or Detective Warrant Officer Gerald Gunther Ludi of the Security Branch, was the state's star witness in the case against Dr. Abram Fischer, a prominent Johannesburg lawyer and 13 other persons accused of membership in the illegal Communist party.
Mr. Ludi, a slight, young man with a goatee, looks more like the political science student he once was than a secret policeman. Yet, for more than four years, he has been filing weekly reports to the Security Branch on the organizations he has joined.
“Ja, ek onthou nou. Maar hoe help dit ons?”
“Die enigste gemene faktor is weereens die naam van Generaal Lang Hendrik van den Bergh. Ek is oortuig dat as ons die geskiedenis van die ou generaal gaan navors en op sy spore loop, gaan ons sien hy is by die meeste van hierdie moorde en ongurighede betrokke.”
“Maar die ou is al dood. Ek het gelees dat hy met Liza Smit, of Grundling, soos haar van nou is, gepraat het. Hy het niks beken van sy betrokkenheid by enige van die moorde nie en beslis nie by haar pa en ma s’n nie.”
“Die feit dat hy dit ontken het, maak dit nie noodwendig die waarheid nie.”
“Kyk, hoe meer ek van ou Lang Hendrik lees, hoe meer besef ek hy was nie ‘n man om mee te speel nie. Ek wonder net waardeur was hy so gedryf. Was dit omdat hy in die interneringskamp in Koffiefontein was saam met Vorster en Vossie? Die drie ‘V’s wat ons op die eiland gekry het, staan dit vir ‘Van den Bergh, Vorster en Vossie’? Wag so ‘n bietjie – was daar nie ook ‘n betrokkene iewers met die naam Dries ‘Krullebol’ Verwey nie?”
“Ja, Arno, ek is redelik oortuig daarvan. Tog, ten spyte van die man se intelligensie, waagmoed, patriotisme – al sou dit misplaas wees – en seldsame vermoë, dink ek nie hy was die baasbrein agter dit alles nie. Daar moet iemand wees wat vir hom bevele gegee het. Dit kan nie Vorster wees nie, want van hierdie moorde, soos op Heyns, is na Vorster se bewind gepleeg.”
“Wat van die Broederbond? Jy het tog immers gesê dat die tweede gemene faktor die broeders is. Hoe skakel hule by die prentjie in?”
“Ek weet regtig nie. Dit maak nie vir my sin dat hulle betrokke sou wees by die moord van Johan Heyns nie. Hy was tog die moderator van die NG Kerk se algemene sinode en ook die voorsitter van die Broederbond. Nee, ek dink nie hulle sou dit doen nie.”
“Leona, bring weer daardie mes wat ons by die eiland gekry het, asseblief.”
Leona loop laai toe en haal die voorwerp uit. Dis steeds ‘n mooi-gemaakte mes, met pragtige afwerking, ten spyte van die feit dat dit in ‘n moord of moorde gebruik is. Skeer haal weer die grepe af en kyk lank en aandagtig na die merke op die staal onder die hef.
“’n Driehoek, wat onderverdeel is in drie driehoeke en die binnekant maak dan ‘n heksagon uit. En hier, sowat tien millimeter onder dit, lyk dit soos ‘n monogram van iets of iemand.”
Die merke is nie baie duidelik nie en dis moontlik vanweë die feit dat dit aangebring is nadat die mes klaar vervaardig is. Die lem is harder getemper as die hef, maar die hef is steeds hard genoeg dat dit nie sommer maklik gemerk kan word nie, behalwe deur ‘n baie harde pons of ‘n elektriese graveermasjien.
‘n Pons op ‘n harde oppervlak is geneig om sekere kante dieper as ander te slaan en is daarom nie eweredig nie. Die een kant sal diep wees en die ander vlak. Hierdie lyk redelik ewe diep en duidelik. As Skeer met die klein flitsie van sy selfoon kyk, kan hy nou die aaneengeskakelde stippeltjies van so ‘n masjien sien. Wie dit ookal gedoen het, moes ‘n baie stewige hand gehad het en stadig en deeglik te werk gegaan het. Nogtans kan hy mettertyd die monogram uitmaak.
“Wat sien jy?” vra Priester nuuskierig.
“Dis inderdaad een van die Broederbond se simbole, die driehoek, maar onder dit is twee letters inmekaar verweef. Ek kan dit nie mooi uitmaak nie.”
Skeer vryf sy oë.
“Gee dat ek sien.”
Leona vat die mes, neem ‘n foto met haar selfoon en vergroot dit dan.
“Ek is redelik seker dis ‘n ‘M’ en ‘n ‘D’.”
“Dit kan wees.”
“So, ons soek dalk vir iemand wie se voorletters ‘MD’ is?”
“Of ‘n organisasie daarmee.”
“Kom ons gaan terug na dit wat ons weet. Ons kan met redelike beslistheid sê Lang Hendrik was feitlik oral betrokke, selfs op die moord van Verwoerd, Smit, Heyns, Biko en moontlik Turner. As ek reg is, gaan ons nog lyke uitkrap. Ons weet dat BOSS die eiland RAUTEM in die Vaaldam gebruik het. As ons nog onseker was, sou die aanval van die manne op die boot ons anders oortuig. Ons weet dat die aktetasse van Smit, Verwoerd en Heyns soek is. Ons weet iemand het ons hier kom probeer vermoor. Ons het die rewolwer, pistool en messe. Ons weet Skeer is in ‘n lokval gelei in Springs.”
“Ons het hierdie lêers wat die kommissaris gebring het”.
“Ek wed jou daar is niks in wat ons nie of reeds weet nie, of dat dit alles onvolledige spekulasie is, maar niks feite of bewyse nie. Die huidige regering sou lankal genoeg daarvan openbaar gemaak het om weereens die ou apartheidskoei uit te grawe en te melk vir propaganda.”
“Wat weet ons van die MacMillan?”
“Geen reeksnommers op nie.”
“En ook nie op enige van die ander wapens wat ons gebuit het nie.”
“Wat van die Land Cruiser?”
“Nie ‘n VIN-nommer of nommers op die enjin nie. Natuurlik is die nommerplate vals. Dit behoort aan ‘n taxi.”
“Jy kan nie elke nommer van ‘n voertuig afhaal nie. Daar moet iewers een wees. Ons moet net soek.”
(RAUTEM)